Die vonke spat op 'Ram vir ’n Rus': Sopies, slegte sop en humeure wat opvlam

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die vonke het gespat en beskuldigings is heen en weer geslinger. Die voggies het gevloei en die tonge het gesleep. Woensdagaand het kykers in 'Ram vir ’n Rus', VIA (DStv-kanaal 147) se realiteitsreeks, die opspraakwekkendste episode tot dusver beleef.
Die groep deelnemers aan Ram vir ’n Rus, net voord
Die groep deelnemers aan 'Ram vir ’n Rus' net voordat hulle op die bootvaart op die Olifantsrivier vertrek. Foto: Verskaf

Episode ses het afgeskop met ’n vol dag wat vir die vier Ramme en die agt Russe beplan is, maar voordat die aktiwiteite kon begin, is daar eers ontbyt in die bos genuttig. Wat toe veronderstel was om ’n pretdag te wees, mét ’n romantiese bootvaart op die Olifantsrivier, ontaard toe onverwags in ’n dag van hoogdrama.

Evgeniya (27) voel gekrenk nadat sy en Heinrich (26) vroeër in die reeks gesoen het, maar Heinrich en Tanya (23) se tonge mekaar daarna óók gevind het. Tanya is ’n klein b***h, vaar Evgeniya uit. “Sy is ’n tweegesig! Dalk ’n drie- of viergesig, ek weet nie.”

Sy dink Heinrich is “effens verward en deurmekaar”.

Tydens die bootrit is Mila (34) skielik in ’n veglustige bui as sy by Heinrich wou weet hoe durf hy met beide die twee vroue vry. Heinrich kap terug en sê dit het niks met haar uit te waai nie. Mila stook die vuur totdat Evgeniya hom dreigend vra: “Ek wil nou die waarheid weet! Wat voel jy vir haar en wat voel jy vir my?”

Die irritasie op sy gesig is duidelik as hy sê: “Ek voel niks vir jou nie.” Tanya lyk verleë hier waar sy langs hom op die boot sit, maar kort-kort sprei ’n verliefde glimlag oor haar gesig.

Koos en Marche sukkel wel soms om met mekaar te ko
Koos en Marche sukkel wel soms om met mekaar te kommunikeer, maar is reeds duidelik dol verlief. Foto: Verskaf

Later vertel Heinrich dat Evgeniya hom al meer as een keer in ’n hoek probeer druk het en hy reeds vantevore vir haar gesê het hy het geen gevoelens vir haar nie; Tanya is die vrou van sy keuse. 

“Ek het aangejaag, maar ek het dit reggemaak met die een wat ek wil hê,” sê hy. “Die vroue kan sien ons het nou basies ons keuses gemaak, en die wat oorbly is jaloers. Hulle probeer ’n wig tussen ons indryf om te kyk of hulle nie tog ook nog ’n kans staan nie.”

Die vroue berei vir die Suid-Afrikaanse mans ’n tr
Die vroue berei vir die Suid-Afrikaanse mans ’n tradisionele Russiese aandete voor. Foto: Verskaf

Die aand berei die vroue tradisionele Russiese geregte voor waarmee hulle die mans wil beïndruk. Die voggies vloei vrylik totdat die volgende bom aan etenstafel bars: Viktoriia (26) voel gebelgd omdat Ryan (43) vroeër die aand aan haar boud geraak het.

Hy is uit die veld geslaan, want nadat hy die vorige dag sy armband vir haar gegee het ’n aanduiding dat sy sy gunstelingvrou is het hy hulle as ’n paartjie beskou.

Mila is weereens die aanhitser tot hiérdie bekgeveg. Heinrich wil weet hoekom dit dan oukei is toe Evgeniya die vorige dag by die skietbaan aan sý boud gevat het. 

Mariya skink vir Gideon, Ryan en Koos ’n glasie wodka. Foto: Verskaf
Mariya skink vir Gideon, Ryan en Koos ’n glasie wodka. Foto: Verskaf

Al die manne was egter nie beïndruk met die kos nie. Dit was nie way-out kos nie, sê Koos reguit. “Dit was glad nie lekker nie.”

“Die sop was waterig met olie wat bo-op gedryf het en die vleis proe soos doodgekookte vark in water,” beskryf Heinrich dit. “En ek moes baie sout op die slaai gooi net om dit smaaklik te maak.”

Gideon, altyd die galante heer, bedank egter die vroue beleef vir al die moeite wat hulle gedoen het met “die heerlike aandete wat hulle voorberei het”. 

Ryan en Viktoriia in ’n speelse luim tydens die aa
Ryan en Viktoriia in ’n speelse luim tydens die aandete. Foto: Verskaf
  • In episode 7 van 'Ram vir 'n Rus' wat op Woensdag 1 Desember om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai word, moet die vier mans ‘n belangrike keuse maak. Wie gaan hulle huis toe vat?
Teken in op ons nuusbriewe

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!

Jongste uitgawe

9 Desember 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees