KYK: Dr. Addison Montgomery ná byna dekade terug in 'Grey's'

akkreditasie
0:00
play article
Intekenaars kan na hierdie artikel luister
Die koningin van passief-aggressief is terug . . .
kate walsh
Dit is byna 'n dekade sedert sy laas in dié rol was. Foto: Twitter

Dis 16 jaar nadat sy vir die eerste keer in 2005 haar verskyning in Grey’s Anatomy gemaak het.

Die Amerikaanse aktrise Kate Walsh (54) het aanhangers in 2005 geskok toe sy as dr. Addison Shepherd-Montgomery in die Seattle Grace-hospitaal (wat nou die Grey Sloan Memorial Hospital heet) opgedaag en dr. Meredith Grey (Ellen Pompeo, 51) daarvan beskuldig het dat sy by haar man, dr. Derek Shepherd (Patrick Dempsey, 55), slaap.

En om sake te vererger het die seisoen destyds op daardie noot afgesluit met aanhangers wat vir die tweede seisoen moes wag om uit te vind wat hierdie rooikopvrou nou eintlik bedoel het. 

kate walsh
Dr. Meredith Grey (Ellen Pompeo) was omtrent geskok toe sy uitvind dr. Derek Sheperd (Patrick Dempsey) is eintlik getroud. Foto: Alamy

Die karakter Addison het Meredith in 2005 met die ikoniese “jy is seker die vrou wat met my man slaap” gegroet en dié woorde het nie verlore gegaan met Kate se terugkeer na die reeks nie. 

In die nuwe lokvoorprent vir Donderdagaand se derde episode van die 18de reeks, is dit ook hoe Addison die nuwe dokters groet: “Julle is seker die groep dokters wat die program opfoeter.”

Dié lokvoorprent is sedert verlede week wyd in die sosiale media gedeel en talle sien uit na Kate se terugkeer. 

En hoewel sy en Meredith aan die begin van Grey’s ietwat hare gekloof het oor Derek, lyk dit asof dit nou iets van die verlede is. 

kate walsh
Kate is slaggereed om weer die rol van Addison te vertolk. Foto: Twitter

In die voorsmakie kan kykers sien dat sy Meredith soek wanneer sy dringend hulp nodig het met 'n operasie. 

“Kry Meredith Grey vir my,” sê Addison nadat sy gesê het sy het ervare hande nodig om teen die klok te werk. 

kate walsh
Dr. Addison Montgomery is terug in Grey's Anatomy. Foto: Alamy

En hoewel Kate laas in 2012 in dié TV-reeks was, is sy slaggereed om terug te keer. 

“Wel, wel, wel, kyk net wie is dit,” het Kate op Grey’s se amptelike Twitter-blad in ’n video gesê. 

“Dis reg, my geliefdes. Dr. Addison Montgomery kom terug na die Grey Sloan Memorial-hospitaal en ek is so opgewonde om weer huis toe te kom en by Shonda (Rhimes, wat die reeks geskep het), Ellen en die res van die ongelooflike span aan te sluit. Wag net tot jy sien wat sy (Addison) vir julle inhou.”

Addison was so ’n gewilde karakter in Grey’s dat sy haar eie reeks, Private Practice, gekry het. 

Ellen Pompeo
Ellen vertolk die rol van dr. Meredith Grey. Foto: Alamy

Dié karakter het almal in die vorige seisoen in Grey’s ook graag op hul tone gehou en het byname soos “satan”, “die heerser van alles wat boos is”, “die koningin van passief-aggressief” en “McHotty” gehad. 

Die nuwe Grey’s-seisoen word op Donderdagaande in Amerika uitgesaai en moet nog in Suid-Afrika begin. 

@katewalsh It’s really happening. Dr. Addison Montgomery will see you shortly ???? #GreysAnatomy @greysabc @ellenpompeo ? The Magic Bomb (Questions I Get Asked) [Extended Mix] - Hoàng Read

Jongste uitgawe

28 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees