In Magda Louw ontmoet ons Magda (Desiré Gardner) en haar man, Erhard (Hannes van Wyk). Hulle neem deel aan ’n werklikheidsreeks waar ’n kameraspan hulle volg om hul alledaagse lewe – met ’n paar onverwagte kinkels en kabels – te dokumenteer.
Die nuwe reeks bestaan uit 13 episodes en is gegrond op die gelyknamige kykNET-storiefliek. Desiré speel nie net die hoofrol nie; sy het ook die teks geskryf. Dit was “ongelooflik” om weer in Magda Louw se skoene te klim, sê sy.
“Dit is moontlik een van die lekkerste ondervindinge van my loopbaan. Ek het dit so geniet om ’n karakter te speel wat ek so lank ken en om te sien hoe die akteurs lewe in die karakters inblaas wat ek op papier vasgepen het.”