5 dinge wat jy moet weet oor Arendsvlei se eerste troue

akkreditasie
Arendsvlei hou die week sy heel eerste troue. Foto's: Penguin Films
Arendsvlei hou die week sy heel eerste troue. Foto's: Penguin Films
Die telenovelle Arendsvlei het gisteraand sy heel eerste troue gehou sedert dit in Oktober 2018 vir die eerste keer op die kassie verskyn het.

Natuurlik het die Arendsvleiers groot gegaan en was almal van kop tot toon uitgevat. 

Hier is vyf dinge wat jy moet weet oor Ronel Foster (Melanie du Bois) en Thys Cupido (Sherman Pharo) se groot dag. 

1. LEE-ROY SING OP SY MA SE TROUE

Die jong akteur Roberto Kyle, wat onlangs met ’n Safta bekroon is vir sy rol as Lee-Roy Foster in Arendsvlei, het binne ’n dag ’n liedjie genaamd "Nuwe pad" vir sy TV-ma, Ronel, se troue geskryf. Hy het dit Dinsdagaand by die seremonie gesing. 

“Die liedjie praat oor hoe mense deur moeilike tye soms die beste tye van jou lewe kan vind – en ’n pad saam met nuwe mense,” sê Roberto oor die liedjie. 

Die akteur het vyf jaar lank musikale opleding by die Frank Pietersen Music Centre in die Paarl ontvang. 

“Ek het dit uit my hart gedoen en was net bly om weer te kan sing,” vertel hy opgewonde.

2. ’N ONGENOOIDE GAS MAAK SY VERSKYNING

Ronel wou glad nie hê haar pa, Godfrey Martin (Chris van Niekerk), moet haar troue bywoon nie. Die twee het byna twee dekades lank nie met mekaar gepraat nie en sy het hom kort voor haar troudag laat weet hy beter nie sy voete daar sit nie. 

Al weet Thys hoe Ronel oor die knorrige ou man voel, het hy steeds sy goedkeuring gevra voor hy met sy dogter getrou het. 

Godfrey het dit duidelik gemaak dat Thys hom nie verder moet pla nie, maar tot almal se verbasing het Godfrey wel die troue bygewoon.

3. DIE TROUROK

Ronel se pragtige trourok is deur die Kaapse ontwerper Valencia Harrison verskaf. 

Dis vir Valencia ’n groot eer dat kykers nou een van haar skeppings op televisie kan sien. 

arendsvlei,troue
Lionel (Jody Abrahams), Lee-Roy (Roberto Kyle) en Thys (Sherman Pharo). Foto: Penguin Films

Melanie vertel sy het absoluut beeldskoon gevoel in die rok. “Ek is gewoonlik ’n jeans-en-Crocs-tipe-vrou, maar Valencia se rok het my vroulik, sag en pragtig laat voel,” vertel die aktrise. 

4. DIE TROULOKAAL

Dit mag dalk vir kykers lyk asof die hoërskool-onnies Thys en Ronel se troue by ’n deftige hotel gehou is, maar dis eintlik by die tegniese skool Axios in Eersterivier in Kaapstad verfilm kort voor die inperking in werking getree het. Dis ook hier waar die telenovelle verfilm word. 

arendsvlei,troue
Die troue is by die tegniese skool, Axios in Eersterivier verfilm. Foto: Penguin Films
arendsvlei,troue
Foto: Penguin Films

Beatrix van Zyl-Basson, die hoof van Arendsvlei se kunsdepartement, het alles beplan en selfs die leerders van die skool ingespan om te help met die dekor van die skoolsaal en die kapel waar die troue plaasgevind het. 

arendsvlei,troue
Leerders van Axios het gehelp met die dekor. Foto: Penguin Films

5. WAT GEBEUR NOU MET ARME BEATRICE? 

Soos kykers weet, moes Arendsvlei aanvanklik ’n dubbele troue gehad het, maar tot almal se verbasing het Hamilton Wolfe (Kevin Smith) vir die skoolhoof Beatrice Abrahams (Jolene Martin) ’n dag voor hul troue gelos. 

Hy is toe sak en pak uit Arendsvlei na Johannesburg met sy eksvrou Olivia Wolfe (Kim Cloete). 

arendsvlei,troue
Die Arendsvleiers was behoorlik uitgevat. Foto: Penguin Films

’n Gebroke Beatrice moes gisteraand toekyk hoe haar broer en beste vriendin ewige trou aan mekaar beloof. 

Kykers hoef egter nie bekommerd te wees nie, want Beatrice gaan beslis nie in sak en as gaan sit nie. Sy kom terug met ’n knal!

  • Arendsvlei is van Maandag tot Woensdag om 20:00 op kykNET & kie (DStv-kanaal 145) te sien. 
Jongste uitgawe

21 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees