book-icon Uitgawe 5 Augustus 2021

Ontmoet die speurtweeling Vos Vos en Deventer Deventer

akkreditasie
Wat verstom die skrywer Gerhard Greyvenstein? Lees ook 'n uittreksel uit sy debuutroman, 'Die Seepunt-insident'.
Die Seepunt-insident
Gerhard Greyvenstein. Foto: Verskaf
Gerhard Greyvenstein. Foto: Verskaf

Deur Gerhard Greyvensteyn (Penguin, R249*)

Vos Vos word gehuur om die dood van die sakevrou, kunskenner en miljoenêr Imelda Grys te ondersoek. Al die gaste wat Imelda se spoggerige Oujaarsaandete bygewoon het, is onder verdenking.

Twee van hulle is haar kinders.

Vos was 11 jaar lank in die polisie voor sy haar eie speuragentskap begin het. Sy hou van hard werk en whiskey. Haar tweelingbroer is Deventer wat ’n wassery bedryf nadat hy die polisie verlaat het. Hy hou van tee, mediteer en draf.

Die Seepunt-insident is die debuutroman van Gerhard Greyvensteyn, onder meer gewese diplomaat by die Suid-Afrikaanse ambassade in Parys, protokolbeampte vir Gauteng se premier, produksiebestuurder by ’n advertensieagentskap en reklamebestuurder by ’n mediamaatskappy.

Hy woon al agt jaar in China – vyf as onderwyser en drie jaar as akademiese bestuurder van ’n taalskool wat Engels aan sakemense onderrig.

Hy vertel hy het sy misdaadroman in 2017 en 2018 in Shanghai geskryf.

“Voor ek China toe gekom het, het ek agt jaar in Seepunt gewoon. Wanneer ek langs die promenade gestap het, het ek baie idees gekry – onder meer die beeld van ’n lyk in die straat met ’n gepaardgaande verkeersopeenhoping.”

Ek vra of Deventer op hom geskoei is. Hy lag.

“Deel van Deventer is beslis ek, maar ek is minder gelate as hy. En dalk effens meer ambi­sieus. Vos is moontlik ook deel van my. Dikwels heel gefokus en toegewyd, maar soms wil ek ook net soos sy McDonald’s eet en chill.”

Deventer is ernstig geknak deur ’n polisievoorval waarby hy betrokke was, maar is hy regtig al 10 jaar selibaat?

“Wie weet? Maar ek twyfel!”

Newekarakters wat min tyd op die blad kry maar wat die kollig steel, soos meneer Stravinsky en missus Cohen, is ’n lus.

Vertel iets oor hulle, vra ek.

Gerhard sê Seepunt is vol kleurvolle karakters en hy wou graag iets van die diversiteit laat deurskemer. “En ek is baie lief vir eksentrieke mense, soos dié twee.”

Hy lees graag krimi’s en het wenke “gesteel” by sommige van hulle: “Robert B. Parker se gevatte dialoog, Raymond Chandler se slim en sjarmante speurder, Philip Marlowe, Donald Westlake vir sy plot, en Agatha Christie, wat my heel eerste met haar wonderlike intriges geboei het.”

4 dinge wat Gerhard verstom
  • China: Elke dag is daar iets wat my verras en verbaas. Dié week het ek ’n vrou gesien wat haar aërobiese dans doen op die sypaadjie buite my woonstelblok sonder om ’n duit om te gee wat mense dink.
  • Die internet: Dalk bring ek te veel tyd hier deur, maar dis fassinerend.
  • Suid-Afrika: Wat ’n uitsonderlike, verrassende, unieke land.
  • Mense: Ek probeer groepe mense vermy, maar wanneer ek van aangesig tot aangesig met iemand is, is ek altyd verras oor die begeertes, geheime en drome.

’n Uittreksel uit ‘Die Seepunt-insident’

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

’n Vrou lê op haar bed in ’n woonstel in Seepunt met ’n sigaret, haar foon in haar een hand. Dis 03:00 op Saterdagoggend, 1 Januarie. Sy is moeg, maar kan nie slaap nie. Sy kyk na ’n foto op Twitter. ’n Teerpad met die oseaan op regterhand en rotse links. ’n Betonmuur tussen die see en die pad.

Dis nag, maar die toneel is helder verlig. Die wit strepe op die teer is duidelik sigbaar. Motors, hul kopligte skerp, het tot stilstand gekom. In die pad: stukke metaal en hout, iets wat lyk soos ’n rolstoel. En die liggaam van ’n vrou. Ledemate onnatuurlik, die een been reguit en die ander teen ’n vreemde hoek gebuig, negentig grade in die verkeerde rigting.

’n Rooi rok, lang, wit hare, in kontras met die swart van die teer. Nice pic. Selfs die laaste foto is highly stylised, dink sy. Imelda.

Want dit is die liggaam van Imelda Grys, sakevrou, kunskenner en miljoenêr. Wat laas nag in ’n ongeluk voor haar huis in Bantrybaai oorlede is.

In ’n woonstel 800 meter suidwes sit ’n ander vrou by ’n tafel in haar sitkamer. Grys T-hemp met ’n New York University-embleem en los, grys kortbroek. Haar boyfriend is uit om iemand te ontmoet. Sy wonder wanneer hy gaan terugkom, en terselfdertyd wonder sy ook nie. Want dit is niks nuuts nie.

Ieder geval, sy is nou wakker ná ’n skamele een uur se slaap. Sy het ’n koppie groentee gemaak en kyk na haar foon. Facebook. Vriende se vakansies. Vriende se honde. Katte. Kinders. Iets tref haar oog. Mail & Guardian het ’n live feed. From Bantry Bay: Tragic death of well-known art collector and philanthropist.

Sy snak na haar asem. Haar hart begin vinniger klop en sy voel ’n koue sweet op haar voorkop uitslaan. Die video is vanuit die lug geneem (’n helikopter of ’n drone?) en wys ’n pad met motors wat stilstaan, rotse aan die een kant en die see aan die ander. In die pad lê iemand. ’n Vrou, te oordeel na die lang, rooi rok. Die kamera skud en verloor fokus.

Net toe lui haar foon. ’n Nommer wat sy nie herken nie. Normaalweg sou sy nie antwoord nie, maar sy dink sy weet waaroor dit gaan. “Hallo?” sêvra sy tentatief.

Drie kilometer wes sit ’n derde vrou op haar balkon. Sy het ’n wit pashmina om haar skouers gedrapeer, want al het die wind gaan lê, is dit koel. Drieuur in die oggend is die enigste tyd wat ek rus vir my siel kan kry, dink sy en giggel.

Sy neem ’n sluk wodka en kap ’n dun lyntjie kokaïen op die glastafel voor haar, rol ’n honderdrandnoot dun op en snuif die poeier behendig, eers met die een neusgat en dan die ander. Skud haar kop effens, vee haar neus skoon met die rugkant van haar hand, en skink nog ’n bietjie wodka. Cheers, Kaapstad.

Haar foon pieng. WhatsApp. ’n Boodskap van ’n vriendin wat in die media werk: Check out this news, met ’n skakel na ’n artikel. Sy kliek daarop en word gelei na News24 se app: Death of local celebrity.

En só verneem sy van Imelda Grys se dood. Sy sal seker vir die slapende man binne hiervan moet vertel. Shit timing. Dan lui die landlyn in die sitkamer. En die slaapkamer. Die man antwoord die foon.

* TEEN DIÉ PRYS BESKIKBAAR BY TAKEALOT.COM. DIE PRYS WAS KORREK TEEN DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAFKENNISGEWING
Jongste uitgawe

9 Desember 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees