'Op my eish!': Ontmoet die 12 vroue wat om Neels van Jaarsveld se hart gaan meeding

akkreditasie
Die akteur Neels van Jaarsveld is weer gereed om liefde te vind. Foto: Misha Jordaan
Die akteur Neels van Jaarsveld is weer gereed om liefde te vind. Foto: Misha Jordaan
Om liefde op die kassie te soek is nie ’n maklike taak nie, maar hierdie 12 vroue het ’n kans gevat om op ’n reis van ’n leeftyd te gaan en hul hart oop te maak vir die liefde.

Kykers sal moet wag en sien wie van die vroue die akteur Neels van Jaarsveld se voete onder hom gaan uitslaan in die nuwe kykNET-maatsoekreeks Op my eish! 

Ontmoet die 12 vroue wat vir die volgende paar weke gaan meeding om Neels se hart te wen. 

1. HETTIE (24), ENTREPRENEUR

hettie
Hettie. Foto: Verskaf

HOEKOM HET JY INGESKRYF? 

Ek het ingeskryf omdat ek niks het om te verloor nie. Dit is ’n opwindende manier en geleentheid om iemand te leer ken. 

WAARNA SOEK JY IN ’N MAAT? 

Iemand wat my onvoorwaardelik sal liefhê en sal aanvaar nes ek is. 

2. LIESA (27), VELDGIDS

liesa
Liesa. Foto: Verskaf

HOEKOM HET JY INGESKRYF? 

Neels het gelyk na ’n baie interessante man, en ek het gedink dit sal lekker wees om hom as persoon te leer ken. As gevolg van my werk is dit moeilik om ’n verhouding te hê en mense te ontmoet, toe vat ek maar ’n kans!

WAARNA SOEK JY IN ’N MAAT? 

Hy moet selfversekerd wees en ’n plan met sy lewe hê. Hy moet weet waarheen hy op pad is en bereid wees om saam met my daai pad te loop. 

3. JANKA (29), BEMARKING EN VERKOPE

janka
Janka. Foto: Verskaf

HOEKOM HET JY INGESKRYF? 

Dis my laaste poging om nie op die rak op te eindig nie. Ek glo ’n mens moet kanse waag in die lewe, en ek het absoluut niks gehad om te verloor nie. 

WAARNA SOEK JY IN ’N MAAT? 

Ek soek ’n man wat weet wie hy is en wat hy wil hê. ’n Man met ’n sterk persoonlikheid, ambisie en ’n sin vir humor. 

4. ABIGAIL (30), AKTRISE

abigail
Abigail. Foto: Verskaf

HOEKOM HET JY INGESKRYF? 

Ek het na ’n nuwe avontuur gesoek en wou meer oor myself leer. Ook om aan myself te bewys dat ek enigiets kan doen wat ek wil. 

WAARNA SOEK JY IN ’N MAAT? 

Eerlikheid, opregtheid en iemand wat my aanvaar vir wie ek is, met ’n goeie sin vir humor. 

5. FLORINDA (25), SKOONHEIDSTERAPEUT

florinda
Florinda. Foto: Verskaf

HOEKOM HET JY INGESKRYF? 

Ek het gevoel ek is gereed vir ’n maat in my lewe en ek is op soek na daai spesiale iemand om die lewe mee saam te geniet. 

WAARNA SOEK JY IN ’N MAAT? 

Iemand wat weet wie hy is, lojaal is en met my kan kommunikeer. Iemand wie se voete plat op die aarde geanker is, ’n persoon wat saam met my die lewe kan geniet en ervaar.

6. SONJA (32), SKAKELWESE SPESIALIS

sonja
Sonja. Foto: Verskaf

HOEKOM HET JY INGESKRYF? 

Ek wou meer van myself leer en weer verhoudings aanpak buite die inperking – met betrekking tot Neels en die meisies. 

WAARNA SOEK JY IN ’N MAAT?

