Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Borskanker: Wat is feit en wat is fiksie?
15 Oktober 2020


Amper elke dag hoor ons van kanker – in ons eie families, tydskrifte of social media. En met al die uiteenlopende inligting, is dit soms amper onmoontlik om uit te pluis wat die waarheid is. Veral in Oktober, wat borskankermaand is, word ’n mens toegegooi onder die inligting, maar nie alles is waar nie. “Ek het borskanker gekry toe ek 40 was en dit genadiglik oorleef,” vertel Romana Jansen (53) van Pretoria in Gauteng.

Dokters kon nooit ’n rede gee hoekom sy dit gekry het nie en sy was die eerste een in haar familie wat daarmee gediagnoseer is. “Maar my ouma en anties sê altyd dis omdat ek ’n koffiepot is en ek tampons gebruik en underwire bra’s dra,” lag sy.

Iemand anders wat sukkel om tussen feit en fiksie te onderskei, is Natasja Benjamin (42) van Kaapstad. “My ma en my ouma het gesterf aan borskanker, so ek is maar paranoid. Ek drink lankal al net soja-melk (wanneer ek dit kan bekostig, anders drink ek swart) en dra nie meer bra’s nie. Ek is so bang ek word ook siek dat ek gedurig op die internet rondlees wat nou al weer kanker veroorsaak en dan probeer ek dit uit my lewe uitsny.”

Kuier het twee borskankerspesialiste, prof. Michael Herbst, ’n gesondheidspesialis en radiografis wat betrokke is by die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa), en dr. Herman Fourie, ’n spesialis radioloog by Netcare Femina en PinkDrive, genader oor die grootste mites oor borskanker en uitgevind wat die waarheid nou eintlik is.

Mite 1: Soja-produkte veroorsaak kanker.

Prof. Herbst verduidelik navorsing oor sojaprodukte oor die jare stem nie ooreen nie. “Soja het die kapasiteit om sekere tipes estrogeen te blokkeer en na te maak. Oor die algemeen lyk natuurlike soja, soos soja-melk, tofu en soja-bone veilig en het ander noemenswaardige gesondheidsvoordele indien jy dit gebruik in plaas van ander bronne van melk en proteïen.

Gekonsentreerde vorms van soja, soos pille, poeiers en supplemente, het wel potensiaal vir estrogeen-aktiwiteit en moet liefs vermy word deur enigiemand wat reeds gediagnoseer is met borskanker.”

Mite 2: Borskanker is vir ouer mense in ryk en ontwikkelde areas.

Dr. Fourie verduidelik enigiemand kan kanker kry, maak nie saak wie jy is of waar jy bly nie. Die jongste meisie in SA wat met borskanker gediagnoseer is, is net ses jaar oud. Toe sy so agt was, het sy ’n dubbele mastektomie ondergaan.

In Kanada is ’n tweejarige gediagnoseer met borskanker en op drie is haar bors verwyder. Dit is egter belangrik om te onthou as dit vroeg opgespoor word, kanker genees kan word.

Mite 3: Organiese kos verminder jou kanse om kanker te ontwikkel.

Volgens prof. Herbst speel ’n gebalanseer-de dieet ’n sleutelrol in jou gesondheid. Dis altyd ’n goeie idee om organiese kos te eet indien moontlik om die plaagdoders en hormone te vermy. Daar is egter geen wetenskaplike bewyse dat nie-organiese kosse jou kanse op borskanker vergroot nie. Mite 4: Daar is geen tekens of simptome vir borskanker nie.

Volgens dr. Fourie is dit nie waar nie. Daar is verskeie simptome en tekens, insluitend ’n harde, growwe knop in jou bors of armholte, swelling van die kliere in jou armholte, verandering in jou bors se vel, byvoorbeeld nuwe dimpels.

Jou bors of tepels se vorm of grootte kan ook verander. Dit is egter belangrik om te weet die meeste kankerknoppe is pynloos – juis daarom moet ’n mens gereeld jou borste ondersoek. Nie alle knoppe is kwaadaardig nie.

Die jongste meisie in SA wat met borskanker gediagnoseer is, is net ses jaar oud.
Mite 5: As ek positief getoets het vir die BRCA1- of BRCA2-geenmutasie (wat borskanker veroorsaak), moet ek ’n dubbele mastektomie kry.

