Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Dwelmstryd: Akteur deel sy hel en genesing
10 Junie 2021


Die meeste van ons het hom jare gelede leer ken as Lorenzo, ’n verpleër in die kykNET-sepie Binnelanders, en deesdae hou Marvin-Lee Beukes (35) ons op die punt van ons stoele as die aantreklike sersant Juan Stuurman in die kykNET-misdaadreeks Die Byl. In die derde seisoen, wat vroeër vanjaar begin het, moes Marvin-Lee se karakter deur die trauma van die vorige seisoen werk toe hy gemartel en gelos is om dood te bloei.

Vandag is Marvin-Lee die beste weergawe van homself en ’n veelsydige, suksesvolle akteur, regisseur en skrywer. Maar min mense weet hy moes ook sy eie lewenstrauma deurmaak en talle berge versit om die man te word wat hy vandag is. Hy het ingestem om sy storie eksklusief met Kuier te deel.

“Ek is reeds deur die hel van verslawing en ek dink as iemand kan baat by my ervaring, dan was dit nie verniet nie. Ek hoop iemand lees dit en besef hulle hoef nie alleen te sukkel nie.”

Agt jaar gelede, in 2013, was sy paadjie met verslawing, pyn en verwoesting besaai. Vir hom was sy verslawing minder oor die soort dwelm, en meer daaroor om maniere te vind om die uitmergelende pyn binne-in hom te ontsnap. “Ek het gevoel ek was ’n sekere manier en daar was niks wat ek daaromtrent kon doen nie.”

Leer ken donker kant

Marvin-Lee, oorspronklik van Loeriesfontein in die Noord-Kaap, vertel die akteursgogga het hom reeds op hoërskool gebyt nadat hy die toneelstuk Kat and the Kings gesien het. “Ek het in my kinderdae ontsnapping gevind in flieks en het nie eens geweet die teater bestaan nie.

“Grootword in die platteland kom met al die verwagte klein bederfies: die skoon lug, die oop vlaktes. En ek dink dit was ’n eenvoudige lewe, maar of dit nou was as gevolg van die platteland of net die tyd – laat 80’s en vroeë 90’s – sal ek nie kan sê nie. Ons het baie rondgetrek, so ek moes baie aanpas as kind en het vroeg geleer om myself te verander om te kan inpas. Dis nie noodwendig ’n goeie vaardigheid om te hê nie. ’n Mens moet mos maar jouself ook kan wees, maar ek vermoed dit het bygedra tot my uiteindelike keuse van beroep,” verduidelik hy.

Marvin-Lee se pa, Jannie was ’n laerskoolhoof en sy ma, Ronel, ’n onderwyser. “Ek en my pa het al saam klippe gekou, maar ons was en is steeds baie na aan mekaar.” Maar net soos met baie ander jong mense, het ’n standvastige huis hom nie beskerm teen die euwels van die wêreld nie.

“Kyk, ek gaan nie lieg nie. Aan die begin was dit (dwelms) nie ’n stryd nie. Dit was baie fun. En ek moet ook sê, soos met alkohol, is verslawing nie noodwendig almal se bestemming nie. In my geval was daar egter van die begin af gevaartekens. Ek het dit baie vinnig obsessief begin gebruik. Ek sou sê die verkenning het ’n stryd geraak in my middel twintigs, maar die gevaartekens was al daar in my vroeë twintigs. Ek kon net nie kuier soos die res van my vriende nie. Ek moes dit altyd te ver vat,” erken hy openlik. Een van die redes hoekom Marvin-Lee so lank gevat het om te erken hy het ’n probleem, is omdat hy vir lank nie ’n drug of choice gehad het nie.

Ek weet tot watter uiterstes ek sal gaan om te kry wat ek wil hê. Die wonderwerk is net dat ons nie in daardie donkerte hoef te lewe nie.

“As een substance ’n probleem raak, dan het ek aanbeweeg na die volgende en vir myself gesê daar is niks fout nie, ‘want kyk, ek kon ophou’. ” Hy beskryf daardie hoofstuk van sy lewe as een wat baie vinnig, baie donker geraak het. “Een ding waarvoor ek baie dankbaar is, is dat ek my donker kant leer ken het. Ek weet tot watter uiterstes ek sal gaan om te kry wat ek wil hê. Die wonderwerk is net dat ons nie in daardie donkerte hoef te lewe nie.” Vir Marvin-Lee was daar baie laagtepunte, maar een staan tog uit.

“Ek was op die verhoog vir ’n vertoning en elke kans wat ek gekry het, het ek van die verhoog af geglip om te gaan gebruik. Definitiewe laagtepunt. Dan natuurlik die arrestasies (vir onder meer dronkbestuur) en die karongelukke (omdat hy onder die invloed was) en alles wat kom met só lewe . . .” Die rede agter sy verslawing is vir Marvin-Lee eenvoudig dog kompleks.

“Kyk, ek is maar net só gewire – ek is geneig om obsessief te raak oor goed waarvan ek hou (deesdae is dit oefen en gholf). Aanvanklik het ek net gedink dis fun, maar in retrospect was dit ’n ontsnapping van trauma. Daar was goed waarmee ek moes deal en ek wou nie daarna kyk nie. Die lewe het ongelukkig ’n manier om ’n punt te hamer tot dit insink en uiteindelik het ek besef ek sal moet aandag gee aan die trauma wat ek vir so lank probeer ignoreer het.”

Marvin-Lee as Juan in Die Byl.

Ondersteuning

Hy erken, in die diepste donker van sy reis was daar absoluut niks wat enigiemand anders kon doen of sê om hom te help om sy keuses te heroorweeg nie. “Mense het probeer, maar tot ek nie self besef het ek moet verander nie, sou niks help nie.”

Tog het hy dit uiteindelik reggekry om uit die kloue van sy verslawing te ontsnap en besef hy hoef nie vasgekluister te wees aan sy verlede nie, maar dat hy ander, beter keuses kan maak. “Ons is nie ‘reggemaak’ nie. Ons verander en ons móét verander – dit is wat ek geleer het toe ek ‘skoon’ geraak het,” verduidelik hy ernstig. Dit juis die ondersteuning van ander mense wat hom uiteindelik deurgetrek het.

“Sonder die hulp wat ander mense aangebied het, sou ek nooit daardeur gekom het nie. Wat mense moet besef, is daar is baie organisasies en instansies wat kan help. Die belangrikste stap was om te erken dat ek hulp nodig het en dat dit oukei is om hulp te aanvaar.” Vandag is Marvin-Lee al meer as agt jaar sonder ’n dwelm of ’n dop en die lewe is soveel makliker.

“Ek het ’n loopbaan waarop ek trots is en mense wat vir my omgee. Die lewe is nie perfek nie, dit sou in elk geval baie boring wees, maar dis weer myne en ek is vry om te doen wat ek wil!” Hoewel hy glad nie daardie jare mis nie, wens hy dit ook nie weg nie en is bly hy is daardeur. Dit het hom ’n hele paar waardevolle lesse geleer.

“Ons is nie uit glas gemaak nie. En ook, die lewe gebeur nie net met jou nie. Jou keuses maak saak en maak ’n verskil in die draaie wat jou lewe neem.” Dit is ook die waardevolle lesse wat Marvin-Lee by pa Jannie geleer het, wat vandag van hom die man maak wat hy is.

“Werk hard. Wees bedagsaam, maar staan ook op vir jouself. Glo in jouself, maar onthou: selfvertroue mag net kom van bevoegdheid, so maak foute en maak seker jy leer daaruit! ’n Pa is werklik ontsettend belangrik. Ek weet nie waar ek sonder myne sou wees nie. En as enigiemand sukkel met verslawing, onthou jy is nie alleen nie, al voel dit so. Daar is altyd iemand wat bereid is om te help!

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.