Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Aktueel: Delta-variant saai amok in Suid-Afrika
22 Julie 2021


Suid-Afrika gaan tans gebuk onder die derde vlaag van Covid-19 en dis amper meer vreesaanjaend as vroeër, want die Delta-variant, wat vir die eerste keer in Indië opgemerk is, saai verwoesting en niemand kan voorspel hoe erg dinge nog gaan raak nie. Teen druktyd het dit woes gegaan in Gauteng, wat tans die meeste gevalle in Suid-Afrika tydens die derde vlaag het.

Die skerp styging in die aantal positiewe gevalle het pres. Cyril Ramaphosa einde verlede maand genoop om die land na vlak 4 van die inperkings te skuif. Hoewel SA se inentingsprogram aan die gang is, vind dit nie vinnig genoeg plaas nie en die grootste deel van die bevolking is nog nie ingeënt nie. Teen 5 Julie was 3 459 660 mense reeds ingeënt.

Dis amper 6% van die bevolking. Daar was toe reeds 2 075 409 Suid-Afrikaners wat Covid-19 gehad het, van wie 1 827 821 herstel het, maar 62 171 gesterf het. Volgens Netwerk24 was daar teen 6 Julie landwyd 185 417 aktiewe gevalle, met 60% van nuwe positiewe gevalle wat in Gauteng aangeteken is.

Teen druktyd het Gauteng meer as 90 000 aktiewe gevalle gehad. Amper 14 000 pasiënte het hospitaalbeddens vol gelê. In sommige hospitale gaan dit so rof dat dokters nou moet besluit wie het ’n beter kans op oorlewing en hulle dan behandel. Die tweede toetswedstryd tussen die Springbokke en Georgië is ook afgelas weens Covid-19-infeksies in albei kampe.

Volgens ’n verklaring deur SA Rugby het die Springbokke se speel- en bestuursgroep vroeg in Julie 12 positiewe toetse vir Covid-19 opgelewer, terwyl Georgië vier positiewe gevalle gehad het. Volgens die Africa Centres for Disease Control and Prevention maak Suid-Afrikaanse gevalle van die virus meer as 30% uit van die totale gevalle in Afrika se 54 lande. SA se buurland Namibië trek ook nou baie swaar met die grootste persentasie positiewe toetse in die wêreld – 39,4% teenoor SA se 24,3%.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO)moet minder as 5% van die bevolking positief toets vir ’n epidemie om onder beheer te wees. Hoewel baie Suid-Afrikaners ongelukkig is omdat pres. Ramaphosa die drankverbod weer ingestel het, het dit volgens ’n studie deur die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad en die Sentrum vir Aktuariële Navorsing ’n beduidende afname in onnatuurlike sterftes meegebring. Met die drankverbod en die aandklokreël is tussen 42 en 74 lewens per dag gespaar. Of dit hierdie keer ’n beduidende verskil gaan maak, is nog ’n ope vraag.

Versprei makliker

’n Dokter by ’n Gautengse staatshospitaal wat op voorwaarde van anonimiteit met Kuier gepraat het, sê die situasie is buite beheer en die hospitale vol. “Ons is in groot moeilikheid en ons is nog nie eens by die piek van die golf nie. Die groot verskil met hierdie golf is dat hele families geaffekteer word. Voor jy jou kom kry, is die ma, pa en al die kinders positief. En daar is eenvoudig nie meer beddens in die hospitale nie.”

Volgens dié dokter word die jonger generasie nie so siek nie, maar ’n kind kan maklik ’n ouer mens aansteek wat dan kan sterf. “Mense vat dit net nie ernstig genoeg op nie. Hierdie virus moet by die huis hok geslaan word. Mense moet die reëls begin volg. Dié virus diskrimineer nie. Wat ons hier sien, is soos scenes uit ’n horror-fliek.”

Tans kan mense bo 50 reeds in die ry gaan staan vir inentings en die departement van gesondheid is besig om voor te berei vir die 40-plussers. Die Suid-Afrikaanse polisie en onderwysers word landwyd ook nou ingeënt.

Daar is egter nog ’n hele entjie om te gaan voordat die land “herd immunity” kan bereik, veral met die Delta-variant wat tans amok saai wêreldwyd. Daily Maverick berig die Delta-variant is opgemerk in Indië in Oktober 2020, het reeds versprei na 85 lande en is dominant in die meeste. In SA is dit ongeveer 45%, veral in Gauteng.

Dis anders as vorige variante omdat dit makliker aansteek en versprei. Dit maak jou ook sieker en lei tot ’n groter kans op hospitalisasie. Die aansteeklikheid is hoekom ’n mens nou hele gesinne sien wat positief toets asook pasiënte so jonk as 20 of 30 wat baie siek word. Die goeie nuus is dat die entstof, veral as jy beide jou spuite gekry het, baie goed werk om ernstige siekte te voorkom, hoewel jy steeds die virus kan kry.

Die algemeenste simptome van die Delta-variant is hoofpyn, ’n seer keel, loopneus en nieserigheid. Omdat die virus gedurig verander, is die kans goed dat nuwe variante in die toekoms sal ontwikkel. Dit is hoekom inenting so belangrik is. Intussen het die Lambda-variant sy kop uitgesteek. Lambda het agt maande gelede in Peru verskyn en het al na 31 lande versprei.

Die WGO het dit as ’n variant van belang geïdentifiseer. Teen druktyd was dié variant nog nie in SA aangemeld nie. Te midde van groeiende angs en vrees vir die Delta-variant, veroorsaak fake news oor die entstof paniek en verwarring. Dr. Sheri Fanaroff, ’n Johannesburgse GP, skryf in ’n meningstuk dat beide die Johnson and Johnson- en Pfizer-inentings oor die algemeen minder ernstige newe-effekte veroorsaak wat een tot drie dae duur, maar nie Covid-19-infeksies kan veroorsaak nie.

Die inentings kan nie infeksie veroorsaak nie omdat dit nie die lewendige SARS-CoV-2- virus bevat nie. (Die teenoorgestelde word op WhatsApp en die internet versprei.) “Newe-effekte sluit in swelling of pyn op die inspuitplek, hoofpyn, liggaamspyne, kouekoors, naarheid, jeuk, koors, diarree, braking, armpyn en geswelde kliere. Mense wat reeds Covid gehad het, kan effens erger newe-effekte ervaar as diegene wat nie gehad het nie,” verduidelik dr. Fanaroff.

Sy brei uit en sê daar is ’n seldsame voorkoms van die J&J-entstof wat bloedstolling (clotting) by vroue veroorsaak. “Covid-19 self is egter verantwoordelik vir ’n baie hoër voorkoms van bloedstolling en wêreldwye gesondheidsowerhede soos die Centres for Disease Control and Prevention meen die voordele van die entstowwe is meer as die risiko’s.”

Klaar ingeënt

Japhta Makwena (27), ’n onderwyser by Hoërskool Portland op die Kaapse Vlakte, het op 30 Junie 2021 die Covid-19-inenting ontvang. Hy voel hy staan nou ’n beter kans teen die virus indien hy dit opdoen. “Ná die inspuiting het ek ’n paar newe-effekte soos ’n seer liggaam en koors gehad, maar andersins was ek piekfyn. Dit het slegs ’n dag geduur.”

Johanna Clarke (84) van Lansdowne in die Kaap, het onlangs die inenting ontvang. “My dogter het my aanlyn geregis-treer vir die inenting. Ek was baie senuweeagtig in die dae voor die inenting. Sjoe, ek het nie geweet wat om te verwag nie.”

Sy lag en sê die inenting was glad nie so seer as wat sy gedink het dit sou wees nie. “Ek het geen newe-effekte gehad nie! Ek is nou glad nie meer so bang vir Covid nie. Dit het gevoel soos ’n normale inenting. Ek moedig almal om aan om te gaan.” Venecia Valentine (29), ’n joernalis van Mitchells Plain, het al twee keer in die afgelope jaar positief getoets vir die virus.

“Die eerste keer was in Junie 2020 en dié ervaring was ’n ride to the pit of hell. Ek het so gesukkel om asem te haal en was afhanklik van die nebuliser.” Presies ’n jaar later het Venecia in Junie vanjaar wéér die virus opgedoen. “Die vorige keer het my ouers dit ook gehad, maar dié jaar het hulle die inenting ontvang, maar ons was steeds baie versigtig en ek het weg van hulle geïsoleer.”

Venecia dink almal moet inenting oorweeg. “As jy nie die vaccination wil vat nie, los dan vir ons wat dit wel wil hê in vrede sonder om ons te wil kruisig.” Die stryd teen die virus is nog lank nie verby nie, maar ten minste het ons nou ’n wapen daarteen en deur inenting te kies, kan ons almal help om die derde vlaag vinniger te beëindig.

* Foto’s: Gallo Images/Getty Images

Meer oor:  Delta Variant  |  Kuier  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.