In April 2009 verloor ek my eerste werk nadat ek klaar studeer het. Ek was net vir ses maande by Woolworths se tydskrif TASTE aangestel toe die maatskappy poste verminder, en laaste in, eerste uit! Ek reken toe dis die einde van my lewe.
Wilmer Müller besluit toe basta met die negatiewe houding: Ek en jy gaan Londen toe sodat jy die wêreld kan sien. Daar geland, het ons by ’n klein pub gaan eet. Ek het tikka masala op die spyskaart gesien en bestel. Daardie vakansie het my kop verander en kort daarna my lewe. Wanneer ek tikka masala maak, onthou ek dadelik daardie vakansie.
Kyk, vis het jy in my grootwordjare in die Noord-Kaap nie eintlik geken nie. Ek spot altyd en sê al vis wat ons geken het, was vismotte! Maar snoek was ’n ander storie.