Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Elana se prioriteite: Familie bly bo-aan die lys
26 November 2020


Elana Afrika-Bredenkamp (40) is een van die bekendste gesigte in Suid-Afrika en haar skedule is so vol dit is amper onmoontlik om haar vas te pen vir ’n geselsie. Maar vir hierdie ma-preneur, gewilde radio-omroeper, TV-aanbieder, aktrise en sakevrou is haar familie haar topprioriteit.

Wanneer dit kom by haar dogters, Esther Beth (5) en Annabelle (3), kan Elana nie uitgepraat raak nie. “Ons het baie sterk dogtertjies gekweek. Ek moet sê, so klein soos wat hulle is, my kinders is baie switched on oor baie goed. Ons leer hulle deur boeke, deur baie vir hulle te lees. Ons het al vroeg met hulle begin praat oor emosies, so hulle is baie goed daarin om uit te druk hoe hulle voel en daaroor te praat.

“Hulle het ook baie sterk opinies, so ek moet vroegtydig vir die skool waarsku: ‘As jy vir my kind sê om stil te bly, moet jy vir haar ’n rede gee, want sy gaan vir jou vra wat is verkeerd daarmee om te sing as sy eet as sy gelukkig voel . . .’

Hulle het ander idees van wat braafheid byvoorbeeld beteken, of van wat aanvaarbaar en wat nie aanvaarbaar is nie. Dis nie asof ek dit met opset gedoen het nie, ek dink net in 2020 was ons kinders deur baie en hulle verander maklik en is nogal resilient – meer as ons as kinders. So, omdat ons kinders deur ’n pandemie is, kan ons nie dieselfde reëls toepas as kinders wat in die 90’s grootgeword het nie. Dit is ’n ander era.”

Invloed op kinders

Elana voel die oomblik wat ’n kind jou huis verlaat, soos om kerk toe te gaan, beïnvloed ander mense hulle en daarom is dit haar verantwoordelikheid as ouer om seker te maak dat sy as ma ’n sterk invloed in haar kinders se lewe is. “Ian is ’n baie goeie Daddy. Hy is baie kundig op soveel velde. Ek is weer groot op affirmations, positiwiteit, oor gesels – in ons huis is daar nie geheime nie. Ons moet kan jammer sê . . .”

Sy probeer haar dogters grootmaak volgens moderne boeke, maar ook God se Woord. “Hulle moet kan voel hulle is beskermd, dat daar reëls is rondom ons liggame en hoe hulle ander mense behandel, maar ook, we don’t serve bad people. Ek leer hulle ook nie almal met ’n glimlag is ’n maatjie nie. Jy kry goeie mense en jy kry slegte mense. Daar is so baie lesse wat ek vir hulle moet leer wanneer dit kom by die fisiese, spirituele, mental . . . Hul waardes, dinge rondom God, hoe om te gee . . . Ek kan nie elke dag ’n hele sak vol goed indril nie. Ek probeer elke dag minstens een affirmation gee – gister was dit dankbaarheid, vandag – selfvertroue . . .”

Vir haar is die Bybel ’n beginpunt wanneer dit kom by haar kinders, maar, erken sy, dis nie genoeg nie. “In my volwasse lewe, in die vermaaklikheidsbedryf, is ek al soveel kere geboelie dat God se Woord partykeer nie genoeg was vir my nie. Ek moes teruggaan en dink oor hoe ek slegte mense moet hanteer. Hoe laat ek hulle besef hulle is deur dieselfde God geskep en die nice goed wat ek het, kan hulle ook hê? Die ding is, vriendelike, sagmoedige mense kom baiekeer laaste, want mense loop bo-oor vriendelike mense.

“Soms moet ek my stem dik maak, en ek kan nie die hele tyd vriendelik wees nie, veral nie as ander mense gemeen is nie. Ek móét dit vir my kind leer, want wanneer ’n ander kind jou slaan, kan jy nie altyd terugsit en sê ‘miskien is dit omdat iemand haar slaan’ nie. Partykeer gaan jy moet opstaan vir jouself en haar terugslaan. Jy kan jouself nie altyd steur aan lelike goed wat ander vir jou sê nie. Ek maak my kinders tough, maar met baie liefde en drukkies groot.” Haar raad aan ander, selfs haar dogters, is om altyd doelwitte te hê.

“Al hou jy nie daarby nie, ten minste het jy probeer. En skryf dit neer. Ek skryf met – al wil my man slange vang – permanente pen op my badkamerteëls, want dis waar ek my affirmations doen soggens. Skryf dit neer waar jy dit gereeld sien, dan is dit ’n lekker reminder van jou goals.”

Kersfees

Wanneer dit by Kersfees kom, het sy ook duidelike doelwitte en reëls. “Jy moet weet as jy my nie in die hande kry nie, dan is ek besig om geld in te samel vir my familie, vir Kersgeskenke, vir kos en vir liefdadigheid,” borrel sy met haar kenmerkende lag. “Ek is nie ’n groot Kersfees-mens nie, want ek dink hierdie hele ding rondom geskenke-ontvang is ’n bietjie indulgent. Ek geniet nie die groot bohaai nie. Weet jy hoekom? Dit kom van ’n kleintyd af waar ons altyd een geskenk gekry het. Vader Kersfees het vir jou een geskenk gebring,” verduidelik sy.

“Maar omdat ons nou ’n lekker groot, integrated familie is, gaan almal heeltemal mal en almal koop vir die kinders. Selfs my skoonouers weet ek het ’n groot issue daarmee wanneer die geskenke by die Kersfeesboom uitpeul.” Elana vertel sy het sommer al vroeg in haar huwelik reëls hieroor begin maak. Sy is nou al nege jaar getroud met media-entrepreneur, Ian Bredenkamp.

“Ek is die reëlmaker. So, die kinders kry een geskenk en vir die ouers is daar ’n budget.” Haar skoonouers is egter mal oor Kers-versierings. Hulle versamel poppe en beertjies en hulle het die grootste versameling in Suid-Afrika. “So, my skoonma haal daai Kersboom uit en sy trek tot die ornamente, die beertjies aan met Kersfeesklere. Dit is iets om te aanskou! Daar is selfs ’n Kersvader wat by die skoorsteen uithang! Sy bak ook altyd gemmerkoekies wat die kinders kan versier. So, hulle kan decorate soveel as wat hulle wil, maar geskenke moet beperk word.” Die oordadigheid van Kersfees is vir Elana ’n probleem.

“Die reël is, op die 23ste maak ek die butter turkey. Op die 24ste gaan eet ons almal altyd saam middagete. Op Kersdag eet ons ook uit, maar ons kom nie huis toe met leftovers en eet vir twee dae nog aan die kos en maak nog gammon sandwiches ’n week ná die tyd nie. Dis net te oordadig vir my en ek doen graag eerder liefdadigheid rondom Kersfees. Ek en Ian voel baie sterk wanneer God vir ons iets gegee het, moet ons dit deel, so ons gee graag vir liefdadigheid, vir mense wat nodig het en vir die kerk, soos ons gelei word.”

Sy verduidelik verder haar fondasie, waar sy vandaan kom, is waar sy teruggee, veral die kerk. “Ek glo daaraan my talente is deur die kerk geshape, so ek het geen issue daarmee om my tyd te gee vir die kerk, om te perform of om te terug te ploeg, praatjies te doen of geld te gee nie. Ons doen ook baie werk met voedingskemas, want ek was in ’n skool met een.”

Vir Elana, vrou van vele talente en beroepe, kom haar familie eerste.

2020 tel ook

Elana het in Ravensmead in die Kaap grootgeword en in haar laerskooljare Bell-ville toe verhuis. “Dit was vir my pa baie belangrik dat ons altyd ons beste probeer en ons die beste kanse en geleenthede gehad het.”

Ná skool het Elana vir drie jaar aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer, waarna sy ge-headhunt is en Johannesburg toe getrek het. Die res, soos hulle sê, is history. Elana het vanjaar haar 40ste verjaardag gevier. En waar baie mense terg hulle tel nie hierdie jaar nie, is dit vir Elana belangrik om te sê sy word volgende jaar 41.

“Die rede hoekom dit moet tel, is omdat lockdown so erg was vir so baie mense en ek kan dit nie ignoreer nie. Die jaar 2020 tel beslis, want ons almal het lekker gevoel hoe dit is om te struggle, hoe om weer te begin bid, hoe dit voel om dependent te kan wees, om getroud te wees, om ma te wees, om nie geld te kan hê nie, om te reinvent, om te voel hoe om na ons mental health te kyk en daaroor te begin praat (want niemand wil ooit erken dat hulle ongelukkig is nie) . . .

“Ek dink baie het in hierdie jaar gebeur en ons moet versigtig wees oor hoe ons 2021 begin. Almal wil so graag hê hierdie jaar moet verby wees, maar ons kan net volgende jaar goed begin as ons nou al wegspring. Ons moenie nou begin gemaklik raak met die einde van die inperking nie. Dit is eintlik net die begin van ’n baie moeilike tyd wat voorlê vir baie van ons.”

Elana vertel sy is al by Junie 2021 in haar beplanning! “Desember is nie ’n leeglê-tyd nie. Ek dink ons gaan moeilikheid optel as ons nie nou al doelwitte maak nie. Dit hoef nie groot te wees nie. Dit kan een idee wees – volgende jaar moet ek my kind in die skool sit en sanglesse laat doen en ek wil ’n marathon hardloop – en dan daarvoor begin werk. Anders, ná die sjampanje op die 1ste Januarie, is almal moeg en bakleierig en nie lus nie.” Die lockdown het beslis ’n groot impak gemaak op hoe Elana die lewe tans ervaar.

“Ons bly in twee stede – Johannesburg en Kaapstad. Ek het in lockdown besef hoe gelukkig ons eintlik is, want ons kon net in een stad bly soos die meeste mense. Maar dit het ook beteken ek kon nie my kinders elke twee weke op ’n vlug Kaapstad toe sit om vir hul oumas en oupas te gaan kuier nie – iets wat ek belowe het toe ons Johannesburg toe getrek het. Dit het gemaak dat ek eintlik meer in die Kaap wil wees en ons gaan dalk weer die studio Kaap toe skuif, want ons het ons ouers verskriklik baie gemis. My ma en pa en my skoonouers is regtig ons beste vriende en dit was baie moeilik vir ons. Ek glo kinders hou oumense jonk, en ek kon sien hoe hulle ouer geword het tydens lockdown omdat hulle net te veel verlang het. Dit was flippen hectic!”

Ek is groot op affirmations, positiwiteit, gesels – in ons huis is daar nie geheime nie.

Maar die pandemie gaan nie Elana se reëls oor Kersfees verander nie! “Hulle mag steeds nie mal gaan met geskenke nie!” Hul Kersboom skitter al van die begin van November af. “Ons vier baie dae tydens die jaar en vir my is Kersfees nog so ’n dag. Dit beteken eintlik meer vir my kinders, veral omdat daar ’n storie rondom dit is, en fantasie. Maar vir my beteken Kersfees dat almal moet saam wees en saam kuier om een tafel.”

Elana en Ian pak gewoonlik op in die middel van Desember om Kaapstad toe te gaan. “Vader Kersfees kom in twee stede. Hy kom eers hiernatoe (Johannesburg) – gewoonlik wanneer ons buite staan, lui die voordeurklokkie en as ons ingaan, is daar een goedkoop geskenk vir elke dogter onder die Kersboom. Hy kom ook slegs as jy soet was deur die jaar. Ek het net vanoggend weer gedreig Kersvader kom nie hierdie jaar nie omdat hulle my nie gesoengroet het nie en eerder dadelik begin speel het,” lag sy.

Help ander

Hierdie jaar is egter ’n bietjie meer spesiaal, want die gesin het ook ’n Bag of Joy by Kersvader gekry wat wag om oopgemaak te word. “Ek en Kate Shepherd, my besigheidsvennoot, het toe lockdown eindig, rondom Augustus, gesit en wonder hoe ons mense gelukkig kan maak en met hierdie idee vorendag gekom – Kersfees in ’n boks. Kate het gedink ’n boks is te veel werk, toe maak ons dit ’n sak.”

Hulle het besluit om vir eers net op kinders te fokus en Bag of Joy bevat oulike geskenkies soos Kersfeespajamas, alice bands met takbokhorings, hot chocolate en allerhande ander bederfies. Die plan is om ’n Bag of Joy te skep vir al die spesiale dae soos onder meer ook Valentynsdag en Moedersdag. “Ons wil graag meer joy vir mense bring, veral op die groot dae,” verduidelik sy.

In Kaapstad kom Kersvader al ’n week voor Kersfees. “Daai geskenke staan dan en loer vir almal tot Kersoggend. Niemand mag daaraan vat nie!” Gewoonlik gaan Elana-hulle saam met haar ouers Kersoggend kerk toe in Matroosfontein.

“Dis vir my ’n baie spesiale plek, want al dieselfde tannies van my kinderdae is nog daar – miskien net ’n bietjie gryser en party loop met ’n kierie. Maar hulle is altyd baie, baie, baie bly om my en my dogters te sien. Dis so spesiaal. Hulle het altyd baie min, maar ek vind in spesifieke kerke is mense se dankbaarheid en vreugde so ongelooflik. Dit is waar ek geleer het van dankbaarheid en dis steeds vir my verstommend.” As gevolg van die pandemie sal hulle hierdie jaar ’n ander plan moet maak.

“Ek dink ons gaan beslis iets spesiaals probeer doen vir hulle op een of ander manier, maar ons sal nie kan gaan soos ons altyd gaan nie.” Die Afrika-Bredenkamp-familie eet nou al vir die afgelope meer as vier jaar elke Kersdag by die De Grendel-wynlandgoed in Panorama in die Kaap. Elana verklap ook sy is besig om wyn te maak saam met die plaas, wat vroeg volgende jaar gelaunch gaan word. Hulle het alreeds ’n baie spesiale verhouding gebou met die eienaars en personeel.

“Ons is gewoonlik die grootste tafel. Hierdie jaar mag daar net 10 mense by ons tafel wees, so die kinders gaan op ’n kombersie piekniek hou langs die grootmense se tafel.” Die kelners wat daar werk, is ook baie na aan Elana se hart en juis omdat hulle bereid is (en soms noodgedwonge) om op Kersfees te werk, geniet die familie dit om vir hulle ’n groot tip te los.

“Ek dink nie dis ooit toevallig nie, so ek is altyd geïnteresseerd om te sien wie ons kelner van die dag is, want ek ken almal van hulle.” Elana is ’n pragtige voorbeeld van teruggee aan haar gemeenskap, aan mense wat dit nodig het en dit is ook juis haar boodskap aan ander. “As jy hierdie jaar iets beteken het vir jou gemeenskap, iets vir ander mense begin doen het, probeer aanhou daarmee, want om mense te help, gaan vir jou ook goed wees, jou ook goed laat voel.” Sy meen ons het nie hierdie pandemie sien kom nie, maar ons moet daaruit leer. “Alles gaan oukei wees. Ons is nie die enigste mense wat al ooit ’n krisis moes oorleef het nie.”

Aan jong ma’s is haar boodskap: “Ek weet dis moeilik met kleintjies, en ek weet dis moeilik as jy ouers het wat ook inbly. Maar ons is ’n generasie wat veerkragtig is en ons het die voorreg om ons kinders en ons ouers by ons te kan hê. Om hulle na ’n ouetehuis toe te stuur, is nie die moeite werd nie. Dis nie wat ons doen nie.”

Vir die besigheidsma wil sy sê: “Welgedaan! Al het ons geld verloor, het ons dit gemaak, want ons het ’n idee gehad en dit maak werk.” Elana is vol idees en doelwitte vir 2021, maar bo-aan die lysie is dat sy nóg meer gehaltetyd saam met haar familie wil spandeer, nóg gelukkiger wil wees en om gereeld diep in haar man se oë te staar op hul weeklikse date nights!

• Vir meer inligting oor Bag of Joy besoek gerus www.bagofjoy.co.za.

Meer oor:  Kuier  |  Elana Afrika-Bredenkamp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.