Meng 60 ml (¼ k) louwarm water, 5 ml (1 t) suiker en 15 ml (1 e) kitsgis goed in ’n groot beker. Laat die mengsel 15 min. staan of tot dit begin skuim. Meng 750 ml (3 k) koekmeel en 10 ml (2 t) sout in ’n groot mengbak en maak ’n holte in die middel. Voeg 125 ml (½ k) jogurt, 125 ml (½ k) melk en 60 ml (¼ k) gesmelte botter of olie by die gismengsel. Meng goed. Giet die jogurtmengsel in die holte van die droë bestanddele en meng goed tot ’n sagte deeg vorm. Maak ’n bal, bedek die deeg en laat rys op ’n warm plek tot dubbel in grootte. Breek die deeg in 8-10 gelyke bolletjies en rol rofweg uit. Verhit ’n bietjie olie in ’n pan en braai die uitgerolde deeg tot ligbruin aan albei kante. Herhaal met die res.