Evan het kykers verlede jaar warm onder die kraag gehad as Brian Sutton, die gefolterde karakter wat sy vrou, Miranda (Jazzara Jaslyn), geslaan het in die M-Net dramareeks Lioness. Meer onlangs het hy vir groot drama gesorg in die kykNET-sepie Suidooster toe hy die restaurantbestuurder Bianca (Simone Biscombe) ontvoer het as deel van sy ma, die slinkse suster Ester Graaf (Marion Holm), se wraakplanne teen die Samsodiens.
Dit was nogal skrikwekkend om Dirk te speel, verklap Evan (26). “Dit was my eerste sepie-ervaring, maar almal was so vriendelik en het my met ope arms verwelkom. Dit het gehelp dat ek vinnig my voete kon vind. Ek het dit eintlik geniet om Dirk se tragiese storielyn uit te beeld.”
Nou is hy weer te sien in sy grootste rol nog – as die aspirantwetenskapsfiksieskrywer Stefan Malherbe in Showmax se trefferromkom Troukoors.