Die nuwe oes deelnemers se ouderdomme wissel tussen 26 en 50, en hulle kom van ses verskillende provinsies. Daar is ook weer een vroulike boer onder die top-10-boere.
Marciel Hopkins is vir die derde keer die aanbieder van die reeks. TV-kykers sal die liefdesreis van die vyf boere wat die meeste briewe ontvang, vanaf Januarie 2023 op kykNET kan volg.
Hier is die 10 boere wie se liefdesreis kykers in seisoen 15 gaan volg:
Kotie (43) van Harrismith in die Vrystaat
Kotie het 'n saai- en beesboerdery. Hy soek ’n vrou wat liefde uitstraal en ’n lus vir die lewe het, vertel Kotie.
Hy sal haar graag met sonsopkoms na ’n mooi uitkykpunt op die plaas wil vat om daar vir haar boerekoffie en ontbyt te maak.
Behalwe boer, geniet hy ook jag, fietsry en visvang.
David (31) van Augrabies in die Noord-Kaap
Die boer staan 2 m in sy sokkies. David boer met tafeldruiwe en sitrus.
Hy hou van gholf speel en om sosiaal saam met sy vriende te verkeer. Daarom sal sy ideale pasmaat ook ’n bok vir sports moet wees en van kuiers hou. En hy hou daarvan om die spesiale vrou in sy lewe te bederf, verklap hy.
Francois (50) van Oudtshoorn in die Wes-Kaap
Francois het 'n gemengde en volstruisboerdery. Hy is geskei en het ’n seun.
Hy versamel skaalmodelle en hou van toer en kampeer – natuurlik met ’n wyntjie en ’n karoo-skaaptjoppie byderhand.
En sy idee van ’n romantiese afspraak? ’n Couple massage, vonkelwyn en haar gunsteling-blomme.
Riaan (40) van Nigel in Gauteng
Dié saaiboer het sommer ’n rits belangstellings waarmee hy homself besig hou! Behalwe om te boer, hou hy van jag, fietsry, draf, swem, fotografie, restourasie van ou voertuie, visvang, motorfietsry, kamp en kosmaak. Ja, hy is nogal ’n bobaas kok, sê hy self.
Riaan was eers ‘n landboukundige, maar boer al die afgelope vyf jaar saam met sy pa en broer op die plaas.
Louis B (26) van Ottosdal in Noord-Wes
As jy hou van pizza, wyn en ’n mooi sonsondergang, dan is dié boer net die man vir jou. As jy van langarm-skoffel hou, sal dit natuurlik ’n bonus wees.
Louis B, wat 'n saai- en beesboerdery het, beskryf homself as ’n energieke mens met ’n diep kant.
Cherié (34) van Herbertsdale in die Wes-Kaap
Cherié het 'n gemengde en kleinveeboerdery. Haar belangstellings is Jesus, diere, die natuur, aktief wees en mense. In daardie volgorde, sê sy.
As haar pasmaat kan kook, kry hy ekstra punte, want sy kan net braai en soetpatats maak. Vir haar is ouderdom net ’n nommer, maar sy waarsku: Sy is ’n ektrovert en het geen filter nie, daarom sal ander altyd weet waar hulle met haar staan.
Hennie (35) van Moorreesburg in die Wes-Kaap
Hennie boer met graan en merinoskape. Hy het ’n M.Sc.-graad in finansiële bestuur agter sy naam. Hy hou van ’n vrou met ’n sagte hart, maar ook iemand wat standpunt kan inneem.
Geloof, kommunikasie en eerlikheid in ’n verhouding is vir hom belangrik, want met dié eienskappe kan ‘n mens enige iets aanpak, sê hy.
Louis M (26) van Mabula in Mpumalanga
As jou idee van ’n romantiese afspraak ’n piekniek op die maan is, dan is Louis M net die boer vir jou, want hy voel dieselfde!
Dié wildboer is op soek na ’n vriend en lewensmaat “wat die slegste dag beter kan maak en die moeilikste situasie makliker kan maak”.
Philru, (26) van Pertrus Steyn in die Vrystaat
Die beesboer vertel hy het ’n liefde vir sy beeste, sy honde en sy bakkie. Verder hou hy ook van rugby, krieket, tennis en gholf.
Philru was nog nooit in ’n lang verhouding gewees nie, want die regte een het net nog nooit sy pad gekruis nie, verduidelik hy.
Rampie (29) van Modderrivier in die Noord-Kaap
Rampie het 'n jagplaas waar hy met wild en boerbokke boer. Hy het ook ’n B.Com.-graad en nagraadse diplomas in finansiële- en boedelbeplanning. Hy glo twee pasmaats moet dieselfde oor mekaar voel, want as die een meer as die ander een voel, kan iemand seerkry.
- Op kykNET se webtuiste by www.kyknet.tv.
- Bel die vervaardigers, Wolflight, by 079 614 2229.
- Stuur ’n e-pos na boer@wolflightsa.com.
- Stuur pakkies en briewe na: Boer Soek ’n Vrou, Postnet 211, Privaatsak X15, Somerset-Wes, 7129.
Sluitingsdatum: 28 Julie 2022
- Moenie enige groot nuus misloop nie! Vir boeiende nuus oor bekendes en aangrypende mensestories, teken in by ‘Huisgenoot’ se daaglikse nuusbrief, “Huisgenoot Vandag”.
Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!