Prof. Herbst verduidelik iemand met ’n BRCA-mutasie het ’n groter risiko om borskanker te kry en baie vroue kies om ’n dubbele mastektomie te kry as voorsorgmaatreël. Maar net omdat jy ’n BRCA-mutasie het, is dit nie nodig om ’n mastektomie te kry nie, solank jy die regte behandeling ontvang en gereeld vir ondersoeke gaan.

Dit is belangrik om te weet ’n dubbele mastektomie verminder jou kanse om borskanker te kry drasties, maar daar is steeds ’n klein kans dat dit steeds kan ontwikkel. ’n Gereelde mammogram is belangrik om enige veranderinge in jou bors betyds op te tel.

Mite 6: Om geld in jou bra rond te dra, veroorsaak borskanker.

Dr. Fourie meen dit is onwaar. Om jou bra as ’n beursie te gebruik, veroorsaak pyn en ongemak, maar nie kanker nie.

Mite 7: Deodorant, bra’s, hair dyes en selfone veroorsaak kanker.

Gelukkig is dit heeltemal vals en daar is geen bewyse vir hierdie mite nie. Hoewel dit nie borskanker veroorsaak nie, kan dit absesse in jou armholte veroorsaak, volgens prof. Herbst.

Mite 8: Dit is nie moontlik vir mans om borskaner te kry nie.

Omdat mans ook borste, armholtes, spiere en tepels het, kan hulle ook borskanker ontwikkel, verduidelik dr. Fourie. Ander gewilde mites wat volgens prof. Herbst geen bewyse het nie, is dat bensienwalms, kanola-olie, tampons en maagsere kanker kan veroorsaak. Dit is ook nie waar dat kanker aansteeklik is, dat net ongesonde mense kanker kry of dat suurlemoen kankerselle doodmaak nie.

Die beste raad is om gereeld vir ondersoeke te gaan om seker te maak indien jy borskanker ontwikkel, dit vroegtydig gediagnoseer en behandel word. Mammogramme is tans die doeltreffendste manier en daar is bewyse dat dit borskankersterftes met ongeveer 20% verlaag. Dit is ook belangrik om gereeld jou borste self te ondersoek, maar ook om vir ’n kliniese ondersoek by ’n gesondheidwerker aan te klop.

Vir meer inligting oor borskanker, besoek gerus www.pinkdrive.co.za of www.cansa.org.za.


Borskanker: risikofaktore & feite

Risikofaktore Volgens prof. Michael Herbst, ’n gesondheidspesialis en radiografis wat betrokke is by Kansa, is die grootste risiko faktore vir borskanker in vroue:

• Geslag: Die blote feit dat jy ’n vrou is, is die grootste risikofaktor.

• Ouderdom: Soos jy ouer word, vergroot jou kanse vir borskanker.

• Familiegeskiedenis: Vroue met familielede wat gediagnoseer is met borskanker het ’n groter risiko om dit ook te ontwikkel. As jou suster, ma of dogter borskanker het, is jou kanse dubbeld.

• Genetika: Ongeveer 5 – 10% van borskankergevalle word as oorerflik aanvaar.

• Jou eie geskiedenis: As jy reeds borskanker gehad het, is jou kanse drie tot vier keer groter om ’n nuwe kanker in die ander bors of ’n ander deel van dieselfde bors te ontwikkel.

• Gewig: Vroue wat oorgewig is, is meer geneig om borskanker te kry as vroue met ’n gesonde gewig, veral ná menopouse.

• Rook en drank verhoog jou kanse. Feite oor borskanker

• Wanneer borskanker op ’n mammogram aangedui word, kan dit al vir ses tot 10 jaar in jou liggaam gewees het.

• Sterftes as gevolg van borskanker is aan die afneem.

• Borsvoeding verlaag jou kanse op borskanker, veral as jy langer as ’n jaar gevoed het.

• Niemand weet nog hoe om borskanker te vermy nie.

• Hoe ouer jy word hoe groter jou risiko. Ongeveer 50% van borskankergevalle is vroue oor die ouderdom van 62.

* Foto's: Gallo Images/Getty Images

* Illustrasie: Ryan Carolisen

* Bron: https://bit.ly/3474zzH

Meer oor:  Borskanker  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.