Dié keer pak hy nie oorsese roetes aan soos in die vorige seisoene toe hy die Camino in Spanje gestap en Japan verken het nie. Vir sy jongste staptog het hy die plaaslike Pelgrimstog van Hoop aangepak, wat ses jaar gelede deur die teoloog Frederick Marais uitgelê is.
“Die Pelgrimstog van Hoop was beslis ’n lewenshoogtepunt. Ek het die voorreg gehad om al wyd te reis én te stap, maar hierdie was werklik ’n tuiskoms om hier in die Wes-Kaap ’n wonderlike roete onder baie uitdagende omstandighede te stap,” vertel Erns. Hy was sommer opnuut weer betower deur Suid-Afrika se natuurskoon, gasvrye mense en boeiende stories en geskiedenis.
“Ek het tydens hierdie reis besef hoe kosbaar Suid-Afrika se erfenis is, hoe ons mense oor grense heen kan saamstaan en ’n verskil maak. Ek voel opnuut verbind tot hierdie kontinent. En dat lank en ver stap dikwels die beste medisyne is vir liggaam en gees,” sê hy.