Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Bibberend: Altyd koud kry kan dié siektes wees
5 Augustus 2021


Jou ma het jou geleer om altyd ’n trui of jassie byderhand te hou “net vir ingeval”, maar deesdae voel dit jy moet in reën of sonskyn altyd die ding dra, want al loop ander mense in hul somerklere rond, kry jý altyd koud.

Dit is normaal om koud te kry in die snerpende winter of as jou kantoor ’n aggressiewe aircon het, maar as jy amper altyd koud kry vir geen rede, kan dit ’n teken wees dat daar iets binne-in jou broei wat veroorsaak dat jy soos ’n sneeuman voel, selfs in die somer.

“Ek het altyd ’n trui en ’n somerserp byderhand,” vertel Beverly la Grange (43), ’n ma van Gqeberha in die Oos-Kaap. “Die son moet net so lyk-lyk hy wil agter ’n wolk inskuif, dan voel ek die koelente oor my kom. My kinders rol amper elke dag hul oë vir my as ek skreeu hulle moet warmer aantrek. Ek is nou maar seker net een van daai mense wat altyd koud kry. Soos my ma altyd sê, ‘koue hande, warm liefde’,” lag sy.

Dr. Sarah Ambrosius, ’n algemene praktisyn van die Kaap, sê sommige mense is maar só. “Daar is mense wat net die hele tyd koud voel. Dit kan wees dat jy eenvoudig net nie ’n toleransie het vir koue nie, maar dit is nie noodwendig rede tot kommer nie,” verduidelik sy.

Dit is egter die moeite werd om jou dokter te besoek net om seker te maak, want daar is ’n paar gesondheidstoestande wat die oorsaak kan wees, maar dit gaan gewoonlik gepaard met ander simptome. moontlike siektes “Hipertireose (hypothyroidism) is ’n toestand waar jou skildklier nie genoeg hormone produseer om jou metabolisme behoorlik te reguleer nie, wat dan stadiger word.

Ander simptome sluit in moegheid, gewigstoename, hardlywigheid, droë vel, verdunning van hare, depressie, swaar maandstonde en sensitiwiteit tot koue,” verduidelik dr. Ambrosius. Volgens haar is moegheid gewoonlik die grootste teken.

’n Tweede moontlike oorsaak is anemie. Dit is wanneer jy nie genoeg gesonde rooibloedselle het wat suurstof deur jou liggaam kan vervoer nie. “Dit lei tot swak sirkulasie, wat jou koud kan laat voel, veral in jou hande en voete. Ander simptome sluit in swakheid, moegheid, onreëlmatige hartklop, bleek vel, hoofpyn en borspyn. Daar is verskeie tipes anemie, maar die mees algemene een is as gevolg van ’n ystertekort.” Nog ’n moontlikheid, is Raynaud se siekte – ’n toestand waarmee soveel as een uit elke tien mense worstel.

“Ek is so 15 jaar gelede met Raynaud’s gediagnoseer,” vertel Lena Bruwer (48) van Johannesburg. “Ek bestuur die situasie deur my kerntemperatuur hoog te hou deur byvoorbeeld te veel klere aan te trek. Dit raak bitter koud hier in die winter, so dan raak dinge moeiliker. Ons het nie aircon nie, so ek ek het heaters in elke vertrek wat amper heeldag aan is. Ek dra ook handskoene en het altyd ’n warmwatersak by my.

Slaap is kardinaal om jou liggaamstemperatuur te reguleer. As jy nie genoeg kry nie, kan dit voel asof jy ’n ysblok is.

Tog ontwikkel ek winter ná winter klein, ontsettende pynlike ulcers op my vingerpunte wat om aan enigiets te raak, selfs om te tik, ’n struggle maak. My knuckles swel ook baie gereeld op. In die somermaande kan ek weer nie swem nie, want dit maak dieselfde.”

