Recardo August van Jamestown naby Stellenbosch het verlede week koning gekraai as Huisgenoot se eerste Blokraaibeste. Die tweede seisoen van die blokraai-vasvraprogram begin kort op die hakke van die eerste seisoen. Tydens die eerste episode, wat Maandagaand 11 April uitgesaai word, toets Huisgenoot-redaksielede hul eie woordkennis.
Die episode word om 21:00 op VIA (DSTV-kanaal 147) uitgesaai.
Edna Ellman, vertaler
"Ek het Blokraaibestes verskriklik geniet en al was ek vooraf bekommerd oor voor die kameras verskyn, het die senuwees verdwyn toe die mededingendheid inskop. Ek het wel besef dis baie makliker om die antwoorde van jou rusbank uit te skree as voor kameras."
Suzaan Hall, herskrywer
"Ek het die hele ervaring meer geniet as wat ek vooraf gedink het ek sou! Cintaine was lieflik en goed daarmee om ons op ons gemak te stel voor die kameras, en dit was lekker om saam met twee kollegas en mede-woordliefhebbers deel te neem. Ek sou nooit vooraf blokraai-invul as ’n adrenaliensport beskryf het nie, maar om so onder tydsdruk te moet dink, het nogal my hartklop opgestoot!"
Annami Mailovich, digitale redakteur
"Ek het myself nog nooit uitgemaak as ’n blokraai (of raaisel, of Sudoku) -mens nie. Ek het wel ’n stewige sin vir gees. Toe ek dus gevra is om deel te neem, het ek gedink ons is ’n span – en toe dog ek: Gees is genoeg, iemand anders se vaardigheid sal my deurdra. Die mense werk immers by Huisgenoot. Die kort en die lank is, ek was verkeerd. Die span het teen mekaar deelgeneem. Met die eerste ‘buzzer’-ronde het ek amper in ’n koue angssweet uitgeslaan toe ek besef, o aarde, ek is heeltemal te stadig op my voete as dit kom by blokraaie! Ek onthou net die gevoel van merkbare verligting toe ek darem by een skamele woord kon uitkom. Ek was in my lewe nog nooit so trots op ’n woord nie. Vir dié mense wat my goed ken is dit algemeen bekend dat ek treurig is met wiskunde, raaisels of legkaarte. My krag in woorde is wanneer ek rieme daarvan kan skryf – maar beslis nie raaisels nie. Ek is heeltemal te ongeduldig om blokraaie ten volle te geniet.
"Die hele TV-ervaring was wel ontsettend lekker. Ek is mal daaroor dat jy feitlik in ’n hoek gedruk word en in die oomblik moet kophou (al was ek treurig). Dit is adrenalien op sy beste. Die gees-deel van my het floreer. Kom ons jok nou nie vir mekaar nie: Om vir ’n oggend lank voor die kameras rond te speel is heelwat lekkerder as om e-posse te stuur en almal agter die skerms was lieflik! Ek het amper ’n week daarna nog baie binnepret gehad oor hierdie voor-die-kamera-ervaring."
Ken jy week na week die antwoorde? Jy kan deel wees van die pret!
Stuur 'n e-pos waarin jy meer vertel van jouself en jou liefde vir blokraaie na huisgenootblokraaie@media24.com.
Huisgenoot Blokraaibestes word elke Maandagaand om 21:00 op VIA (DSTV-kanaal 147) uitgesaai.