Sy kry ná ’n motorongeluk waarin sy beseer is ’n noodbloed-oortapping van haar neef Bruce Banner, oftewel die groen Hulk.
Nadat haar bloed met dié van Bruce gemeng het, verander sy in ’n twee meter lange groen superheld, She-Hulk – nes haar neef! Maar anders as die Hulk behou sy haar persoonlikheid, intelligensie en emosionele beheer wanneer sy in She-Hulk verander. Bruce help haar touwys maak oor haar nuwe superkragte, maar sy wil nie juis ’n superheld wees nie. Maar het sy enigsins ’n keuse?
Die Kanadese aktrise Tatiana Maslany (36) vertolk die titelrol in dié aksiekomediereeks. Haar gesig is bekend. Sy speel al toneel vandat sy nege was en het roem verwerf toe sy 17 verskillende karakters in die wetenskapsfiksiereeks Orphan Black gespeel het. Sy het in 2016 mense soos Claire Danes, Viola Davis en Robin Wright uitgestof en ’n Emmy vir beste aktrise in ’n dramareeks gewen.