Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Die inryteater kom maak weer ’n draai!
26 November 2020


Die Covid-19-pandemie het ons vir maande lank ingehok en dít het die vermaaklikheidswêreld genoop om aan nuwe en buitengewone maniere te dink om mense vir ’n ses te boul!

En wat beter as om ’n bietjie magic en nostalgie terug te bring in hierdie donker tye? Die opwinding van flieks op stroomdienste te kyk, is vinnig besig om afgewater te raak en mense is honger en dors vir ’n bietjie vermaak buite die huis.

Die terugkeer van die klassieke en nostalgiese inryteaters bied presies dít en boonop kan jy ’n fliek uit die veiligheid en gemak vanuit jou eie voertuig geniet. Inryteaters was in die jare 50’s hoogmode, maar namate die tegnologie al hoe meer gevorderd geraak het, het die teaters stadig, maar seker uitgesterf.

En nou in 2020 maak dié outydse gunsteling sy nuwerwetse comeback! Hierdie teaters bied ’n oplossing om ’n bietjie uit die huis te kom terwyl die Covid-19-beperkings en -reëls steeds gehandhaaf word. Dis ’n wen-wen-situasie en ’n mens kan dus nie anders as om te wonder of die pandemie nuwe lewe in dié bedryf geblaas het nie.

Ook die jaarlikse en immergewilde Suidoosterfees word vanjaar in die vorm van ’n klassieke inryteater aangebied. Jana Hattingh, hoof van die Suidoosterfees, sê ná die uitbraak van die Covid-19-pandemie was dit vir hulle belangrik om die fees uit te stel en nie af te stel nie. “Ons het verskeie opsies ondersoek en besluit dat die inryteater-formaat ’n veilige en prettige alternatief aan feesgangers bied. Dit voldoen aan al die veiligheidsregulasies in terme van die pandemie.”

Atlantic Studios, die tuiste van die gewilde Kaapse sepie Suidooster, en TV-programme soos Kwêla, Tussen Ons en Koortjies met Jonathan Rubain, het hande met die Suidoosterfees gevat om hierdie idee ’n werklikheid te maak.

“Ons beskou dit as ’n innoverende manier om steeds fees te vier, maar binne die perke van die nasionale veiligheidsregulasies. Die inisiatief word baie goed ondersteun, so ons raai belangstellendes aan om so spoedig moontlik hul kaartjies by Computicket te bespreek.”

Veilige vermaak

Jana verduidelik voorts hoe die drive-in-Suidoosterfees gaan werk. “Die produksies wat op die silwerdoek geprojekteer word, word direk opgeneem terwyl die kunstenaars op ’n buitelugverhoog optree.

Inryteatergangers skakel in hul motors op ’n FM-radiofrekwensie in vir die klankbaan. Mense kan ook heerlike Kokkedoor-etes saam met hul kaartjies by Computicket bespreek.”

Die kaartjies kos R250 per voertuig (maksimum twee mense), R300 per voertuig (maksimum vier mense) en verkoop reeds soos soetkoek. Dit is duidelik dat ’n retro-herlewing van die inry-kultuur hier is. Gertruida Samie (53) van Athlone in die Kaap vertel sy onthou steeds die inryteaters wat sy as kind saam met haar ouers besoek het.

Dis vir mense lekker om weer vermaak te kan geniet. Dis vir ons belangrik om by die inperkingreëls te hou en die drive-in laat ons toe om dit te doen gedurende dié moeilike tye.

“As ons die dag gehoor het ons gaan bioscope toe, was dit so moeilik om die vorige aand aan die slaap te raak. Jy sou ook die volgende dag heeldag daaroor praat by die skool.” Sy onthou dat hulle slegs elke drie maande die teater besoek het. “Ons sou dan almal soos sardientjies in die kar sit en wag vir die fliek om te begin draai.”

Sy lag lekker voor sy sê hulle het amper op mekaar se skote in die voertuig gesit, maar dat niemand gekla het nie. “Ons was almal alte bly dat ons daar kan wees, jy durf nie kla nie. ’n Mens kon ook darem vir die kinders in die voertuig langsaan waai en gesiggies trek. Dit was lekker dae. Ek weet nie of die nuwerwetse teaters dieselfde gevoel gaan skep nie, maar ’n mens kan maar net hoop!”

Ook Elizabeth Rooi (74) van Eersterivier in die Kaap vertel nostalgies oor haar destydse ervaring by die inryteater. Sy sê sy onthou nie meer baie van die teater self nie, maar wel hoe lekker dit was. “Ons niggies en neefs het almal bymekaargekom en met my skoonbroer se kombi tot by die teater gery. Almal was altyd so jolig wanneer ons die trippie gevat het.”

Elizabeth vertel sy was seker 18 of 19 jaar oud en die teater was in Wetton. “Jy koop ’n kaartjie en afhangend van die kaartjie se nommer, het jy op ’n plek gaan staan. Ek sien nog voor my geestesoog die luidsprekers en die fliek wat begin rol het.”

Volgens Elizabeth is dit een van haar gelukkigste herinneringe. “Dit was ook die plek waar jy ander jong mense, en mense ontmoet het van ander plekke.”

Elizabeth sê verder sy is net spyt dat sy nie meer baie van daardie tyd kan onthou nie. “Dit is nou al baie jare terug en die memories is stadig, maar seker besig om te fade. Maar dit is die ding van ervarings – jy kan dalk die oomblik vergeet, maar jy sal nooit vergeet hoe jy in daai oomblik gevoel het nie. Dit was lekkerte, man, en ek hoop die jong klomp van vandag kan dit nou ook beleef.”

Iets vir almal

Dit is duidelik dat inryteaters ’n veiliger alternatief bied vir mense wat ’n aandjie uit wil geniet in die era van die corona-virus. Die teaters skep nie net ’n nostalgiese atmosfeer nie, dit bied ook aan mense die versekering dat hulle steeds hul huis kan verlaat sonder om met ander mense in kontak te kom.

GoDriveIn, ’n inryteater in Soutrivier in die Kaap, bied ’n verskeidenheid vermaak en het in Oktober hul deure, of liewer hul silwerskerm, geopen. Een van die stigters, Tyrone Rubin, vertel hy en sy vennoot het al voor die Covid-19-pandemie besluit om ’n inryteater oop te maak, maar dat die pandemie hulle net vinniger in daardie rigting gestuur het.

Volgens Tyrone is die inryteaters ’n tendens wat nou regoor die wêreld wéér vlamvat. “Dis vir mense lekker om weer vermaak te kan geniet en as dit nostalgie insluit, soveel beter! Dis vir ons belangrik om by die inperkingreëls te hou en die drive-in laat ons toe om dit te doen gedurende dié moeilike tye.” GoDriveIn bied aan teatergangers ’n verskeidenheid vermaak en daar is ietsie vir almal.

“Ons bied iets vir die hele familie. Van gesinne tot net volwassenes, filmliefhebbers tot musos en almal wat wil uitkruip uit hul dop ná hulle vir so lank in die huis vasgevang was. Waar ons geleë is, is ook ’n verskeidenheid food trucks waar besoekers vir hulle kossies kan koop om gedurende die fliek te geniet.” Tyrone sê voorts dat elke ervaring anders is.

“Die kaartjies verkoop teen R110 per persoon en vir kinders onder die ouderdom van 12 is dit verniet. Mense kan ook kaartjies prebook by Webtickets of hulle kan kaartjies by die teater self koop. Dit is regtig ’n ervaring soos min en een wat almal moet beleef.” Of jy op soek is na nostalgie of net ’n lekker veilige aand uit met jou gesin of vriende – inryteaters is terug en teen die bekostigbare pryse beloof dit om vermaak te verskaf gedurende ons nuwe realiteit. Soos die spreekwoordelike frase lui: “If you can’t beat them, join them!”

Meer oor:  Kuier  |  Inryteater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.