'Vergeet my nie' se sexy Hugo Derks in splinternuwe telenovelle

akkreditasie
Die akteur Sean-Marco Vorster. Foto: Instagram/@seanmarcov
Die akteur Sean-Marco Vorster. Foto: Instagram/@seanmarcov
Die akteur Sean-Marco Vorster (28), wat die hoofrol van Hugo Derks vertolk in 'Huisgenoot', kykNET en The Film Factory se fliek, 'Vergeet my nie', is eersdaags te sien in M-Net se heel eerste telenovelle, 'Legacy'.

Die telenovelle wemel boonop van Afrikaanse sterre. Sean-Marco speel Stefan Potgieter, 'n polisieman wat nou as limo-bestuurder werk vir die skatryk Sebastian Price (Deon Lotz). Sean-Marco se pa, Willem, word vertolk deur die Sara se geheim-ster Dawid Minnaar. Die Trackers-aktrise Trix Pienaar speel sy suster, Petra.

Die reeks draai om die Price-familie in Johannesburg wat met mekaar oorlog voer en die familie gaan behoorlik kykers laat regopsit. 

“Ek is baie dankbaar en bevoorreg genoeg dat ek nog kan werk. Daar is baie mense in die kreatiewe bedryf met wie dit regtig moeilik gaan,” vertel Sean-Marco aan Huisgenoot. 

Hy werk nou vir die volgende 10 maande in Johannesburg aan die telenovelle, wat van September op die kassie te sien sal wees. 

Voor hy weer na die stel toe teruggekeer het, was die akteur en sy meisie, Lara Halloway (26), vir die eerste drie weke van die inperking in Kommetjie, Kaapstad. 

View this post on Instagram

Lockdown partner in crime @hollowaylara ??

A post shared by S e a n - M a r c o (@seanmarcov) on

“Om eerlik te wees was lockdown vir my ’n bietjie van ’n vakansie. Ek en my meisie het ’n Airbnb gehad in Kommetjie en vandaar is ons na vriende se plaas op Wellington.

“Daar het ek net ’n bietjie my kop skoon gekry. Dit was ’n interessante proses om ’n bietjie mental spring cleaning in jou eie kop te doen,” voeg hy by. 

Ander dae het hy en Lara heeldag reekse gekyk, kos gemaak en ook ’n bietjie werk gedoen om aan die gang te bly. 

Volgens die akteur is daar nie enigiets waarna hy uitsien vir wanneer die inperking eendag tot ’n einde gaan kom nie. Solank hy net nou kan werk, is hy gelukkig. 

Hy is terselfdertyd ook opgewonde oor Vergeet my nie, wat van 5 Julie op DStv BoxOffice beskikbaar is. 

“Ek sal beslis vir mense sê hulle moet die fliek gaan kyk as hulle nog nie het nie, want dis ’n baie mooi storie wat gegrond is op ’n ware liefdesverhaal,” sê hy oor die fliek wat deur die Huisgenoot-lesers Mardaleen en Hugo Derks van Gobabis, Namibië, se liefdesverhaal geïnspireer is. 

“Ek dink ook oor die blote feit dat akteurs so rond reis van Londen, Namibië, Johannesburg en Potchefstroom. Dit is ’n soort ritme wat ek nog nie in ’n Afrikaanse fliek gesien het nie. Dis beslis genoeg rede om die fliek te gaan kyk,” sê hy. 

  • Vergeet my nie is van Sondag 5 Julie op DStv se BoxOffice beskikbaar en kan dan afgelaai en tuis gekyk word.

Jongste uitgawe

2 Desember 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees