Ongemaklike oomblik laat kykers oor 'HMSMSM' gons

akkreditasie
Woensdagaand se episode van 'Hoor my, sien my, soen my', het kykers omtrent aan die gons gehad.

Want toe Elzandri Kotzé (27), 'n projekbestuurder van Pretoria, vir die laaste keer by een van die deelnemers met sy lyfkamera, Jarrett Alexander, inloer, was daar ’n paar ongemaklike oomblikke. . . 

Tydens die verfilming van die episode van kykNET se nuwe maatsoekreeks het Elzandri met drie potensiële pasmaats op ’n virtuele afspraak gegaan. Elkeen van die drie mans het ’n lyfkamera gedra en Elzandri kon glad nie sien hoe hulle lyk nie. Sy kon wel op ’n skerm in die ateljee sien waar hulle is. Deur middel van ’n mikrofoon kon sy met hulle gesels om hulle beter te leer ken. 

Die reeks se aanbieder, Vanes-Mari du Toit, het saam met Elzandri op die bank gesit en die drie deelnemers, Werner Botes, Jarrett Alexander en Lourens van Niekerk ondervra om hulle beter te leer ken.

“Ek was baie op my senuwees oor die hele ding, maar meer oor die kamera op jou is, as om die ouens te ontmoet, vertel Elzandri oor haar ervaring. 

“Die feit dat ek hulle nie face to face kon sien nie, het my minder nervous gemaak. Maar die ergste was om later die aand die drie ouens te sien en twee huis toe te stuur,” vertel sy.

Elzandri het vooraf beplan watter soort vrae sy vir die drie potensiële pasmaats sou vra. “Net omdat ek uit ervaring nie van ongemaklike stiltes hou nie. So ek het eerder seker gemaak ek het genoeg vrae as om awkward en stil te sit."

Maar dit was toe sy vir die laaste afspraak by Jarrett inloer, wat dinge effens ongemaklik geraak het.

Jarrett (31), ’n akteur van Northcliff in Johannesburg, het ’n vriendin en kollega, Bianca Meyer, geneem om ’n drankie by 'n restaurant te drink. Toe Elzandri virtueel by hulle aansluit, het sy en Vanes-Mari vir Jarrett en Bianca uitgevra oor hul vriendskap.

"Jou vriendin is so mooi, hoekom date jy nie vir haar nie?" het Elzandri vir Jarrett gevra, wat toe verduidelik het dat sy glo van plan is om oorsee te trek. 

En toe Vanes-Mari eindelik vra of Bianca verlief is op Jarrett, het sy laggend en effens verleë geantwoord: “’n Bietjie.”

“Toe ek aanvanklik gesien het Jarrett het 'n meisie op die date, was ek soos oukei, dit is dalk 'n sussie of net ’n baie goeie vriendin,” vertel Elzandri. “Ek het ook 'n mans-beste vriend so ek verstaan dit,” sê sy. 

Sy meen dit was egter vir haar vinnig duidelik dat Bianca sterk gevoelens vir Jarrett het.

Elzandri het aan die einde van die dag se afsprake gekies om eerder vir Werner, die meganiese ingenieur, beter te leer ken. 

Maar nou wonder kykers of Jarrett en sy vriendin Bianca nie dalk liefde gevind het nie?

“Ek het besluit om haar (Bianca) saam te nooi, want sy werk ook gereeld in die televisiebedryf. Ek het gedink sy is die ideal mens, want sy ken my op ’n professionele vlak maar ook bietjie persoonlik. So ek het gedink sy sal meer oor my kan vertel,” verduidelik hy. 

“Ek het gedink sy sal bietjie humor na die tafel toe bring, maar ek het nie gedink sy sal met sulke vlytaal kom nie,” sê hy laggend. 

Jarrett sê hy het nie verwag dat Bianca sou erken dat sy eintlik van hom hou nie. Hy het ook nie van haar gevoelens geweet nie. 

Hy sê hulle is wel steeds goeie vriende en kuier gereeld saam. Maar daar is in dié stadium geen romanse tussen hulle nie, sê hy. 

“Maar dit was ’n baie interessante en goeie ondervinding. Ek het beslis ook meer oor myself geleer,” sê Jarrett.

Kykers meen Elzandri moes eerder die stil, stemmige Lourens gekies het omdat hy baie van dieselfde waardes as sy deel.

Maar Elzandri glo nie hul persoonlikhede sou by mekaar gepas het nie. 

Werner en Elzandri het lekker gekuier tydens hul romantiese afspraak, maar hulle het mekaar sedertdien nog nie weer gesien nie. 

“Ons was nog nie op ’n tweede afspraak nie,” bevestig sy. Maar sy meen dit is nog nie heeltemal van die baan nie. 

"Hy was vir my maklikste om mee te gesels en vol grappies," sê sy. 

Hoor my, sien my, soen my word op Woensdagaande om 20:00 op KykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.


Jongste uitgawe

2 Desember 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees