Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Eensaam: Oumense bekommerd oor feestyd
12 november 2020

Die Covid-19-pandemie het baie gesinne se Kersfeeslus geblus en dis veral bejaardes wat swaar deurgeloop het onder 2020. Nie net kon hulle vir maande nie hul geliefdes sien nie, maar die moontlikheid dat hulle ook die feestyd alleen gaan moet trotseer, is ’n realiteit wat menige bejaarde se gemoedstoestand kan affekteer.

Almal is teen dié tyd al besig met hul eie feesseisoenbeplanning en -voorbereiding van tradisies, maar dis belangrik om te onthou waaroor dié tyd eintlik gaan – die samesyn van familie en dit sluit bejaardes in. Volgens die Nasionale Instituut vir Geestelike Gesondheid loop bejaardes wat sosiaal geïsoleer is, ’n hoër risiko vir depressie.

Die fokus op familie, vriende en samesyn gedurende hierdie tyd van die jaar, kan melancholiese gevoelens vir baie bejaardes op die voorgrond plaas. Berenice Dick (53) van Eersterivier in die Kaap is ’n versorger by ’n tehuis in Somerset-Wes. Volgens haar raak bejaardes dié tyd van die jaar baie depressief, veral omdat hulle nie vanjaar tyd saam met hul kinders en familie kon deurbring nie.

“Dit is baie moeilik om die oumensies só te sien. Die jaar was moeilik omdat hulle nie fisiese kontak met hul geliefdes kon hê nie (weens Covid-19) en ’n mens kan duidelik sien hoe dit hulle affekteer.”

Depressief & angstig

Volgens Berenice raak die bejaardes depressief en angstig oor die moontlikheid dat hulle ook gedurende die feestydseisoen nie hul families gaan sien nie. “Jy sien letterlik hoe hulle voor jou oë agteruitgaan. Ek dink dis die verlange en die gevoel om te behoort wat die effek op hul gesondheid het. Hulle praat minder, lag minder en begin al hoe minder vra wanneer hul familie gaan kom besoek.

Ons as versorgers probeer maar altyd om hulle ’n bietjie op te kikker, veral vir diegene wie se familie verlede jaar laas nog besoek het.” Daphne Swartz (86), ’n inwoner by ’n tehuis in Kaapstad, sê toe sy jonger was, was die feesseisoen haar gunstelingtyd, maar helaas nie meer nie. “ ’n Mens het altyd geweet dat jy dié tyd van die jaar saam met jou familie gaan deurbring, gaan kuier en sommer klomp en lekker kos eet. Nou sit ek hier. Ek het my kinders voor die pandemie gesien en my hart verlang al. Dis nie lekker om hier te sit en vergaan en te voel asof die mense van jou vergeet het nie.”

Sy sug swaar voor sy sê sy weet dat dit gedoen word vir haar eie welstand, maar sy voel dit kan beter gekommunikeer word. “Ek is nog my eie mens en ek wil hê hulle moet my vra hoe ek voel. Hulle moet nie net besluite neem en dink dat ek daarmee saamstem nie. Al wat ek wil hê ná die jaar van isolasie, is om die feestyd saam met my geliefdes te spandeer, maar dit lyk nie asof dit gaan realiseer nie en ek sal dit maar noodgedwonge moet aanvaar.”

Kenner gee raad

Kenners meen families moet planne vereenvoudig, en kyk na hoe om bejaardes in te sluit, al kan en gaan hulle nie fisies bymekaar uitkom nie. Derine Louw, ’n kliniese sielkundige van Bellville in Kaapstad, sê 2020 was ’n moeilike jaar vir gesinne, veral vir dié met mediese probleme en swak immuunstelsels. “Covid-19-sterftes is ’n realiteit en as gesinne het ons die verantwoordelikheid om na hoërisiko-geliefdes om te sien.

Versorgers en gesinne moet versigtig wees om nie bejaardes se besluitregte weg te neem nie. Dus is dit belangrik om gesprekke as ’n familie of span te hê, wat die bejaarde insluit – eerder as om ’n instruksie te gee van wat oor die feestyd sal plaasvind in terme van isolasie of ander beperkings.” Sy verduidelik voorts dat die feestyd oor die algemeen moeilik kan wees vir bejaardes.

“Baie male is dit die tyd wanneer daar reflekteer word op die verlede, lewensbesluite, verliese en familie-onenigheid. Isolasie as gevolg van die virus kan ’n ekstra laag spanning op alreeds spannende situasies sit en lei tot lae gemoed en gevoel dat hulle nie behoort nie. Die situasie kan ook ’n gevoel van verlies aan beheer by bejaardes meebring en dis dus belangrik om hulle soveel moontlik in te sluit by besluitneming.”

Volgens Derine kan kinders en kleinkinders bejaardes se vakansie-ervaring verbeter deur hulle deel te laat voel van die feestelikheid. “Laat druk foto’s en stuur dit vir hulle om in hul kamers en huise op te sit. Gereelde foon-oproepe, foto’s en/of ‘inloer’ oor video-oproepe kan die persoon in isolasie, deel laat voel van die feestelikheid, en insluit in sekere familietradisies.

Geselsies en piekniek aan die ander kant van die venster of veilige afstand in die tuin is ook ’n moontlikheid. Die samesyn van jou hartsmense is die deel van vakansie wat die lekkerste is.” Marsha Smith (45) van Kraaifontein in Kaapstad sê haar ma is tans in ’n tehuis en sy het haar twee maande gelede laas besoek. “Die reëls by die tehuise is baie streng en ons kon nie fisies met haar kontak hê nie, so ons het deur die venster met haar gepraat. Sy was so gelukkig om ons te sien en toe ons moet ry, was daar ’n hartseer trek op haar gesig.”

Volgens Marsha beperk sy haar besoeke aan haar ma omdat sy ’n verpleegster is by ’n hospitaal. “Daar is die vrees in my dat ek Covid-19 kan optel en dit dan weer aan haar sal oordra. Haar liggaam en immuunstelsel is nie sterk genoeg om dit te hanteer nie. Met dié dat die mense ook nou weer out and about is, is die risiko nóg hoër en dit is ’n kans wat ek nie bereid is om te vat nie.”

Sy vertel hartseer dat sy ook baie graag die feestyd met haar mammie wil spandeer, maar dat die tehuis nou die veiligste plek vir haar is. “Met dié dat die infeksies ook nou weer toeneem, is die risiko te groot. Dit breek ons harte en hoewel dit my ma ongelukkig maak, doen ons dit vir haar eie beswil. Ons hoop net dat sy volgende jaar nog met ons gaan wees sodat ons kan opmaak daarvoor.”

Derine sê niemand wil voel of ander vir hulle besluite maak wat op hulle afgedwing word nie. “Ek stel voor dat families die gesprek moet begin deur te hoor wat die bejaarde in gedagte het in terme van kontak tydens die vakansie. Daarna kan die gesprek uitgebrei word na bekommernisse van die gesin se kant. Dit is belangrik dat die feite weergee word en dat die gesprek plaasvind met die bejaarde se beste belange op die hart, en dit duidelik gemaak word dat daar soveel moeite moontlik gedoen sal word oor hoe om die situasie te hanteer.”

Dit is duidelik dat die nuwe normaal die manier hoe ons dinge in die verlede gedoen het, totaal en al op sy kop gedraai het. Maar as die situasie met liefde en deernis aangepak word sodat ons oumense nie voel hulle word verwerp nie, kan families en bejaardes gedurende dié moeilike tyd tog berusting vind

Meer oor:  Feestyd  |  Verhoudings  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.