Varknekrol met appelsider-marinade

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Annelien Pienaar
Foto: Annelien Pienaar
Bereidingstyd: : 35 MIN. MARINEER: 1 UUR/OORNAG
Porsies: 8
Gaarmaaktyd: SOWAT 1 UUR, RUS 10 MIN.
Bestanddele
  • - 1,5 kg varknek, ontbeen en oopgevlek
  • - 250 ml (1 k) karringmelk
  • MARINADE -
  • - 500 ml (2 k) pynappelroerbraaisous (sien resep onder)
  • - 100 ml heuning
  • - 100 ml sagte bruinsuiker
  • - 15 ml (1 e) gerookte paprika
  • - 500 ml (2 k) Hunter’s ­Apple Cider of Appletiser
Metode

Vryf die varknek met die karringmelk in en laat oornag in ’n plastiekhouer in die yskas staan. Die karringmelk breek van die bindweefsel af om die vleis sagter te maak sodat die appelsider makliker in die vleis ingespuit kan word.

Skraap die volgende dag die meeste van die karringmelk af, maar moenie die vleis afspoel nie.

Marinade

Meng al die bestanddele behalwe die appelsider of -sap en vryf dit oraloor die oopgevlekte vleis.

Hou 125 ml (½ k) marinade uit vir die volgende dag se braai.

Rol die nek op en bind dit met tou vas.

Laat dit weer ’n paar uur staan.

Gedurende hierdie tyd kan jy die vleis met die appelsider of -sap inspuit.

Gebruik net die helfte van die vloeistof.

Draai die nek liggies in foelie toe en braai 1 uur oor die kole, op ’n spit of in die oond by 180 °C.

Spuit die vleis af en toe met die sider of sap in – jy kan sommer deur die foelie spuit.

Verwyder die foelie en braai die rol vir die laaste 10 min. oop.

Smeer van die marinadesous met ’n kwassie oor vir ’n soet en taai buitelaag.

Laat die gaar rol 10 min. rus, verwyder die tou en sit voor.

Pynappelroerbraaisous

LEWER 8 x 375 ml-BOTTELS

Voorverhit die oond tot 120 °C.

  • Steriliseer die bottels deur dit te was en plaas dit vir 10 min. in die oond: Verlaag die temperatuur tot 90 °C en hou die bottels in die oond tot dit tyd is om die sous in te skep.
  • Plaas 1 kg pynappel (in stukke gesny), 20 g brandrissies (in die lengte gehalveer, pitte verwyder en grofgekap) en 300 g rooi soetrissie (pitte verwyder en grofgekap) in die bak van ’n voedselverwerker en verwerk tot fyngekap. Die mengsel se tekstuur moet soos rissievlokkies lyk.
  • Verhit 1 kg wit­suiker, 500 ml (2 k) wit asyn, 300 ml appelasyn en 200 ml balsemieke asyn of worcestersous saam en roer oor matige hitte tot die suiker opgelos het.
  • Laat kook 5 min., voeg die pynappelmengsel by en laat kook nog 15 min.
  • Voeg 60 g mielieblom, aangemaak met 125 ml (½ k) asyn uit die bestanddelelys, 5 ml (1 t) sout en 15 ml (1 e) heel fenegriek, by en laat kook 5-8 min. tot verdik – pas op vir aanbrand.
  • Verwyder van die hitte en laat 10 min. afkoel.
  • Bottel dadelik en seël dig.
  • Bêre vir ses tot 12 maande.
Jongste uitgawe

26 Mei 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees