Suzanne Hattingh (28)
Apteker, Jacobsbaai
Baie ander mense het begin oefen en piesangbrood bak tydens die covid-19-inperking. Maar nie Suzanne nie. Sy het verwoed begin blokraaie invul.
“Toe het die blokraaigogga ons net gebyt en ons het so baie blokkiesraaisels daai week van vakansie gedoen en net nie opgehou nie. Ons het daai Huisgenoot-blokraaiboeke gekoop wat net so vol blokkiesraaisels is en ek dink ons is op ons vierde een,” vertel sy.
Suzanne is ’n apteker van Vredenburg, en sy was al sedert haar kinderdae gefassineer met blokraaie en het gereeld gekyk hoe haar ouma die blokraaie invul.
Sy meen dat blokraaie ’n uitstekende manier is om haar woordeskat te verbreed en dat dit haar net nog liewer vir Afrikaans maak.
“Die ander ding is, dit daag my uit en help my om ’n bietjie buite die boks te dink, want partykeer is dit homofone of homonieme. Dit is vir my lekker om uitgedaag te word,” sê Suzanne.
Haar kêrel vul saam met haar blokraaie in, en wanneer haar ouers kom kuier, gaan sit almal saam om die tafel met ’n glas rooiwyn en ’n blokraai.
Recardo August (42)
Werksaam by Laerskool Rietenbosch, Jamestown
Recardo August kyk al sedert hy ’n klein seuntjie was met sterre in sy oë na hoe sy oom blokraaie invul.
“My oom het altyd die blokkiesraaisels in Rapport ingevul. Ek mag dit natuurlik nie saam ingevul het nie, maar ek het altyd ná die tyd daarna gekyk en saam ingevul,” vertel Recardo.
Hy het net ’n vinnige blik op die voltooide blokkiesraaisel gekry, maar hy het geweet hy wil ook eendag blokraaisels invul, sê hy.
“Ek is só mal oor blokkiesraaisels. Dis op my foon; dis oral.”
Blokraaie is nie nét ’n manier om sy woordeskat uit te brei nie; dit verbreed ook sy kennis en kweek ’n liefde vir Afrikaans, sê Recardo.
Hy is so versot op blokraaie dat hy kopieë maak van die Huisgenoot-blokraaiboeke se raaisels sodat hy dit oor drie maande wéér kan invul.
“Ek hou ook al die blokraaie wat ek invul; my vrou het al gesê ons moet dit weggooi, maar ek kan dit nie oor my hart kry nie,” voeg Recardo by.
Een van sy gunstelingaspekte van Huisgenoot Blokraaibestes was om te sien hoe die program mense bymekaarbring danksy 'n gemeenskaplike liefde vir Afrikaans.
Marita Koen (57)
Tuisteskepper, Kuilsrivier
Marita Koen het met die aanvang van die covid-19-inperking begin om blokraaie in te vul, en sedertdien kon sy nie ophou nie.
Sy het voorheen as tandtegnikus gewerk waar sy en haar man in die Vrystaat gebly het. Hulle het nét voor die vlak 5-inperking Kaapstad toe getrek. Blokraaie het toe haar gunstelingtydverdryf geword en sy leer voortdurend nuwe woorde, vertel Marita.
“As tandtegnikus kom jy nie tussen baie mense nie en jy praat ook nie baie nie, so ’n mens verleer maar om taal en nuwe woorde te leer. Met die blokraaie is daar nuwe woorde wat ’n ou kan leer,” sê sy.
Sy geniet die digitale blokraaie die meeste, en haar strategie is om aan die een kant van die blokraai te begin en hom van ’n kant af te voltooi.
Met blokraaie het Marita al geleer dat spookasem ook “engeldons” genoem word, en dat ’n haarskeerder ’n jagspinnekop is.
“Ek kan nie wag dat Huisgenoot uitkom nie omdat ek elke week só uitsien na die blokraaie,” sê sy.
Die eerste twee seisoene bestaan uit 13 episodes elk: nege uitdunne, drie mededingende halfeindrondes en ’n spannende eindronde. Elke episode het drie deelnemers wat in drie rondes teen mekaar meeding.
Ronde 1: Gonserronde
In dié ronde vul die drie deelnemers onder groot tydsdruk saam ’n blokraai op die grootskerm in.
Die aanbieder lees die leidrade, en die deelnemer wat eerste sy gonser druk, mag die antwoord eerste gee. Vir elke korrekte antwoord kry ’n deelnemer 10 punte.
Ronde 2: Individuele ronde
Elke deelnemer vul onder tydsdruk sy eie blokraai op die grootskerm in. Dié blokraai sluit videoleidrade in. Vir elke korrekte antwoord wat betyds gegee word, kry die deelnemer 10 punte.
Die deelnemer met die minste punte groet; die twee deelnemers met die meeste punte dring deur na ronde 3.
Ronde 3: Die eindronde
Die twee oorblywende deelnemers begin dié ronde op gelyke voet. Albei kry hul eie blokraai om op hul eie in te vul terwyl die stophorlosie die sekondes aftik – maar dis dieselfde raaisel!
Die wenner? Die deelnemer wat die blokraai eerste korrek invul of die deelnemer met die meeste korrekte letters nadat die tyd verstreke is.
Die opgang na die eindstryd
Dié wenner dring dan deur na die halfeindronde in ’n volgende episode, of eindelik na die eindstryd. En in die eindstryd pak die reeks se topdriedeelnemers mekaar in hul stryd om gekroon te word as Huisgenoot se blokraaibeste.
- ‘Huisgenoot Blokraaibestes’ word Maandae om 20:00 op VIA (kanaal 147 op DStv) uitgesaai. Herhalings is Vrydae om 22:30 en Sondae om 11:00.
- Lus vir nog blokraaie? Besoek Huisgenoot Raaisels om blokraaie, woordsoeke, koderaaisels en sudoku aanlyn in te vul.