Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Cheslin Kolbe lewe vir dié drie
22 Julie 2021


Die beste rugbyspeler ter wêreld – dít is hoe Cheslin Kolbe (27) deesdae beskryf word.

Cheslin is van Kraaifontein in die Kaap, maar woon deesdae in Frankryk. Mense kom van heinde en verre om hom op die rugbyveld te sien uitdraf en teen die einde van 2019 het hy reeds elke groot toekenning in Franse rugby verwerf.

Tydens die Wêreldbeker in daardie jaar, het hy ook die beste drie van die seisoen gedruk. Die drie wat hy ter elfder ure teen Nieu-Seeland gedruk het, het hom ’n liefling onder Suid-Afrikaanse rugbyondersteuners gemaak. Fast forward na 2021 (in 2020 het die pandemie die seisoen gekniehalter) en Cheslin gaan steeds van krag tot krag.

Die Franse media beskryf hom as die beste oorsese speler in Frankryk se Top 14 (’n kompetisie) en hy is die ster van elke toernooi. Hy is ook onlangs aangewys as een van die 30 Afrikane onder 30 op die Forbes Africa-lys vir mense met uitnemende leierskapeienskappe en die deursettingsvermoë om sukses te behaal in hul veld ten spyte van enorme uitdagings.

Dit is nie juis wat ’n mens sou verwag wanneer jy na hom kyk nie, want van die begin van sy loopbaan af, was daar nog altyd kritiek oor sy grootte – hy is nie juis op die oog af ’n hemelbesem of ’n reus soos die meeste ander professionele rugbyspelers nie. Hy is 1,7 m lank en gewoonlik een van die korter spelers op die veld. Mense het altyd vir hom gesê hy is te klein om rugby te speel, maar dit het hom nooit teruggehou nie.

En vandag is hy ’n inspirasie vir ander en ’n bewys dat jy jou drome kan bewaarheid met genoeg deursettingsvermoë, passie en harde werk. “Met daardie drie by die Wêreldbeker is my kindertyddroom bewaarheid. Mense het altyd gesê ek is te klein en ek kon die maklike uitweg gekies het, maar daar het altyd ’n vuur van hoop binne-in my gebrand – die hoop om eendag die groen en goue trui net een keer oor my kop te trek.” Nie net het hy dít gedoen nie, maar hy is ook deel van een van die beste Springbok-stories in die geskiedenis.

Die lewe in Frankryk

Dié kranige sportman, sy vrou, Layla (28), en hul twee spruite, Kylah (4) en Mila (9 maande), woon al vir die afgelope vier jaar in Frankryk waar hy vir die Toulouse-rugbyspan speel. Onlangs, toe hy en sy gesin vir die eerste keer in nege maande op Suid-Afrikaanse bodem kom uitspan, het Kuier met hom gesels.

“Ek het so pas in Suid-Afrika geland ná die lang 58-week-seisoen waar ons beide eindstryde bereik het; en die groot wen in die European Championship, en twee weke later in die French Top 14 Championship behaal het,” vertel hy.

“Ek geniet my rugby in Frankryk vreeslik baie, maar ek moet erken, ek mis my huis-huis baie. Gelukkig sal ek vir die Bokke uitdraf in die Britse en Ierse Lions-reeks, so ek sien baie daarna uit.” Vir ’n man van Kraaifontein, kan ’n plek so volksvreemd soos Frankryk nogal ’n skok op die sisteem wees. Die area waar hy grootgeword het, was gewelddadig en geteister deur gangsters. Hy moes selfs eenkeer weghardloop nadat hy vasgevang was in ’n heen-en-weer-skietery tussen bendes.

Toulouse, die stad wat die Kolbes nou “huis” noem, staan ook bekend as die “pink city” want dit is vol tradisionele, rooi-baksteengeboue en geskied-kundige besienswaardighede. Dit is die vierde grootste stad in Frankryk.

“Die lewe in Frankryk is baie meer laid-back en ontspanne. Die kultuur is heeltemal anders en hulle (die Franse) se uitkyk is hulle lewe nie om te werk nie, maar eerder hulle werk net om te kan lewe,” vertel Cheslin. Volgens hom is die Franse totaal en al rugbymal. “Hulle is die craziest ondersteuners wat ek nog teëgekom het!” Maar Cheslin moet daagliks groot opofferings maak om te kan doen waarvoor hy lief is.

“Jy moet tyd weg van jou familie opoffer, jy maak jou kinders groot in ’n nuwe, vreemde land. Omdat ek baie moet reis vir my werk, mis ek ook soms van die belangrike milestones wat my kinders bereik soos hulle grootword, en dit is nogal moeilik. Ek mis ook uit op die pret wat ek soms sien my vriende het omdat ek oor naweke moet rugby speel of altyd topfiks moet wees – dit was nog altyd moeilik vir my,” erken hy. Om stoksielalleen in die vreemde te gaan huis opsit, sit nie in almal se broek nie en dit is maar ’n proses om ’n lewe daar oorkant uit te kerf.

“Die taal is maar ’n kwessie en ons het geen familieonder-steuning wat kan uithelp tuis nie, veral met die kinders. Dit was seker en is eintlik steeds, die grootste uitdaging.” Verbeel jou jy lewe in ’n plek waar selfs die etikette op die produkte in die supermark ’n vreemde taal is en die meeste mense weier om Engels te praat en dan kry jy dalk ’n idee van die unieke uitdaging wat op die Kolbes gewag het.

Cheslin en sy gesin geniet hul Franse avontuur egter terdeë en hoewel dit tyd geneem het, het die Kolbes nou ’n gemaklike ritme gevestig in die vreemde stad. “Ons moes ’n paar aanpassings maak – hoofsaaklik om die taal aan te leer, maar ek dink ons pas stadig, maar seker aan. Dit het my sowat ’n jaar gevat om die Franse kultuur te leer verstaan en die taal te leer ken en praat.”

Hy vertel daar is ’n paar goed waarna hy verlang wanneer hulle daar is. “Ek mis dit die heel meeste om naby my familie en vriende te wees. Dan, natuurlik, is daar ons eg Suid-Afrikaanse kos en moenie van my gunsteling – Nando’s – vergeet nie. Die Franse kultuur is regtig baie anders as dié van Suid-Afrika, waaraan ons gewoond is en dis nie altyd maklik nie. Jy ken mos daai sê-ding: Oos, wes, tuis is bes!”

Cheslin se gesin, Layla, Mila en Kylah.

Werk en liefde

Intussen moet Cheslin steeds sy alles gee om rugby uit die boonste rakke te lewer. “Ek hou aan om die hele tyd in topvorm te bly. Jy moet konsekwent wees, want daar is baie mense wat op die kantlyn staan en wag vir jou om ’n fout te maak of nie jou beste te gee nie, sodat hulle jou kan kritiseer of sien hoe jy fail. Jy moet elke keer wat jy jou tokse aantrek die negatiewe mense verkeerd bewys en terselfdertyd geniet wat jy doen. Dit is belangrik om gefokus te bly op jou “hoekom” (wat jou dryf en inspireer om te doen wat jy doen), op jou reis en op dit wat jou motiveer om sukses te behaal.”

Sy pa, Andrew, was ook ’n rugbyspeler van formaat. Dit was egter gedurende die apartheid-era, so ten spyte van sy talent, kon hy nie professioneel rugby speel nie. ’n Mens kan amper nie help om te wonder of dit dalk deel is van wat vir Cheslin dryf om sukses te behaal op die internasionale speelvak nie. Sport is definitief in die familie se gene.

Cheslin se neef is die immergewilde Wayde van Niekerk wat tans by die Olimpiese Spele in Japan sy visier op ’n goue medalje het vir die 400 m-resies. Cheslin self was ’n hekkies-atleet op nasionale vlak as tiener, maar het atletiek opgegee om te fokus op sy rugby. Aanvanklik het hy vir die Suid-Afrikaanse sewes-span, die Blitsbokke, gespeel en selfs ’n brons medalje by die Olimpiese Spele in 2016 gewen.

Met daardie drie by die Wêreldbeker is my kindertyddroom bewaarheid.

Dit was eers toe die voormalige Springbok-afrigter Rassie Erasmus die Bokke se beleid verander het om ook oorsese Suid-Afrikaanse klubspelers in te sluit, wat Cheslin in 2018 ’n volwaardige Bok kon word. Dis darem nie altyd net werk, werk, werk vir Cheslin nie. Hy probeer gereeld tyd inruim om te ontspan.

“Wanneer ek aftyd het, geniet ek dit om kwaliteit-tyd saam met my gesin en familie, wanneer dit moontlik is, te spandeer. Ek speel ook graag gholf en ons neem elke nou en dan heerlike reise vir vakansie. En moenie dink die Franse eet net ‘cuisine’ nie – ons braai graag saam met ons vriende daar oorkant!”

Wanneer ’n mens oor Layla, ’n gekwalifiseerde geoktrooieerde rekenmeester, gesels, is dit duidelik dat Cheslin steeds die skoot hoog deur het. Die paartjie het by Nuweland ontmoet in 2013 en die aantrekkingskrag was oombliklik. Dit is ook by hierdie stadion waar Cheslin vir Layla in 2016 die ja-woord gevra het.

Hulle het in 2018 afgehaak op ’n wynplaas op Stellenbosch waar spanmaats Siya Kolisi en Justin Geduld sy strooijonkers was, en Rachel Kolisi ’n strooimeisie. Die paartjie se oudste dogter, Kylah, wat op daardie stadium nege maande oud was, het by die trou-paadjie afgekom met ’n bordjie wat gelees het: “Daddy, just wait ’til you see Mommy!” terwyl Siya en Rachel se seun Nicholas ’n bordjie gedra het wat gesê het: “No stepping this now, uncle Chessy!” “Ek is mal daaroor dat sy so goed kan kosmaak,” lag hy.

“Maar die verbasendste ding van getroudwees, is hoe goed ons mekaar nou ken en hoe fantasties ons oor die weg kom. Ons albei se liefde vir God is een van my gunstelingdinge van ons verhouding. Dít, en hoe my vrou altyd vir my bid, maar ook saam met my bid. Ag, weet jy, ek is mal oor alles van ons as ’n couple!” gons hy. Kylah en klein Mila is die kersie op die koek vir hom.

“Ek het nooit in der ewigheid gedink ek sal so verantwoordelik kan wees soos wat ek nou is nie. Die beste ding van pa-wees, is hoe albei my dogters net soos ek lyk. Dis die heel beste gevoel in die wêreld om by die huis in te stap ná ’n lang dag, of ’n tyd weg van die huis af, en jou dogter hardloop na jou toe om jou ’n stywe drukkie te gee. Die liefde en band tussen ’n pa en sy kinders, is onbeskryflik. Onbreekbaar. Dit verander jou hele lewe. Elke besluit wat ek nou maak, revolve om my kinders en wat die beste is vir hulle.”

Cheslin en sy gesin het aan die begin van die pandemie vir twee weke in Suid-Afrika kom kuier, maar nadat Frankryk se inperkings strenger geword het, en Suid-Afrika toe ook boonop in lockdown ingaan, het hulle uiteindelik eers in Junie 2020 na Frankryk teruggekeer. Die gesin het die stadiger pas van lockdown gebruik om die nuwe baba, Mila Skye, wat in November verlede jaar gebore is, beter te leer ken en die band tussen die twee sussies hegter te smee.

Cheslin op die veld in sy Toulouse-trui.

Ploeg terug

Hoewel hy groot sukses behaal het, is dit ook vir Cheslin belangrik om te onthou waar hy vandaan kom en om terug te gee aan die gemeenskap. Dit is wat hom geanker hou in die werklikheid. In 2014 het hy betrokke begin raak by die Be the Difference Foundation. Hierdie organisasie poog om ’n positiewe verandering te maak deur veral jeugontwikkeling in terme van sport, opvoeding en toegang tot kos.

Aan die begin van die pandemie, tydens die streng lockdown, het die organisasie ongeveer 400 mense per week gevoed – sommige van hulle mense wat Cheslin herken het as vriende en kennisse uit ’n vorige lewe. Hy weet baie goed dat dinge so maklik anders vir hom kon gewees het en hoe vinnig dinge kan verander sonder dat hy beheer het daaroor. Sy wens is om die saadjie van hoop in ’n donker wêreld te saai.

Vir hom is die ondersteuning van sy fans iets wat hom deur die moeilike tye dra en dit maak hom nederig en hy is baie dankbaar daarvoor. Cheslin se boodskap aan Kuier-lesers is om aan te hou en te fokus op jou doelwit. “Maak ’n verskil waar jy kan. Dit maak nie saak hoe groot of hoe klein dit is nie. Sáám, kan ons hierdie wêreld ’n beter plek maak. As jy die kans het om vir iemand iets te gee, of dit nou kos is, of hoop, doen dit,” sê Cheslin.

Hoewel sy pa altyd vir hom gesê het jy moet wegstap van die spel wanneer jy jou passie daarvoor verloor het, is daar nog baie wat Cheslin wil bereik. En die wete dat daar ander kinders is wat nie net geïnspireer word deur hom nie, maar aangemoedig word om te glo hulle kan enigiets bereik, is wat hom aan die gang hou. “Dit is die les – as jy hard werk, sal jy die vrugte pluk. Moenie toelaat dat ander vir jou sê jy is nie goed genoeg nie. Hulle het nie die reg om te besluit wie jy is of wat jy kan bereik nie.”

Hy wil ander mense aanmoedig om groot te droom, want hy is ’n bewys dat daar nie grense of perke behoort te wees met genoeg passie en harde werk nie.

Meer oor:  Cheslin Kolbe  |  Kuier  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.