Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Dartskampioen: Kapenaar wen titel in Europa
29 Oktober 2020

Devon Petersen (34) van Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte is nou wel nie met ’n goue lepel in die mond gebore nie, maar met ’n veerpyltjie in die hand het hy goue status gekry!

As jy ’n getroue aanhanger van die sport darts is, behoort Devon vir jou geen vreemdeling te wees nie. Dié gebore Kapenaar staan bekend as The African Warrior in dié sport en het diep in die harte van menige veerpyltjie-aanhanger gekruip. In September het Devon geskiedenis gemaak toe hy koning gekraai het by die German Darts Championships.

Dit is die eerste keer dat ’n Suid-Afrikaner ’n Professional Darts Corporation (PDC) event in Europa gewen het. En volgens mediaberigte is Devon die enigste professionele veerpyltjiespeler in Afrika wat al ’n PDC-titel gewen het – nie te versmaai vir ’n klong van die Plain nie! Devon het sowat R543 000 in dié kompetisie gewen.

Hy is duidelik steeds in die wolke hieroor en sê die gevoel is ongelooflik. “Partykeer voel jy of jy nooit daar gaan uitkom nie omdat die kompetisie so tough is, maar aanhouer wen en dié is ’n bewys daarvan.”

Sy eksentrieke persoonlikheid en dansroetine op Shakira se bekende “Waka Waka (This time for Africa)”-liedjie tydens elke toernooi is opnuut weer ’n herinnering van hoe trots Suid-Afrikaans dié man regtig is. Dit is ’n baie ontspanne Devon wat vanuit sy huis in Bradford, Engeland, vertel is hy ’n baie uitgesproke, positiewe, charismatiese en lus-vir-die-lewe-mens – laasgenoemde is duidelik te bespeur wanneer Devon trots die Waka Waka voor ’n toernooi doen!

Hy vertel dat hy sedert kindsbeen so energiek is. “Ek het grootgeword in Portlands in Mitchells Plain en het ’n huis gedeel met twee liefdevolle ouers, twee ouer broers en ’n suster. Ons was ’n baie hegte en groot gesin en het mekaar altyd ondersteun in alles wat ons aangepak het. Dit is die voordeel van ’n groot familie – jy het nooit regtig eintlik vriende nodig nie,” lag Devon vir sy eie grappie.

Ek het hard geveg teen die beste van die bestes en dit is vir my ongelooflik om te sien dat daai spelers wat ek bewonder het, nou my kompetisie is. Crazy, nè?

Familiesport

Met ’n peinsende, dog gelukkige uitdrukking onthou hy hoe lekker die energie altyd in sy ouerhuis was. “My ma het die huis warm gemaak met haar liefde en natuurlik kookvernuf. En dan was daar weer my pa wat seker gemaak het dat daar iets op die tafel was en ons beskerm was van die euwels wat buite gewoed het. Albei my ouers het ons grootgemaak met die gedagte dat jy enige iets kan wees en doen waartoe jy jouself in staat stel. Dit was lekker, daai tipiese gesinstyd.”

Dié veerpylkampioen se liefde vir die sport spruit uit sy pa se liefde daarvoor. “Sedert ek kan onthou, het my pa darts gespeel en tot en met vandag doen hy nog altyd. Die sport is iets wat afgegee was van generasie tot generasie. Ook my pa se pa het darts gespeel vir ’n stokperdjie.“

Hoewel Devon altyd ’n belangstelling in dié sport gehad het, het hy eers op 18-jarige ouderdom besef dat hy nogal goed is daarin. “Op 18 het ek toe amateur darts in Mitchells Plain begin speel en dit het vir minstens vyf jaar geduur en die jaar daarna het ek op professionele vlak begin speel.”

Hy vertel eerlik dit was aanvanklik baie moeilik, maar dit het met tyd en ervaring beter geraak. “Ek het hard geveg teen die beste van die bestes en dit is vir my ongelooflik om te sien dat daai spelers wat ek bewonder het, nou my kompetisie is. Crazy, nè?” Al het Devon geniet wat hy doen, het hy deur baie persoonlike krisisse gegaan.

“Daai gevoel wanneer jy na toernooie reis en die huis verlang. Om nie eens te praat van die finansiële druk wat saam met sport en reis gepaardgaan nie. En dan was daar natuurlik ook die aspek dat ek nie op my beste was nie en dit kan ’n mens knak.” Dit is egter sy passie vir die sport en vasbeslotenheid om die beste speler op die vasteland te wees wat hom deur alles gedra het. “En fast forward nou na die afgelope 18 maande en ná al daardie gesukkel, weet die wêreld dat ek nie net ’n Waka Waka-danser is nie, maar ernstige kompetisie,” verklaar Devon trots.

Op ’n meer persoonlike vlak sê hy oor darts: “Dit is deel van ons familie, deel van ons bloed. Die speel van darts en geloof is die middelpunte waarom ons families draai. Dit is wat ons heg aan mekaar.” Hy onthou sy eerste internasionale wedstryd asof dit gister was. “Dit was gedurende die PDC World Dart Championship in 2011 teen Norman Madhoo (’n professionele Amerikaanse darts-speler) en verbasend genoeg het ek soos ’n eend in water floreer. Dit was die begin van groter dinge. Ek het hom geklop en die ander deelnemers het geweet dat hulle op die uitkyk moet wees.”

Nog een van Devon se hoogtepunte was toe hy in 2011 sy toerkaart gewen het. “Vir my persoonlik was dit die hoogste punt, want dit is ook die oomblik toe ek die eerste persoon van Afrika geword het wat ’n professionele veerpyltjie-speler is. Ek het toe ook die geleentheid gehad om vir Suid-Afrika gedurende die PDC-wêreldbeker te verteenwoordig.”

Opgee nie ’n opsie

En hoe sal Devon, in sy eie woorde, die spel van darts verduidelik aan iemand wat dit nog nooit gespeel het of verstaan nie? “Die spel is redelik eenvoudig – jy gooi na ’n teiken en tel dan al jou gooie se punte saam. Jy minus dan daardie telling van die getal waarmee jy begin het. En voilà, daar het jy jou punte!” Hy moet egter erken dat hoe die spel eintlik werk nie so eenvoudig is soos die speel daarvan nie. “Dit is ’n moeilike vraag om te beantwoord omdat daar soveel variante van die spel is, maar as jy die basiese spel regkry, is jou kop reeds deur!”

Devon erken die moeilikste deel vir hom is om so ver van die huis af te werk, al is sy vrou en kinders saam met hom. “’n Mens mis al die groot oomblikke in die familie, jy verlang na daardie samesyn, en die meeste van alles, verlang jy na die huis. Die moeilikste is regtig vir my dat ek my tuisdorp moes verlaat vir my beroep.” Al is Devon duisende kilometers ver van die huis af, is sy wortels steeds diep in Mitchells Plain begrawe. “Ek gaan volgende jaar die Devon Petersen Darts Academy in Mitchells Plain loods en daaroor is ek verskriklik opgewonde.”

Hy sê opgee moet nooit ’n opsie wees nie. “As jy moeg raak, moenie opgee nie. Gaan rus ’n bietjie en dan span jy weer jou kragte in. Probeer dan weer. Hou aan met daardie droom. Onthou ook altyd om groot te droom en vir die sterre te skiet!” Sy motto was nog altyd dat harde werk harder praat as talent, vertel hy verder. “Wanneer talent nie werk nie, moet jy nog harder werk. Ek wil ’n nalatenskap laat vir die generasies wat kom. Ek wil geskiedenis maak vir Afrika as kontinent as ’n veerpylspeler. En dit is wat my motiveer. Ek doen dit nie net vir my nie, maar vir diegene wat my gaan volg.”

Meer oor:  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.