
1. Gestoofde koejawels
- Skil 8-10 koejawels en sny in kwarte.
- Plaas in ’n diep kastrol.
- Voeg 375 ml (1½ k) suiker, 1 steranys, 1 kaneelstok en 2 heel kardamompeule by die koejawels.
- Giet water in tot net bedek, laat prut oor lae tot matige hitte tot die koejawels sag is en die water stroperig word.
- Sit warm voor saam met vla.
2. Koejaweltert
- Voorverhit die oond tot 200 °C en smeer ’n muffinpan.
- Rol ’n rol skilferkorsdeeg uit op ’n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is en sny sirkels om in elke muffinholte te pas.
- Bedek die kante ook en prik liggies met ’n vurk.
- Sny 6 geskilde koejawels middeldeur en plaas elke helfte in ’n muffinholte.
- Bestrooi met bruinsuiker en bak 15-20 minute tot die deeg gaar is. Sit voor met vla of geklopte room.
3. Koejawel-verglanste vark
- Voorverhit die oond tot 200 °C.
- Skil en ontkern 4-6 koejawels en plaas in ’n verwerker.
- Voeg 30 ml heuning, 30 ml sojasous en 5 ml Chinese vyfspeserymengsel by en verwerk goed.
- Geur 4-6 varktjops met peper en giet die koejawelsous oor.
- Laat marineer 30 minute in ’n oondvaste bak.
- Bak 15-20 minute in die oond of tot gaar en verbruin.
- Sit voor met kapokaartappel en seisoengroentes.