book-icon Uitgawe 1 Augustus 2019

KYK: Só lyk die toekomstige Mej. SA se R5 m.-woonstel

akkreditasie
Die nuwe Mej. Suid-Afrika gaan in dié Sandtonwoonstel met dekor van R400 000 bly.
Foto: Sharon Seretlo
Die nuwe Mej. Suid-Afrika gaan in dié Sandtonwoonstel met dekor van R400 000 bly. Foto: Sharon Seretlo
Die nuwe Mej. SA gaan ’n jaar lank in ’n luukse woonstel in Sandton woon; ons het gaan inloer.

Die moderne woonstel is ruim en smaakvol versier, met byderwetse ontwerperselemente oral. Maar dis die sitkamer se volvloervensters – en die uitsig oor die Goudstad wat ’n mens van hier af het – wat veral jou asem wegslaan.

Enigiemand wat gelukkig genoeg is om hier te kan bly, sal voel asof hulle die wêreld aan hul voete het, soos ’n koningin wat oor haar koninkryk uitkyk.

En dis heel gepas, want dié woonstel gaan binnekort die woning van Mej. Suid-Afrika 2019 wees. Die nuwe titeldraer word eersdaags – op 9 Augustus – gekroon, maar Huisgenoot kon vooraf gaan loer hoe die luukse woonstel lyk waar sy tydens haar termyn sal bly.

Die balkon is ruim en ideaal om gaste te ontvang, en die woonstel het ’n pragtige uitsig oor Sandton. Foto: Sharon Seretlo

Ons nuwe skoonheidskoningin sal met meer as R3 miljoen se prysgeld en borgskappe wegstap, maar om verniet in hierdie pragtige tweeslaapkamerwoonstel in Sandton te mag bly sal ongetwyfeld die kersie op die koek wees.

“Hierdie ruim eenheid het baie lig, wat aanloklik was omdat die uitsig sulke goeie fotogeleenthede bied,” sê Sergio Aquino, uitvoerende hoof van Lushaka Investments en ontwikkelaar van die woonstelkompleks.

“Dis ook wonderlik dat sy in die middel van Afrika se finansiële hoofstad gaan woon.” Hy twyfel nie daaraan dat dié woonstel, wat R5 miljoen werd is en sowat R42 000 per maand kos om gemeubileerd te huur, geskik is vir Suid-Afrika se eie “koninklike” nie.

Dis deel van ’n kompleks met 183 eenhede wat wissel van eenslaapkamer- tot dakwoonstelle en selfs sy eie gim, haar- en skoonheidsalon het. Dit beteken Mej. Suid-Afrika sal op haar beste kan lyk sonder om eens die huis te verlaat.

Wanneer ’n mens deur die woonstel stap, is dit gou duidelik geen moeite is ontsien om dit ’n gemaklike en stylvolle woning te maak nie. Die kombuis het ’n stoof, oond en koffiemasjien, asook ’n skottelgoed- en wasmasjien wat slim binne-in kaste versteek is.

Foto: Sharon Seretlo

Hier is ook heelwat ruimte in die twee slaapkamers se klerekaste – oorgenoeg plek vir Mej. Suid-Afrika om al haar ontwerpersuitrustings te bêre.Maar dis die woonstel se dekor wat alles saambind.

Joy Greenberg van Mia Bella Interiors moes die meubels en bybehore kies en het dit binne ’n week in ’n droomruimte omskep. Alles is met die hand uitgekies: van die muurpapier tot die banke en spieëls.

“Ek wou elke kamer sy eie tema gee deur tekstuur, kleure, patrone en vorms te gebruik en die woonstel steeds huislik laat voel,” verduidelik Joy.

Mia Bella en die diensverskaffers het sowat R400 000 se meubels en dekor geborg om die woonstel te versier. Die mengsel van klassieke en kontemporêre style word gekombineer met sagte, vroulike kleure om die plek ’n gesellige gevoel te gee.

Haar grootste uitdaging was om nie te weet vir wie sy die versierwerk doen nie, sê Joy. Gewoonlik kan sy met ’n kliënt gesels en uitvind presies wat hul smaak is.

In dié geval moes die binneversierder egter haar towerstaffie swaai en ’n meesterstuk optower wat die goedkeuring “van enigeen van die top-16-skoonhede wat tans om die kroon meeding, sal wegdra.

“Ek het dit eenvoudig gehou, en tog modieus en prakties. Minder is meer,” verduidelik sy.

woonstel
Die woonstel het twee slaapkamers, albei met en suite- badkamers. Die hoofslaapkamer (regs) is in ligpienk versier en het ’n kopstuk wat aan ’n kroon herinner. Die gastekamer (heel regs) het meer neutrale kleure. Foto: Sharon Seretlo

“’n Huis moet ’n vriendelike, warm, verwelkomende atmosfeer hê en reg wees om in te woon. Ek wou met die dekor en meubels ’n unieke identiteit skep wat Mej. Suid-Afrika elegant, grasieus en trots sal laat voel.

Joy het baie tyd afgestaan aan die hoofslaapkamer se afronding en om seker te maak dit is perfek. Die element waarop sy die trotsste is, is die bed se kopstuk, wat in die vorm van ’n kroon is.

“Ek wou hê Mej. Suid-Afrika moet voel haar slaapkamer is haar persoonlike toevlug en die plek waar sy op haar mees ontspanne kan voel. Ek het materiaal gebruik wat weelderig is met heelwat tekstuur.”

Die gastekamer het ’n kombinasie van natuurlike hout – onder meer afgewitte hout met ’n verweerde voorkoms – en sagte, vars linne in neutrale klere.

Met dié kamer wou sy seker maak enige gas voel gemaklik daar ongeag hul smaak, verduidelik Joy. Daarenteen het die sit-en-eetkamer meer kleur en is dit in ’n moderne stedelike styl versier met ryk kleure wat terselfdertyd funksioneel én mooi is.

Die top-16. Voor: Van links is Kgothatso Dithebe, Lisa Stoffela, Zozibini Tunzi, Loren Leigh Jenneker, Keabetswe Kanyane en Eloïse van der Westhuizen. Middel: Errin Brits, Danielle Wallace, Chuma Matsaluka, Noluthando Bennett en Beulah Baduza. Agter: Sasha-Lee Olivier, Xia Narain, Zanele Phakathi, Sibabalwe Gcilitshana en Nompumelelo Maduna. Foto: Verskaf

Dis ’n woning wat die skoonheid, klas en verfyndheid van Mej. Suid-Afrika weerspieël. Maar Joy hoop dit sal eindelik ’n veilige hawe wees waar die wenner tydens haar besige jaar as kroondraer kan ontspan en weer tot verhaal kom.

“Elke vrou hou daarvan as iets of iemand hulle mooi laat voel,” sê sy.

  • Huisgenoot help vanjaar soek na ons volgende Mej. Suid-Afrika en dek as amptelike mediavennoot al die opwinding en die gebeure agter die skerms. Hou ons volgende paar uitgawes dop vir nog nuus.
Jongste uitgawe

3 Februarie 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees