Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Aan die stuur: Vrou vat voor in wynbedryf
15 April 2021


Sturvy titels beteken vir haar sweet boggerol. “Dit maak tog nie die mens nie,” sê Denise Stubbs (49) hier by Diemersfontein op Wellington waar ons aan ’n koffietjie teug. Daar is geen titels op my besigheidskaartjie nie, verduidelik dié besigheidsontwikkelingsdirekteur van Diemersfontein en CEO van Thokozani.

Dis ’n gasvryheid-en-wyn-bemagtigingsmaatskappy met sy 65 plaaswerker-aandeelhouers wat 55% van die handelsmerk Diemersfontein besit. Thokozani beteken “celebration”, en spog met hul eie vierster-gastehuis hier op die plaas, asook drie wynreekse – Thokozani, Ovation en Diemersfontein.

Plus, hul produkte word na sewe lande uitgevoer. Nee kyk, dít kan jy maar oorvertel – dié ystervrou het goeie rede om te celebrate as bobaas in die wynbedryf, al het sy eers op 37 haar heel eerste glas wyn geproe. Sy was een van twee Suid-Afrikaanse vroue wat 2019 se International Enterprising Women Award verower het en dien ook op verskeie organisasies se direksies onder meer Wines of South Africa (Wosa).

Boonop werk sy haar jis af om groter inklusiwiteit in die wynbedryf te verseker. Als sonder ’n MBA, vertel die plat-op-die-aarde-plaaskind van Pniel, in haar lekker Bolandse aksent. “Ek het niks hogere grade nie, maar wel ’n QBE.” Hoe nou? Sy lag lekker, kop agteroor hier op die stoep.

“Dis nie op Google nie. Qualified by Experience.” En oor ondervinding kan dié Denise Stubbs seker ’n boek dikker as die Harry Potter-reeks skryf. Dit was maar ’n geval van snakes and ladders heelpad boontoe.

“Ek is een van drie kinders en my ouers was plaasarbeiders – desjare se Pniel was mos soos ’n plaas – my ma, Sylvia (74), het in die aarbei-lande gewerk, my pa, Rowland (75), ook – hy het later ’n handlanger geword.” Sy ken die dopstelsel. “Ek’t grootgeword in daai era. My ouers was nie juis drinkers nie, en het ons heeltyd gewaarsku – wyn maak dronk, dis sleg vir jou.”

Toe bly Denise maar weg van wyn. Maar, nuuskierigheid het haar tog geprikkel namate sy ouer geword het. “Toe sien ek mos eendag ’n wit vrou wyn drink by ’n restaurant – ek’t haar dopgehou deur die venster, ons kon daai tyd nie daar ingaan nie. Ek sien toe maar dié vrou is dan nie dronk ná haar glas wyn nie. En dit het gelyk of sy dit geniet.”

Denise saam met werkers.

Verg toewyding

Hier by Diemersfontein het die huidige eienaar, David Sonnenberg, se pa al desjare begin om die dopstelsel uit te faseer, sê Denise. “Hulle het fetal alcohol syndrome-organisasies gestig om bewustheid te skep.”

Op 1 November 2003 is sy as HR-officer hier aangestel – ná seker sewe onderhoude met David. Dié wou eers haar hele gesin ontmoet, haar agtergrond leer ken. Maklik was dit nie. “Ek was die eerste vrou van kleur op bestuursvlak en daar was mense wat die lewe vir my moeilik gemaak het. Ek’t oor die jare geleer – jy vat niemand se nonsens nie.”

Die eerste vyf jaar het verbygegaan sonder bonus of aanpassings, maar sy het jaarliks aandele ontvang. “Toe ons begin met Thokozani, het David 4 ha grond teen 20%-afslag aangebied – ons moes net die befondsing vind. David glo hy gee eerder iets teen ’n afslag, nie verniet nie.” Self glo sy vas: Jy bou nie ’n besigheid op ’n freebie nie. Thokozani was ’n vliegtuig wat byna nie opgestyg het nie.

“Daar was mense wat wou hê ons moes fail. Die eerste ses jaar, sjoe. Ons het gesukkel. Maar ons het daai wa deur die drif getrek en hier is ons nou.” Sy is steeds hoof-HR op die plaas, die sogenaamde “Trailblazer”. “Jy móét kan negotiate, en ek was nog altyd ’n solid negotiator.

Denise voeg by: “Onthou, dit móét eers met jou sleg gaan voor dit met jou beter gaan.” Drie dinge het haar laat uithou, aanhou en bekhou. “God, my gesin en die werkers.” Manlief Winston, wat in die toerismebedryf werk, is al die afgelope 19 jaar aan haar sy.

“Hy was my klankbord.” Haar drie tienerdogters bewonder hul supervrou-mammie. Kayleigh (17), Kirston (15) en Taymore (12) is op die plaas by ’n privaat skool sedert driejarige ouderdom.

Denise en haar gesin.

