‘Komaan, jy ken die antwoord! Komaan, ek weet jy weet!” roep ’n vrou terwyl sy die drie mense op die monitor voor haar dophou.
Sy sit in die ateljee se beheerkamer terwyl tientalle dinge gelyktydig rondom haar gebeur: Die regisseur gee in ’n gedempte stem instruksies, die tegniese regisseur wissel tussen kameraskote, en heel links maak die telmeester seker die deelnemers se punte word reg opgetel.
Almal is gefokus, ook die ander mense wat hier agter die skerms woeker terwyl ’n episode van Huisgenoot se splinternuwe VIA-vasvraprogram, Huisgenoot Blokraaibestes, vandag verfilm word.