
Dit is die weergawe van I Will Always Love You deur die trio SA Ensemble wat Emo en 'n menigte ander mense in die gehoor tot trane gedryf het.
“As dit gebeur dan gebeur dit; jy kan dit nie forseer nie. Die feit dat dit so organies gebeur het, spreek boekdele, ” vertel Emo aan Huisgenoot oor dié emosionele oomblik op die program.
SA Ensemble, wat van Vanderbijlpark in Gauteng kom, bestaan uit Kabelo Lekgau (27), Innocent Nhlapo (30) en Sekgwari Donald Moropa (35).
“Hulle het nie grootgeword met ma’s nie, en ek het ’n baie hegte verhouding met my ma. Hul optrede het dadelik dinge vir my in perspektief gesit, want ek kan nie dink hoe dit moet voel om sonder ’n ma groot te word nie,” sê Emo.
“Dit is steeds oorweldigend om te dink dat mense aanklank vind by die program en dit hou ’n mens baie nederig, want dit was die doel van die program. Ek het vir mense bly sê die hartklop is anders en gaan mense se lewe verander,” sê Emo trots.
Dit is die verskillende uitdagings, verrassings en drama wat elke week aan die deelnemers wat die program so emosioneel maak, vertel Emo. “Om te sien dat al daardie goed dit tot op die kassie gemaak het, wys dat die trane wat gestort is, eg is.”
“Ek kan die groei in elke kunstenaar sien, en ’n mens wil natuurlik hê almal moet bly, maar dit is steeds ’n realiteitsprogram waar mense uitval,” vertel Emo oor die kompetisie wat by die episode strawwer raak.
Tog was dit van die begin af die plan om vir die top-48-deelnemers meer as net ’n platform te gee en is hul liedjies onlangs op iTunes gelaai “sodat hulle dit kan gebruik om hulself te bemark”.
“Ons verteenwoordig ook die top-10, en ek is so trots, want hulle kry al besprekings terwyl die kompetisie nog besig is en selfs wanneer hulle uitval,” sê Emo.
“Ek weet nie hoe ons dit reggekry het nie, maar ek is bly dat die gehoor nou net so passievol oor die projek is, soos wat ek was,” sê hy.
- Die regstreekse finale episode van die Maak My Famous word op 11 Julie om 20:00 op kykNET en kykNET&kie uitgesaai.