Al doen jy jou bes om dinge in jou lewe te bestuur, sal daar altyd gebeure wees wat ’n mens laat voel jy verloor beheer. Dis nie die ergste ding wat kan gebeur nie, want verandering is deel van die lewe wat hanteer moet word, of jy daarvan hou of nie.
Dit is ’n week van verandering, sommige onverwags en uit die bloute, maar alles dien die doel om jou uit ’n groef te kry. Probeer om oopkop daaroor te wees.
Jou werkomgewing kan tans vir jou verganklik voel, veral as jy meer as jou normale deel van die omwentelings moet verduur. Moenie jou te veel daaroor bekommer nie, maar jy en jou geliefde kan dit wel oorweeg om ’n plan B in werking te stel vir ingeval. Jy hoef dit nie te deel nie – hoe minder mense weet, hoe beter. Ander mense kan jou dalk daarvan beskuldig dat jy paranoïes is, terwyl jy eintlik net voorbereid is.