Die nuwe seisoen van dié gewilde sepie beloof om vir baie opwinding te sorg.
“Ons werk hard daaraan om tydens elke seisoen van Binnelanders met vars stories vorendag te kom; stories met hulle eiesoortige kinkels en kabels,” sê Elsje Stark, vervaardiger van Binnelanders.
Hier is ’n paar dinge wat jy na kan uitsien in die 11de seisoen wat op Maandag 7 Junie op kykNET afskop.
Nuwe gesigte van Binnelanders
“Die wye verskeidenheid talent wat kom gesig wys is ‘n opwindende aspek van die nuwe reeks,” sê Elsje.
In Junie kom Ruan en Vicky se ouma Helena (Ronèl Kriel) besoek aflê. Kort op haar hakke volg haar seun George (Tian Rautenbach). Ook nie lank nie, of sy vroulief Nellie (Beáte Opperman) daag ook op – en dan begin die poppe behoorlik dans.
Die Ferreiras kry nuwe bure – studente. Hulle gaan hul hande vol hê om Rex (Jacques Adriaanse), die mooie Chrisna (Liza du Plessis) en Wayne (Garion Dowds) se voortvarendheid te demp, met katastrofiese gevolge.
Elise kom maak weer ’n draai
Elsje verklap dat die geliefde karakter Elise (Lindie Stander) weer ’n draai in Binnelanders gaan maak as sy ’n “lekker nuwe job” losslaan by sakeman Mike Vorster (Sean Brebnor).
Geen pandemie by Binneland nie
Volgens Elsje gaan hulle nie die huidige pandemie wat die wêreld lam lê in die sepie inwerk nie.
“Ons beplan geen storielyne wat die pandemie direk of indirek aanspreek in die nuwe seisoen nie.
“Ons griepvirus-storie wat in Junie 2020 uitgesaai is, is reeds in November 2019 gekonseptualiseer en geskryf, lank voor daar sprake van die coronavirus was. Dit het bloot toevallig so uitgewerk dat ons virus-storie tydens die pandemie uitgesaai is.”
’n Blitstroue en ’n reeksmoordenaar?
Elsje sê daar wag groot opwinding in die nuwe seisoen en ’n klomp kinkels.
“Al beplan ons nie iets oor die pandemie nie, is daar ’n blitstroue en ’n reeksmoordenaar wat vir seker vir opwinding sal sorg.”
’n Nuwe hartebreker
“Nuwe locum dr. Uys Wagner (Gerald Steyn) gaan vir seker meer as een hart verower,” sê Elsje.
Gerald is veral bekend vir sy rol as Lourens le Riche in die mini-reeks Trackers wat op M-Net gewys het. Hy was ook onlangs in die M-Net-dramareeks Lioness te sien.
- Die nuwe seisoen van Binnelanders begin Maandag, 7 Junie om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144). Kykers word aangeraai om hulle PVRs vroegtydig in te stel ten einde nie 'n enkele sekonde van dié daaglikse drama te mis nie.