Volgens dr. Ambrosius het mense met Raynaud se siekte ’n groter sensitiwiteit tot temperatuurverandering. “Dit veroorsaak dat jou bloedvate vernou en keer dat die bloed tot by jou vel se oppervlakte kom wanneer dit baie koud is, of in sommige gevalle as gevolg van emosionele spanning. Dit kan lei tot ’n ‘aanval’ waar jou vingers van kleur verander – van normaal, na wit, na blou, na rooi. Vingers en tone kan ook baie seer raak.

Dit kan ook ’n impak hê op jou neus, lippe en ore. Die oplossing lê gewoonlik nie in medikasie nie, maar in leefstylveranderings.” Dié siekte is meer algemeen in vroue, mense oor 30, iemand wat in ’n koue plek bly en diegene wat ’n familiegeskiedenis van die toestand het. ’n Vierde rede vir die alewige koud kry, kan wees dat jy onlangs ’n groot klomp gewig verloor het.

“Jou liggaam gebruik vet om hitte te stoor, so dit maak sin dat as jy gewig verloor het, jy dalk ’n bietjie kouer sal kry veral as jou BMI (body mass index) onder 18,5 is. Ook, as jy te min kalorieë inneem, kan jou metabolisme stadiger word en jou temperatuurregulasie nie so goed werk as gewoonlik nie,” verduidelik dr. Ambrosius. “Koue intoleransie kan ’n simptoom wees van ’n eetstoornis soos anoreksie of bulimia,” waarsku sy. Diabetes kan op die beurt weer nier- en sirkulasietoestande veroorsaak wat jou koud laat.

“As dit nie behoorlik behandel word nie, kan dit ook senuwees beskadig, veral in jou voete. Tipe 2-diabetes is meer geneig om jou te laat koud kry as Tipe 1. Ander simptome van diabetes sluit onder meer in: moet gereeld toilet toe gaan, is gedurig vreeslik dors of honger, voel moeg en tam, sukkel om te sien en seerplekke vat lank om gesond te word.” angs en min slaap.

Volgens dr. Malory de Beer van Gqeberha, is daar twee ander redes waarom mense die hele tyd koud kry waarvan hulle nie weet nie. “Angs en angsaanvalle of ’n tekort aan slaap kan maak dat jy heeltyd koud voel,” sê sy. “Hoewel angs meer geassosieer word met oormatige sweet, kan dit veroorsaak dat jy chilly ook voel. Paniekaanvalle kan selfs veroorsaak dat jou hele liggaam bewe van die koue.”

Die tweede moontlike oorsaak wat niks met jou gesondheidstoestand uit te waai het nie, is ’n tekort aan slaap. “Slaap is kardinaal om jou liggaamstemperatuur te reguleer. As jy nie genoeg kry nie, kan dit voel asof jy ’n ysblok is. Dit is altyd die eerste vraag wat ek vir my pasiënte vra as hulle kla oor die koue – ‘kry jy jou agt ure?’” voeg dr. De Beer by. As jy gereeld koud kry, kan dit ook net wees dat jy ’n vrou is.

’n Studie in 1998 deur die Universiteit van Utah in Amerika het bevind vroue se hande, voete en ore kan tot 3°C kouer wees as dié van mans. Dit is deels omdat vroue oor die algemeen minder weeg as mans en stadiger metabolismes het, wat beteken ons genereer nie so baie energie soos mans nie. Om warm te bly, is die beste raad steeds wat jou ma gesê het – dra lae klere, eerder as een dik laag.

“Lae hou die hitte binne en verskaf beter insulasie. As jou hande en voete koud kry, maak jou hele lyf toe, eerder as net die koue dele. Moet ook nie reg voor die verwarmer of vuur gaan sit as jy inkom uit die koue uit nie. Dit kan lei tot ekstra pyn en selfs wintervoete en -hande,” sê dr. Ambrosius. Party mense kry nou maar net eenvoudig vinniger en meer koud as ander. Dis nie gewoonlik ’n rede tot kommer nie, maar as dit vererger of ’n nuwe ervaring is, is dit altyd beter om eerder jou dokter te besoek.

* Foto: Gallo Images/Getty Images

* Bykomende bron: https://www.sciencefocus.com/the-human-body/why-do-women-feel-the-cold-more-than-men/

Meer oor:  Gesondheid  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.