1. Vir die resep kan jy ’n vuurvaste pan of ’n platboompotjie gebruik. Watter een jy ook al kies, sit dit oor die vlamme en droogrooster die sonneblomsaad 1 min. of tot hulle geure vrystel, maar nog nie brand nie. Skep uit en hou eenkant. As jy dit so in die gietysterpot of pan los, sal die hitte die sade laat brand.
2. Braai die steak soos gewoonlik. Ek weet jy is effens paniekerig omdat ons slaai maak, maar in hierdie stadium kan jy nog aangaan soos altyd. Baie warm kole, draai die steak sowat 3 keer en braai tot dit net verby lig tot halfgaar is, omtrent 8 min. Geur met die sout en peper en laat rus tot jy die res van die slaai aanmekaargesit het.
3. Gebruik jou groenteskiller of ’n baie skerp mes en skil of sny die wortels en murgpampoentjies in dun repe. As jy te lui is daarvoor, rasper dit net met die grootste deel van jou kaasrasper. En as jy selfs dáárvoor te lui is, kap dit net in stukke waarvoor jy nie te lui is nie.