Boer soek ’n vrou: Boere praat ná nog ’n groot skok

akkreditasie
Gereelde kykers van kykNET se maatsoekreeks Boer soek ’n vrou, was in verlede week se episode net so onkant as Boer Hentie betrap toe een van sy twee kuiermaats, Hester, hom onverwags inlig dat sy nie meer belangstel om langer op die plaas te bly en deel van die reeks te wees nie. Maar niemand kon hulle voorberei op die dramatiese voorval wat in vanaand se episode ontvou het nie . . .

Boer Theunis, die teruggetrokke  druiweboer van De Doorns, moes vanaand sy finale keuse tussen Renette en Marcia maak. ’n Moeilike besluit, want hy het immers al van te vore ’n stel of twee afgetrap as dit by die liefde kom.

Terwyl sy twee kuiergaste voor hom staan, vra hy vir Marcia of sy nog langer op die plaas sal bly.

Die donkerkop huiwer. ’n Mens kan die twyfel in haar oë sien.

Dan antwoord sy: “My hart wil ja sê, maar daar is onsekerheid in my. Ek is jammer.”

Theunis is hierdeur ooglopend onkant betrap. “Hmm . . . oukei . . .”, is al wat hy verbaas kon uitkry.

En al wat oorbly is vir Leah, die aanbieder, om die twee meisies so gou as moontlik uit die huis te kry om die plaas te verlaat.

Daardie selfde oggend nog het Renette en Marcia heel uitbundig saam met Theunis sy hond, Elmo, op die stoep in ’n sinkbad gebad.

Hentie en Hantie gesels met Leah.
Hentie en Hantie gesels met Leah.

“Dit is baie sad,” het Renette daarna gesê. “Ek wil hom nie net een keer bad en dan is dit nou dit en verby nie. Theunis-hulle is almal goeie mense en dit is enitlik nog die oulikste hond wat ek ooit nog gesien het. Maar as hy twyfel, moet hy my nie kies nie.”

Boer Willem het vir Sanel gekies waarna Leah die tweede gas, Carissa, wegneem. Willem en Sanel het sprakeloos na mekaar gestaar totdat hy later wou weet “moet ons nou net so hier staan”?

En toe omhels die twee mekaar. Sy sê hy het die wind uit haar seile geneem. “Ek het dit totaal nie verwag nie”.

In die Babsfontein-distrik het Boer Damian vir Andrew gekies terwyl Ivan sy tasse moes pak.  


Andrew vertel sy “emosionele inkoop in hierdie situasie” is groot. “Dit het mos ook maar gegroei deur die week.”

Hy erken hy “wil die lewe saam met Damian doen en saam met hom onder die sterre lê”.

Ivan pak sy tasse.
Ivan pak sy tasse.

Die vriendelike boer van die Oos-Kaap, Graham, moes tussen Ilne en Nikola kies.

Nikola het voor die tyd erken sy is nie 100 persent seker dat hy haar gaan kies nie, maar sou sy bly, “sal dit interessant wees om hom beter te leer ken”.

Graham se keuse het toe op Ilne geval.

Graham en Ilne in ‘n uitbundige bui nadat hy haar
Graham en Ilne in ‘n uitbundige bui nadat hy haar gekies het.

Só voel die boere nou:

Willem: “Ek is baie kompleks, maar ek is darem nou nie iets wat niemand kan hanteer nie. Jy moet net weet hoe om my te hanteer! Oor ’n verhouding: Ek het nog altyd my kop gebruik en die logieser kant daarvan  probeer sien. My resep is 70% kop en 30% hart. Ek is kinderlik opgewonde om te sien waarheen dié ding nou gaan.”

Damian: “My droomprentjie is ’n gelukkige, lang lewe; ’n suksesvolle boerdery; en iemand wat so gemaklik is dat my lewe hulle soos ’n handskoen pas.”

Theunis: “Nee, ek het dit nie verwag nie. Dit voel nie so lekker nie. Jy voel maar so ’n stukkie rou binne jou. Maar vir die res van my lewe sal hierdie ervaring iets wees om na terug te kyk en te onthou. Dit is ’n jaar wat uitstaan, want dit is die jaar wat ek myself uitgesit het en ’n kans gevat het. So, dit sal beslis ’n goeie memory wees.”

Graham: “Ek is nog nie kop oor ore, of ore oor kop, verlief nie, maar ek hou baie van dit wat ek sien. Ek sal weet wanneer die tyd reg is om my gevoelens te deel. Ek dink nie verliefdheid is ’n besluit nie. Dit is soos ’n stormwind wat net hier oorwaai en hy’s daar. As dit verby is, is dit ’n gee en neem. Dit is elke dag ’n positiewe opoffering om na uit te sien. En ek wil asseblief tog net nie alleen oud word nie!”

Hentie: “Ek moet eerlik wees ek is bly dit het gebeur, toe Hester besluit het om te groet, want ek sou ’n oordeelsfout begaan het. En dit het ek na verlede week vir Hantie gesê. Op grond van die een-tot-een gesprekke wat ons gehad het, sou ek vir Hester gekies het. Ek het net die gevoel gekry sy sou makliker op die plaas aanpas, want dit is wat sy vir my gesê het. Sy is mal oor die plek en mal oor die plaas. Nie dat Hantie dit nie is nie, ek het net meer van dit by Hester ervaar. Maar Hester het die besluit namens ons geneem, en ek is dankbaar daarvoor.”

Jongste uitgawe

27 Januarie 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees