Deel

Maak My Famous: Só het Cheswyn Ruiters die res uitgestof!

akkreditasie
Vir weke aaneen het kykers regoor die land elke Donderdagaand vasgenael voor hul kassies gesit om te kyk hoe van die land se voorste talent op die talentsoekprogram Maak My Famous woeker.

“Die top-vier verteenwoordig presies waar ek dink ons moet wees in ons land,” het die aanbieder Emo Adams aan die begin van die finale episode van dié program gesê. Dit is wat die keuse tussen die vier finaliste, Bernice West, Megan Danner, Cheswyn Ruiters en SA Ensemble so uiters moeilik gemaak het, meen Emo.

Die afwagting is egter Donderdagaand met die nuus beloon dat Cheswyn die eerste seisoen van Maak My Famous gewen het. 

Die wenner stap weg met R50 000 se klere en bykomstighede van The Foschini Group, ’n splinternuwe Toyota C-HR 1.2 L Turbo, R100 000 in kontant, ’n een jaar-bemarkingskontrak by Ian Bredenkamp Media en ’n een jaar-kontrak by All Star Management.

Cheswyn sal ook na afloop van die finaal, wat regstreeks vanaf die Roxy Revenue Bar by die Grand Arena in Kaapstad uitgesaai is, op toer saam met Emo Adams gaan.

Ná twee energieke vertonings van die gaskunstenaars Karen Zoid en Belinda Davids is Bernice, Cheswyn en Megan as die top-drie aangekondig. Emo het ook op die aand gesê dat die top-drie én SA Ensemble almal met ’n een jaar-kontrak by sy maatskappy All Star Management wegstap. Die top-10 het ook op die aand elkeen R10 000 te danke aan Toyota Suid-Afrika ontvang.

Net voor die wenner aangekondig is, het Kurt Darren sy treffers Oh My Soul, Laat Die Dansvloer Brand en Kaptein gesing.

Met meer as 1,4 miljoen stemme moes Emo die moeilike besluit maak tussen die finale twee; Cheswyn en Bernice.

"Ek kan net een kroon as die wenner, en ek dink ek het my besluit gemaak," het Emo voor die groot oomblik toe hy Cheswyn gekies het, gesê.

Hier is ’n paar van Cheswyn se vorige optredes op dié program wat kykers gaande gehad het:


heading
description
username
Wys Kommentaar ()
Jongste uitgawe

30 Maart 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees