‘Boer soek ’n vrou’: Hier’s van die boere wat tonge die meeste laat klap het

akkreditasie
Nadat die 13de seisoen van kykNET se maatsoekreeks 'Boer soek ’n vrou' verlede jaar weens die Covid-19-pandemie uitgestel moes word, kon kykers eindelik vanaand voor die kassie inskuif vir die begin van die nuwe seisoen. Die nuwe aanbieder, Marciel Hopkins, het die 10 hubare boere leer ken.
Die 13de seisoen van Boer soek ’n vrou is eindelik
Die 13de seisoen van Boer soek ’n vrou is eindelik hier. In hierdie episode leer die nuwe aanbieder, Marciel Hopkins, die boere ’n bietjie beter ken. Foto: kykNET

Langer as ’n dekade al neem die liefdesreise van die top-5-boere kykers op ’n wipwarit van emosies. Wie gaan in volgende week se episode as die top-5 van die 2021-seisoen aangewys word? En wie van hierdie boere gaan kykers se hart vermurwe of dalk warm onder die kraag laat? Net die tyd sal leer.

In onlangse seisoene was dit veral die boere Toanette, Damian, Graham, Johan en Jan wat die tonge laat klap het.

Boer Toanette

Sy was die eerste vroulike boer wat die top-5 gehaal het en die kykers was dadelik gaande oor haar.

Tydens die 11de seisoen in 2018 was Toanette Els eers met Nardus van Wyk, haar eerste keuse van die seisoen, in ’n warrelwindverhouding van agt maande.

Dié verhouding het die kykers aangegryp en was een van die suksesverhale van die maatsoekprogram daardie jaar. 

Toanette Els en haar verloofde, Henri Rudling.
Toanette Els en haar verloofde, Henri Rudling. Foto: Verskaf.

Toe raak sy en Adriaan Koch, ook ’n deelnemer, ’n paartjie, maar dié bootjie wou ook nie vaar nie.

Daarna het sy vir Henri Rudling in 2019 in Middelburg, Mpumalanga, ontmoet wat in Oktober daardie jaar ’n verloofring aan haar vinger gesteek het.  

Sy het in April verlede jaar bekend gemaak dat sy 27 weke swanger is met ’n dogtertjie, Liané.

Dié bondeltjie vreugde het op 10 Julie 2020 haar opwagting gemaak en is al ses maande oud.

“Ek en Henri is steeds verloof en beplan om hierdie jaar te trou. Met Liané het ons die verlowing net ’n bietjie verleng,” vertel Toanette aan Huisgenoot.

Boer Damian

Hierdie boer van Bapsfontein in Gauteng het in 2019 in die 12de seisoen behoorlik die land aan die gons gehad toe hy die eerste gay boer word wat vir die reeks ingeskryf het.

Hy het in daardie seisoen ook die meeste briewe gekry.

Boer Damian is mal daaroor om die trekklavier te s
Boer Damian is mal daaroor om die trekklavier te speel. Foto: Luba Lesolle.

Damian Engelbrecht se finale keuse was Andrew, wat hom toe na die “ontmoet die skoonouers”-geselligheid in die Wes-Kaap genooi het. Maar Kupido het sy pyltjies mis geskiet en Damian het alleen by die reünie-naweek opgedaag.

En is daar nou al iemand spesiaals in sy lewe?

“Nog nie, maar die hoop beskaam nie,” vertel Damian en lag.

Damian het (van links) Andrew, Arno en Ivan genooi
Damian het (van links) Andrew, Arno en Ivan genooi om by hom op die plaas te kom kuier. Foto: kykNET.

Boer Johan

Dié boer van Carolina in Mpumalanga het die tonge in 2017 in die 10de seisoen laat klap. Giftonge het hom ook gou in die sosiale media as die mees omstrede boer in die land gebrandmerk. Johan Uys is ook erg gekritiseer omdat hy te maklik voor die kameras ’n traan of twee gestort het. 

Marita Schoombie en Johan se paadjies het ook gesk
Marita Schoombie en Johan se paadjies het ook geskei. Foto: Rowyn Lombard.

Sy finale keuse was die lenige Marilyn van Droogenbroeck, maar hierdie romanse was van korte duur en hy moes op sy eie die reünie-naweek deurbring.

Kort daarna het hy wel liefde gevind by Marita Schoombie, die eerste vrou wat hy uitgestem het. Maar ook dit het nie gehou nie en die verhouding is ná vyf maande in Maart 2018 beëindig.

Marilyn van Droogenbroeck. Foto: Instagram.
Marilyn van Droogenbroeck. Foto: Instagram.

Boer Graham

Graham in die melkstal op die plaas. Foto: Fani Ma
Graham in die melkstal op die plaas. Foto: Fani Mahuntsi

Hy en Ilne Prinsloo, die vrou wat hy in die 12de seisoen in 2019 gekies het, was sommer gou een van Boer soek ’n vrou se gunstelingpaartjies. Tydens daardie seisoen se reünie-naweek was dit ook duidelik dat die twee nog baie verlief is.

Maar Graham Lombard, ’n melk- en beesboer van Cradock in die Oos-Kaap, en sy studentemeisie van Potchefstroom se paadjies het in Februarie 2020 uitmekaar geloop. Sy het in Desember verlede jaar verloof geraak aan Wianco Blom, ’n ou kennis van haar van Lichtenburg in Noordwes en in Januarie vanjaar het die twee ewige trou aan mekaar beloof.

Graham het ook intussen ’n nuwe liefde gevind en is baie gelukkig. “Ek het ’n meisie, Gerda, en ons kuier al ’n hele rukkie saam,” vertel hy van die vrou wat in Pretoria bly. Meer wil hy nie nou verklap nie.

“Dit gaan ook nog goed op die plaas op die oomblik. Dit is net droog hier by ons,” voeg hy by.

Boer Jan

In 2013 tydens die sesde seisoen het hierdie aartappelboer van Lambertsbaai aan die Weskus kykers erg omgekrap. In die sosiale media is Jan Nieuwoudt sommer gou as ’n “boelie” en “chauvinis” toegesnou.

Boer Jan en sy nooi, Paulette van Lill.
Boer Jan en Paulette van Lill. Foto: Corrie Hansen.

In een van die episodes het hy een van sy vrouegaste beveel om “nie ’n haardroër te gebruik nie, want ek sal jou vloek”.

Glaudien, een van die deelnemers, het verby sy flaters gekyk en die twee is kort daarna getroud. Maar die huwelik het in Augustus 2017 in die skeihof beland ná ’n huwelik van drie jaar.

In Desember daardie jaar was Paulette de Lill die nuwe vrou in sy lewe.

  • Boer soek ’n vrou word op Donderdae om 20:00 op kykNET (kanaal 144) uitgesaai. 
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe

Jongste uitgawe

21 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees