Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Are bars in brein: Swanger vrou se nagmerrie
16 September 2021


My God is so groot, so sterk en so magtig. Daar is niks wat my God nie kan doen nie. My God is ’n God van wonderwerke!” Só verklaar Tamara Goliath (30) van Mitchells Plain in die Wes-Kaap nadat sy in Oktober verlede jaar twee breinaneurismes gehad het terwyl sy agt maande swanger was. Daar was tye wat sy gedink het sy gaan dit nie maak nie, maar telkens het die Here bewys dat Hy nooit Sy kinders verlaat nie.

Tamara, haar man, Lindsay.
Op daai stadium kon ek glad nie praat of loop nie en my man was mal van bekommernis. Hy het sy suster ontbied en hulle het my in ’n kantoorstoel gesit en af by die trappe begin dra.

Tamara glo sy is ’n wonderwerk op twee bene en ná twee breinoperasies is sy gelukkig om nog te kan praat en loop. Dokters het voorspel dat Tamara eers dae ná die twee operasies sal wakker skrik en dan sal hulle die skade kon bepaal. Maar enkele ure ná die operasies het Tamara haar oë oopgemaak en wonderbaarlik begin sing. Selfs die dokters was verras toe Tamara enkele ure ná die intense operasies kon regop sit en ook haar arms beweeg.

“Dit is hoe getrou God is. Ek vat nie een enkele oomblik net soos dit kom nie. Alles is net genade. Dit is ’n bewys dat God steeds wonderwerke verrig en hoewel dit ’n moeilike en uitputtende tyd in ons lewens was, is ek dankbaar vir nog ’n dag.”

15 Oktober 2020 was vir die Goliath-gesin ’n doodgewone dag. Die gesin sou na vriende se huis gaan om die paartjie se nuwe woning in te seën. Tamara vertel daar was niks vreemd aan die dag nie, behalwe normale pregnancy cravings natuurlik! “Voor ons begin regmaak het, het ek in die voorkamer gesit en Bybel lees en my man, Lindsay, was in die kamer. Ek het besef dat ons sal moet begin klaarmaak indien ons betyds wou wees.”

Tamara onthou die Bybelteks wat sy daardie dag gelees het, was merkwaardig. “Ek kan nie presies onthou uit watter boek die teks gekom het nie, maar dit het gepraat oor die koste wat ’n mens moet betaal wanneer jy vir Jesus volg. Nie een keer het gedink dat ek slegs oomblikke later getoets sou word nie.”

Are bars in haar brein

Sy het haar badwater ingetap en toe in die bad geklim. “’n Paar minute nadat ek in die bad geklim het, het ek nie lekker gevoel nie. My kop het begin pyn. Ek het my man geroep om vir my ’n handdoek te bring. Die kamer sit net oorkant die badkamer, maar dit het gevoel of hy ’n ewigheid vat. Ek het toe self opgestaan, uit die bad geklim en na die kamer gestap. Die migraine wat ek gehad het, was so erg dat dit gevoel het of daar warm water oor my brein spoel. Letterlik. Toe ek in die kamer kom, het ek myself op die kooi neergegooi.”

Kort nadat Tamara haarself op die kooi neergegooi het, het sy ’n seizure gehad. “My tong het swaar gevoel in my mond en ek kon nie praat nie. Aanvanklik het ek probeer, maar dit het geklink soos ’n dronk mens wat praat. Ek het ook onophoudelik begin opgooi. Dit het by my mond uitgestroom. “Op daardie stadium van die geveg het Tamara en haar man gedink dat daar iets fout is met hul baba en nie een keer het hulle gedink dat Tamara besig is om ’n breinaneurisme te ondergaan nie. Tamara was ook van haar nek af ondertoe verlam.

“Lindsay het my ginekoloog gebel en hy het by die hospitaal die teater begin prep vir my om geboorte te skenk. Ek kon nie die baba voel beweeg nie en ek kon selfs nie my bene beweeg nie. My man het begin bid en die ambulans ontbied.” Tamara en haar gesin woon op die derde vloer van ’n woonstelblok. ”Op daai stadium kon ek glad nie praat of loop nie en my man was mal van bekommernis. Hy het sy suster ontbied en hulle het my in ’n kantoorstoel gesit en af by die trappe begin dra.”

Toe hulle onder kom, het die ambulans ook opgedaag. Teen daai tyd het ’n knop teen die regterkant van Tamara se kop begin ontwikkel. “Die paramedici wou weet of ek ’n kop- stamp weg het en of ek dalk geval het, maar ek het nie. So my man kon geen verklaarbare rede verskaf oor hoekom die knop daar is nie. Hy het dit toe ook eers opgelet.”

Sy in die hospitaal.
Die plek waar bloed van Tamara se brein af gedreineer is.

Tamara is na Melomed in Mitchells Plain gehaas. “Met my aankoms by die hospitaal is daar bevind dat die toestand waarin ek myself bevind niks met die baba te doen het nie. Die dokter het spesifieke vrae aan my man begin vra soos of ek geval het, of ek stres ondergaan het, of ek opgegooi het en of dit projekteer het. Na aanleiding van die antwoorde wat hy op dié vrae gegee het, is ek gestuur vir ’n breinskandering.”

Daar is bevind Tamara het twee brein-aneurismes gehad. Volgens Mayo Clinic se webtuiste word ’n breinaneurisme veroorsaak deur ’n swak bloedvat in die brein wat opblaas en met bloed gevul word. Die meeste intrakraniale (in die skedel) aneurismes kom voor tussen die onderkant van die brein en die basis van die skedel. Die aneurisme kan lek of skeur, wat lewensgevaarlike bloeding veroorsaak. ’n Ononderbroke aneurisme veroorsaak gewoonlik geen simptome nie. ’n Sleutelsimptoom van ’n gebarste aneurisme is ’n skielike, erge hoofpyn – soos die een wat Tamara ervaar het. ’n Aar het aan die regterkant van haar brein gebars en bloeding op die brein veroorsaak. Dit is die kant van die brein wat verantwoordelik is vir kommunikasie-vaardighede.

“Elke keer wanneer ek net daaraan dink, dink ek aan hoe anders dinge kon gewees het. As hulle net op die baba en geboorte moes konsentreer, sou hulle my heel waarskynlik op daai operasietafel verloor het en my kinders sou ma-loos moes grootword. Dit is net die genade van die Here.” Tamara het twee ander kinders. Oomblikke nadat dokters vasgestel het wat fout is met Tamara, is sy na ’n hospitaal in Tokai gehaas vir haar eerste operasie. “Die dokters se prioriteit het toe verander. Hulle wou toe my lewe red. By die hospitaal moes hulle ’n sny in my kop maak sodat hulle die bloed van my brein kan dreineer. Dit was om die drukking te verlig.”

Nadat dié operasie suksesvol was, is Tamara oorgeplaas na die UCT-hospitaal sodat hulle die bloedvat kon clamp. “Hulle het ’n metaalplaatjie in my kop geplaas om die bloedvat te stop en te verhoed dat dit verder sal bloei en verdere skade sal veroorsaak.”

Haar baba was steeds knus en gesond in sy ma se baarmoeder. Volgens Tamara het dokters toe voorspel sy sal nie 100% kan praat nie, dalk mank gaan loop en ook dat haar sig geaffekteer sou word. Hoe erg die skade was, sou hulle egter eers dae later kon bepaal. Toe Tamara egter ure ná die operasie wakker skrik, was dokters verbaas.

“Hulle wou eerste kyk of ek regop kan sit en my ledemate kon beweeg. Ek kon ure ná die operasie beweeg.” Tamara het uit dankbaarheid in die hospitaalsaal begin sing. “Dit is die eerste ding wat ek wou doen. Ek wou my dank betuig aan die Hemelse Vader dat Hy my uitgespaar het.”

In ’n video wat kort ná die operasie opgeneem is, kan ’n mens sien hoe Tamara steeds swak in haar hospitaalbed lê, maar dit tog regkry om te sing. “Baie mense het my gevra hoe ek dit nog kon regkry om my laaste energie te gebruik om te sing, en my antwoord is altyd dat God die ergste battles aan die sterkste soldate gee. Hy het my gekies om sy goedheid ten toon te stel.”

Nog ’n slag

Twee weke ná die operasie het Tamara weer sleg gevoel. “Dié keer was dit my linkerkant wat heeltemal lam geword het. En ek is links, so toe dit gebeur, het ek natuurlik paniekbevange geword en het na die suster geroep. Mense van wyd en syd het vir my begin bid. Selfs die verpleegsters in die saal het gebid en gelukkig het ek ’n dag of twee later die gevoel in my liggaam teruggekry.”

Ná ’n maand in die hospitaal het ’n fisioterapeut Tamara kom sien. “Onthou toe is ek al vir meer as ’n maand bedlêend. My senuwees was gedaan. Sy het na my gekom en gesê ons gaan dit rustig vat, stappie vir stappie. My bene was bewerig toe ek van die kooi afklim en sy het my hand vasgehou terwyl ons gestap het. ’n Paar treë verder het sy my hand gelos en ek het begin stap. Alleen, sonder hulp. En ek kon reg loop. Daar was absoluut niks fout met my bene nie. Toe ek omdraai, het sy met haar hand voor haar mond gestaan.”

Tamara lag voor sy sê dat sy haar trane nie kon keer nie. “Ek was so emosioneel, want om die uitdrukking op haar gesig te sien, was ’n bewys van hoe geskok sy was. Selfs ek was geskok, want hoewel ek geglo het dat ek ten volle sal herstel, het ek nie gedink dit sal so vinnig wees nie.”

Ook die feit dat Tamara nou vlot kan praat, is ’n wonderwerk. “Dit was my communicating artery (verskaf bloed en suurstof aan die brein) wat gebars het en dit het beteken dat ek nou stadiger of met ’n slur moes praat, maar dit is duidelik nie die geval nie. Ek praat nou meer as wat ek ooit in my lewe gepraat het! Ek dink dit is omdat ek nou die belangrikheid van my spraak besef. ’n Mens het die geneigdheid om nie ’n ding ten volle te waardeer indien jy dit nie ampertjies verloor het nie.”

’n Week nadat dokters vasgestel het Tamara kan loop, is sy uit die hospitaal ontslaan. “Ek was nog heeltyd in die intensiewe-sorgeenheid en moes oorgeplaas word na ’n algemene saal, maar daar was nie rede daarvoor nie. Ek kon reguit huis toe gaan. Nou sê my hoe kan ek wil omdraai as die Here so deurkom vir my? My lewe was vir ’n maand tot stilstand geruk, maar dalk was dit wat ek op daardie tydstip nodig gehad het. ’n Mens kan nooit verklaar hoekom sekere dinge met jou gebeur nie, maar ek glo vas wat met my gebeur het, was om aan ander te wys wat die Here vir jou kan doen.”

Tamara was skaars ’n week by die huis toe sy weer in die hospitaal opgeneem moes word. Dié keer om geboorte te skenk aan haar baba, Israel Jude (nege maande). Tamara haal die volgende Bybelvers aan om Israel te beskryf. Dit kom uit Jesaja 60: 22: “‘Die kleinste onder hulle sal duisende word, die swakste ’n sterk nasie. Wanneer die tyd daarvoor kom, doen Ek dit. Ek is die Here.’ Dit is presies wat Israel vir ons beteken. ’n Mens sou dink dat hy siek sou wees nadat hy ook soveel moes verduur terwyl hy in my baar was, maar hy was en is fris en gesond.”

Sy sê met trane wat blink in haar oë dat God juis besig is om te werk wanneer jy swak en kwesbaar is. “Jy worstel dalk oor hoekom jy vandag in die situasie sit waarin jy sit. Jy bevraagteken God dalk oor hoekom sekere dinge dan met jou gebeur, maar jy moet onthou dit is wanneer jy op jou swakste is dat God die sterkste vir jou deurkom.”

Ek kon my kind verloor het, met newe-effekte gesukkel het, ek kon selfs doodgegaan het, maar ek het nie. En dit is wat belangrik is. Ek is nie wat met my gebeur het nie, maar wat ek daarvan gemaak het.
Die Goliath-gesin is dankbaar dat die Here hulle deurgedra het.

Getref deur Covid-19

’n Paar maande voor sy die breinaneurismes gehad het, het sy en haar gesin erg deurgeloop onder Covid-19. “Ons was siek, maar het deurgetrek en die baba het ook toe niks oorgekom nie. Die Here was ons regtig nog net genadig. As ek daai tyd geweet het ek sou slegs ’n paar maande later twee breinaneurismes hê, sou ek nie eens gekla het nie,” lag Tamara nou.

Sy vertel dankbaar dis juis die storms in die lewe wat jou leer om karakter te bou en vas te klou aan die enigste ding wat ’n konstante is – jou geloof. “Ons as mens het die geneigdheid om op te gee en op te hou glo wanneer dinge nie lekker gaan nie. Maar dit is juis dan dat jy God moet prys – of dit goed gaan of sleg gaan. Ons dien nie net ’n mooiweer-God nie. Ons dien ’n alomteenwoordige God.”

Sy sê voorts dinge kon baie anders vir haar uitdraai: “Ek kon my kind verloor het, met newe-effekte gesukkel het, ek kon selfs doodgegaan het, maar ek het nie. En dit is wat belangrik is. “Ek is nie wat met my gebeur het nie, maar wat ek daarvan gemaak het. Klou vas aan jou geloof, ook die storms sal oorwaai en vertrou dat God jou op arendsvlerke daardeur sal dra.”

Meer oor:  Kuier  |  Aneurisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.