Proe wyn

Dis die reine waarheid dat sy eers op 37 haar mond aan wyn gesit het, vertel Denise. Nie omdat sy wou nie, sy móés. “David het gesê dis ’n besigheid wat wyn verkoop en ek móét die produk verstaan. Ek vra toe, maar hoe werk dit met die mense wat Bob Martin of hondekos maak? Kies die hond of moet die mense wat dit maak, ook eers proe?” Weer hoor jy daai lekker hartslag.

“Toe ek proe, het ek gedink: Sjoe, maar dis sleg. David sê toe dat ons my palate gaan begin ontwikkel. Ek was mos maar nog dom. Hy het vir my ’n brie en vy op ’n beskuitjie gegee om saam met die wyntjie te geniet. En wow, dít was nou nice.”

Toe het ’n landboukundige haar tou- wys gemaak oor wat hier in die wingerde aangaan. En ja, selfs haar Engels het verbeter. “David het my geleer, en hy help my vandag nog reg, maar ek gooi daai Ingels.”

Op sy beurt is David vol lof vir Denise. “Dit was ’n moeilike proses, en ons sou nooit so ver kon kom sonder haar charismatiese energie en hoe goed sy saam met haar span kon handevat nie.”

Kliek met werkers

Die werkers noem haar Stubsie of Judge Judy, vertel die twee wat nou hier by haar kom aansluit. Salomie van Wyk van Wellington werk in die laundry as gasvryheids-assistent. “Ons werk al vyf jaar saam.

Sy is soos ’n suster, al is sy my baas. Toe ek hier kom, het ek gehoor sy kan vol dinge wees, maar sy het my van die begin af baie gemaklik laat voel. Ons het net gekliek. Sy is reguit en ek respekteer haar. Maar ek trap steeds in my spore.” Tholine Samuels wat al 13 jaar in die wingerde as supervisor werk, sê Denise is vir hulle soos ’n berader.

“Ek is op die werkersforum en ons praat gereeld oor wat die mense se behoeftes is, dan doen sy als om te help. Sy het al vir my ’n pos as receptionist aangebied, maar ek het gesê nee, want ek is ’n buitemens. Ek like die way hoe ek in die wingerde operate.” Vier jaar gelede was Tholine al vrou tussen 13 mans wat 10 ha wingerd nuut geplant het.

Kies ’n werk waarvoor jy lief is, waaroor jy passievol is, en dit sal nooit soos werk voel nie.

“Die oes wat daar gelewer is, was die beste oes wat ons ná die droogte van drie jaar gekry het.” Die wingerd is Tholine se baba. “Alles moet in lyn wees, die wortels kan nie sommer so opmekaar wees nie, dan versmoor jou wingerd. Jy moet jou storie ken.” Sy vertel ook hoe Denise die span gevra het vir gebed toe sy verlede jaar Covid-19 opgedoen het.

“Ons het haar gesond gebid. Sy het nóg sterker anderkant uitgekom. Ons staan 100% in gebed agter haar.” Hulle het ’n geestelike en open policy hier op Diemersfontein, vat Denise nou die storie verder. “Jy kan tog nie werklik al jou probleme by die hek los nie,” sê sy.

“Ons is nie robotte nie. Ek sê altyd vir hulle 95% van jou lewe spandeer jy by jou werksplek – en as jy nie hier happy is nie, is jy nêrens happy nie. Hulle kan kom ontlaai. Ek luister graag.” Philida Daniels het ook nou aangesluit by die driestuks. Sy is al 21 jaar hier. “Ek was weg, toe kom ek maar net weer terug. Ek het jare lank in housekeeping gewerk, toe by ontvangs – ek help uit waar ek kan. Destyds toe sy hier aankom, het ek vir haar dankie gesê dat sy verandering gebring het.

Denise skeer swart, bruin en wit oor dieselfde kam. Ons weet waar ons met mekaar staan. Ek onthou haar woorde: ‘Philida, as jy ’n ding wil hê, staan op jou agterpote, selfs by die werk. Moenie net ja en amen nie.’ ” Denise knik instemmend.

“Toe ek hier begin het, het ek geen kennis van die mense gehad nie. Almal wat hier bestuurders was, was wit en almal mans. En hier kom ek, ’n bruin vrou wat nie op haar mond geval is nie,” vertel Denise. Drie weke later, wou sy oppak en waai, maar die werkers het haar gesoebat om te bly.

“Dit het my net sterker gemaak en ons hoef nie weer derms uit te ryg oor die redes nie. Ja, ek het net besef die werkers het my nodig.” Vandag nog is sy nie bang om die boat te rock nie. En haar lewensleuse? “Kies ’n werk waarvoor jy lief is, waaroor jy passievol is, en dit sal nooit ’n enkele dag vir die res van jou lewe soos werk voel nie.”

• Haidee is ’n RSG-aanbieder en regisseur.

Meer oor:  Kuier  |  Wynmaker  |  Entrepreneur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.