Eers het die top-5-boere alleen saam met mekaar in een van die vele lokale gekuier. Daar is oor en weer briewe en foto’s vir mekaar gewys en goediglik kommentaar gelewer op mekaar se gekose 10 moontlike pasmaats.
In 'n ander lokaal het die 50 belangstellendes gewag dat elkeen hul beurt kry om die boer van hul keuse vir 'n 5-minuut-afspraak te ontmoet. Vyf minute mag dalk kort wees, maar dit is vyf minute wat dalk net iemand se lewe kan verander!
Sandri, wat opgedaag het om vir boer Hentie (51), 'n rooibosteeboer van Clanwilliam in die Wes-Kaap, te ontmoet, sê wat haar die eerste van hom opgeval het, is toe hy gesê het hy “is bleddie goed met domestics”.
Eerste indrukke tel immers!
'n Baie opgewonde Christo, wat belangstel in boer Damian (37), sê “dit is nie aldag dat daar 'n boer op die mark is nie, en dit nog op die TV ook; dit is sommer twee vlieë met een klap!”
En was die einste boer Damian op sy senuwees voor die blitsafsprake sou begin? “Jong, jy lieg nou glad nie daar nie, jy praat waar!” sê hy toe Huisgenoot hom hieroor uitvra.
Damian, wat in Bapsfontein, Gauteng, met beeste en skape boer en boonop die meeste briewe van al die deelnemers gekry het, erken as hy die blitsafspraak-episode moes oordoen, hy "vooraf meer daaraan sou gewerk het" om op sy gemak te voel.
En hy was omtrent beïndruk met die briewe wat hy gekry het. Oor een brief sê hy: "Die man skryf so mooi soos 'n printer".
Boer Graham wat in die Cradock-distrik in die Oos-Kaap met beeste en skape boer, sê aan Huisgenoot 'n mens “is mos altyd op jou senuwees as jy vreemde mense ontmoet”.
“Soveel te meer as dit 10 vreemde meisies is!”
Maar Graham voel nadat hy met die eerste drie meisies gesels het, het dit beter gegaan en was hy meer op sy gemak.
Hy het ook glad nie die blitsafsprake aangedurf met 'n klomp voorafbeplande vrae in sy sak nie, verduidelik hy. “My idee was om net in te gaan en lekker met elkeen te gesels.”
Graham is ook die een wat kykers geleer ken het as die boer wat so maklik bloos. Gaan dit dalk juis daardie einste bloos wees wat een van die briefskrywers se hart gaan vermurwe?
- Boer Damian kuier hierdie Sondag om 18:00 op die Kwêla-bank saam met Hannes van Wyk.