’n Spanmaat, steunpilaar en iemand wie gewillig is om daardie eienskappe van my te ontvang en waardeer. Stabiliteit en dalk net ’n tikkie humor. Die lewe is soms net te ernstig.

7. LAURIKA (39), PROKUREUR

laurika
Laurika. Foto: Verskaf

HOEKOM HET JY INGESKRYF? 

Ek het ingeskryf omdat Neels van Jaarsveld die man is wie op soek is na liefde. As dit enigiemand anders was, sou ek dit geensins oorweeg het nie. Dié man het ’n mate van misterieuse, diepsinnigheid rondom hom wat ek baie aantreklik vind. 

WAARNA SOEK JY IN ’N MAAT? 

’n Vennoot, vriend en ’n sterk man wie leiding kan neem. 

8. LIZELLE (40), SOSIALEMEDIABEMARKINGSBESTUURDER

lizelle
Lizelle. Foto: Verskaf

HOEKOM HET JY INGESKRYF? 

Om Neels te ontmoet natuurlik! En omdat ek die tipe persoon is wat geleenthede aangryp met albei hande. 

WAARNA SOEK JY IN ’N MAAT? 

Iemand wat my beste vriend en ’n veilige hawe kan wees. Iemand wat my verstaan en aanvaar vir wie ek is, met al my bagasie. 

9. TANYA (33), ENTREPRENEUR

tanya
Tanya. Foto: Verskaf

HOEKOM HET JY INGESKRYF? 

Neels het snaaks geklink op die radio en ek het gedink ons sou lekker kon vibe.

WAARNA SOEK JY IN ’N MAAT? 

Ek soek eerlikheid en lojaliteit in ’n man. ’n Man wat my nie gaan probeer verander nie en wat my sal ondersteun met my passie vir liefdadigheid.

10. SASCHA (31), FOTOGRAAF

sascha
Sascha. Foto: Verskaf

HOEKOM HET JY INGESKRYF? 

Ek glo vas: Wie nie waag nie, wen nie. Al werk dit nie uit nie, kan ’n goeie vriendskap daaruit kom en jy nuwe mense leer ken. 

WAARNA SOEK JY IN ’N MAAT? 

Die eerste en belangrikste punt is dat hy my wys wie is die Jesus in hom. Ek glo ’n man wie vir God eerste liefhê, sal sy gesin met Goddelike liefde kan omhels en oppas. 

11. MELANI (32), ONTVANGSDAME

melani
Melani. Foto: Verskaf

HOEKOM HET JY INGESKRYF? 

My vriendin van Suid-Afrika wat tans in Miami woon, het die skakel van "Neels Van Jaarsveld wat opsoek is na liefde” op my Facebook gedeel. In alle eerlikheid het ek getwyfel of ek moet inskryf, veral omdat ek al vir vier en ’n half jaar enkellopend is en dit geniet. Maar hoekom dan nou nie? 

WAARNA SOEK JY IN ’N MAAT?

In ’n man soek ek eerstens vir God, iemand wat glo en vertrou sodat ek weet God sal ons middelpunt wees. Iemand wat respek het vir ons ouer geliefdes en wat nooit dink hy is beter as ander nie. 

12. DORIANNE (29), BERADER

dorainne
Dorainne. Foto: Verskaf

HOEKOM HET JY INGESKRYF? 

Ek het ingeskryf omdat ek vir die eerste keer in agt jaar kon voel my hart is oop vir liefde. Ek het ook nog altyd van Neels gehou en ek wou die man agter die akteur beter leer ken. 

WAARNA SOEK JY IN ’N MAAT?

Ek soek iemand wat God eerste plaas in sy besluite, hy moet eerlik, lojaal, spontaan en ernstig kan wees. Maar bo dit alles moet hy my aanvaar soos ek is en my sien as sy eerste keuse.

  • Op my eish! is Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe

Jongste uitgawe

21 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees