Boer soek ’n vrou: Dís hoekom Leah bly is sy was nie daar nie

akkreditasie
Ja, daar is dalk niemand huis toe gestuur in dié episode nie, maar soos 'Boer soek ’n vrou' se aanbieder, Leah, plegtig aan die begin van die episode verduidelik: “Vandag se uitstappie is nie net ’n bederf nie; dit kan dalk net ’n voorsmakie wees van wat die toekoms inhou.”

Van boer Graham se bangmaakspookstories tot boer Hentie wat voor die vroue van sy perd afgeval het: Die boere en gaste het mekaar behoorlik beter leer ken.

“Dis baie goed dat die mense mekaar kan leer ken sonder dat ek heeltyd daar is, want soms verbind hulle my op die plaas met die uitstemdag of met die onderhoude,” vertel Leah aan Huisgenoot

Boer soek ’n vrou
Willem se pasmaats het vir hom vellies gemaak.

“Ek dink ’n dag af, alleen op die plaas, is regtig goed vir die boere en hul pasmaats,” voeg sy by oor vanaand se episode.

Die boere het ’n verskeidenheid aktiwiteite met hul pasmaats geniet. Hentie en sy pasmaats het gaan perdry, Graham het saam met die vroue leer botter maak en brood bak, Theunis-hulle het ’n reuse-staptog aangepak, Willem se pasmaats het vir hom vellies gemaak en Damian en sy manne het leer kleiduifskiet.

Boer soek ’n vrou
Damian en sy manne het leer kleiduifskiet.

“Een van die oulikste idees vir ’n aktiwiteit was Willem wat later vir die vroue die vurkhyser leer bestuur het,” vertel Leah. “Kyk, ek moes dié jaar net so baie masjinerie leer bestuur het, so ek dink dis ’n goeie ding dat die pasmaats ook sommer so ’n bietjie moes deurloop,” sê sy.

Leah sê Hentie het haar ’n paar keer beïndruk nadat hy homself seergemaak het. “Hy het dit baie professioneel hanteer toe hy van die perd afgeval het en het nooit daaroor gekla nie. Hy het die pyn soos ’n man gevat,” vertel sy en lag.

Omdat sy nie altyd so gereeld op die plase kan inloer nie, is Leah een van Boer soek ’n vrou se getroue kykers. Sy kon tot dusver elke episode op ’n Donderdagaand saam met vriende kyk en sê dit bly ’n nostalgiese rit.

Boer soek ’n vrou
Theunis-hulle het ’n reuse-staptog aangepak.

“Jy gaan weer deur al die emosies; jy deel dit met die mense rondom jou,” vertel Leah. “Ons sal heeltyd tussendeur pause en dan gesels ek eers oor die mense en gebeure.”

Leah se vriende hoor ook van al die staaltjies wat agter die skerms gebeur het, of dit nou die hommeltuig is wat eenkeer byna in die lug weggeraak het tot die sproeiers wat die perfekte skoot belemmer het. Sy onthou hoe sy die eerste keer op Willem se plaas twee rooibosteeplante per ongeluk uitgetrek het. Of toe Graham vir haar uit een van sy geskenke ’n lekkertjie aanbied en sy vyf minute lank nie kon praat nie terwyl sy “die taaiste lekkertjie” moes probeer afsluk.

En sy kan ook nou natuurlik goed sien wat sy net later by die boere gehoor het.

“Dit was baie snaaks om te sien hoe die koei op Graham se plaas so ’n bietjie maagwerkings gehad het. Hulle het vir my daarvan vertel, maar ek het dit nie self gesien nie,” sê sy. “Dit was nie net ’n ervaring op die plaas nie, maar ook sommer nou om te sien hoe alles op TV uitspeel.”

Volgende week sal een van elke boer se pasmaats die plaas moet verlaat, en Leah raak bewoë wanneer sy daaraan dink. Die vrolike staaltjies maak plek vir melancholie. “My taak is om daar te wees om die boere en hul pasmaats te steun wanneer iemand uitgestem word. Dis altyd vir my hartseer as ek ná die tyd met die uitgestemde een moet gesels,” vertel sy.

Boer soek ’n vrou
Hentie en sy pasmaats het gaan perdry.

“Dis nie lekker nie, want jy stap ’n pad saam met die mense en julle raak vriende,” sê Leah.

Tog is dit vir haar lekker om te sien hoe die pasmaats ál gemakliker raak tydens hul kuier op die plaas. “Ek het die mense agter die skerms ook leer ken. Dit was vir my wonderlik om te sien dat wie hulle op die kassie is, dieselfde mense is wanneer die kameras nie verfilm nie. 

“Ek dink dis hoekom dit so 'n suksesvolle program is, want die mense is net hulself,” sê sy.

Jongste uitgawe

3 Februarie 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees