“Die afgelope Vrydag het iemand wat ook die familie ken uit Gansbaai gebel om te vertel dat hy oorlede is. Ek het kort daarna ’n Whatsapp-boodskap van sy vrou, Kinna, ontvang wat ook sê dat hy covid-19 gehad het en toe die oggend oorlede is,” vertel Erns aan Huisgenoot.
Erns was nie self bewus dat Dolf covid-19 gehad het nie, maar dit was ’n groot skok vir die TV-aanbieder om te verneem dat hy oorlede is.
Tydens episode een van die reeks waar Erns kykers op ’n reis deur Namibië neem, besoek hy Dolf en sy gesin op die Mickberg-plaas aan die suide van Namibië. Hulle bedryf ook hier die Withuis-gastehuis wat intussen deur hul seun, Dolf Junior, oorgeneem is.