En as jou kroos aanhangers van dié outjies is, ken hulle waarskynlik ook die byna nimmereindigende verhoudings tussen karakters: Rockruff word Lycanroc, Riolu word Lucario, Caterpie word Metapod, en hy word weer Butterfree. Dit klink dalk na brabbeltaal as die wêreld van Pokémon aan jou onbekend is – maar dis ’n versameling geliefde vriende onder die volgelinge van dié verbeeldingsvlug.
Die fenomeen se saadjie het in 1996 ontkiem as twee videospeletjies vir Nintendo se Game Boy. Maar in die afgelope 26 jaar het die Japannese video speletjie-ontwikkelaar Satoshi Tajiri se skeppings ontwikkel in een van die wins gewendste media-franchiseondernemings ter wêreld. Video- en interaktiewe speletjies, ruilkaarte, TV-reekse, flieks, boeke, ’n bordspeletjie, ’n pretpark: Noem maar op en Pokémon het dit.
In Augustus vanjaar is die Pokémon-wêreldkampioenskapsbyeenkoms weer in Londen aangebied nadat die pandemie twee jaar lank ’n stokkie voor dié gebeurtenis gesteek het.