Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Entrepreneur: Jacks-of- all-trades woeker vir wins
22 Julie 2021


Die dae van vir jare lank aaneen dieselfde werk doen, is so lankal verby soos betroubare elektrisiteit. Deesdae moet jy omtrent al jou talente inspan om kos op die tafel te sit. En behalwe jou “regte werk” moet jy dalk ook ’n plan maak om uit een of ander side hustle nóg ietsie te verdien.

Dis amper soos jou “liefdeswerk”, want jy kan doen wat jou gelukkig maak en jou kreatiwiteit en passie uitleef. Die Covid-19-pandemie het steeds ’n verdoemende effek op almal se beursies, maar dit het ook daartoe bygedra dat mense buite die boks dink en skarrel tot hulle nóg ’n besigheid maak werk. Twee sulke mense, wat nie op hulle laat wag het nie, is Radcliffe Roelse en sy gesin en Mark Williams van The Skilled Craftsman.

Roelse-gesin

Radcliffe Roelse (45), sy vrou, Shantal (42), hul oudste dogter, Courtney (24) en jongste dogter, Cassidy (18) van Bellville-Suid in die Kaap is ’n gedugte span met koppe vir besigheid en vindingrykheid.

Radcliffe vertel hy werk al vir 20 jaar vir die Japannese maatskappy NGK Ceramics, as ’n produksietoesighouer wat onderdele van ’n motor se uitlaatstelsel vervaardig.

Maar hy is ook ’n kranige fotograaf wat in 2005 begin foto’s neem het vir sy en Shantal se dekor- en funksiesbesigheid genaamd Roelse Events. Skielik was Radcliffe ook in aanvraag om troues af te neem en vandag neem hy tot voorblaaie vir Kuier.

Hy en Shantal het destyds besluit om hul voltydse werke te behou en om Roelse Events stadig te groei totdat dit een van die twee se salarisse kon vervang. Shantal het egter haar werk in 2012 verloor. Die paartjie glo dit was eintlik ’n bedekte seën, want skielik het die groter kliënte aan Roelse Events se deur begin klop.

“Alle wins het ons teruggeploeg in die besigheid om toerusting aan te koop,” sê Radcliffe. Courtney het toe ook ingespring en haar ma met funksies gehelp. Tog het sy alles van fotografie by haar pa geleer en was dit haar eerste passie, soveel so dat sy in 2020 die Foto van die Jaar by die Durbanville-fotografieklub gewen het. (Radcliffe was in 2018 en 2020 die Fotograaf van die Jaar.)

In 2019 het sy ook haar eie besigheid, Glam Cats Nail Bar, by die huis begin. Courtney werk ook as handelsmerkambassadeur en doen praatjies by skole. Die jongste dogter, Cassidy, stel weer belang in drama- en filmproduksie en het haar eie YouTube-kanaal begin. Radcliffe het haar geleer hoe om die kamera te gebruik en saam het die twee meer geleer van videoproduksie – wat ook ’n groot deel van hul besigheidspakkette uitmaak.

“As ’n familie het ons die geleentheid gehad om op die aanlyn webreeks Van Adamse te werk. Hulle het met akteurs soos Lee-Ann van Rooi, Monique Rockman, Marlo Minnaar en Keenan Arrison gewerk. Só het ons begin om die Kuier-tydskrif se voorblad te skiet met Lee-Ann van Rooi daarop. “Kuier was so beïndruk met die kwaliteit en ook al die opsies en het ons genader om die fotoregte te koop. ’n Paar weke later het Kuier ons genader om nóg voorblaaie te skiet,” sê Radcliffe. Het hy sy voltydse werk gelos?

“Nee,” sê Radcliffe. “Ek en Shantal het besluit dat ek my voltydse werk sal behou, sodat ons ten minste een gereelde inkomste het in die huishouding. Terwyl my voltydse werk my prioriteit is, sorg ons as ’n gesin dat ons alle besonderhede deeglik beplan sodat die kliënt ten alle tye tevrede gestel kan word. Die kliënt onthou altyd ’n positiewe ervaring,” vertel Radcliffe.

“Ons familie glo in uitgerekte bevre-diging en het vroeg verkies dat die besigheid stadiger groei sodat ons dinge mooi kan dophou om sodoende volhoubare groei te verseker. In vorige moeilike tye en gedurende die pandemie is ons dankbaar dat ons ons verskillende vaardighede kon gebruik om aan die werk te bly.

Terwyl die dekor en funksiegedeelte van hul besigheid heeltemal stil is, het die fotografie saam met Courtney se Glam Cats Nail Bar vir hulle besigheid ingebring. “Ek het so baie besigheidsbeginsels by my voltydse werk geleer, wat ek in Roelse Events toepas, maar dis veral die Japannese werksetiek wat my motiveer om dieselfde gehalte te handhaaf in alles wat ek doen,” voeg hy trots by. “Bou altyd aan jou handelsmerk en weet dat jy in jou persoonlike en professionele hoedanigheid jou handelsmerk verteenwoordig. Leef jou handelsmerk uit, gaan versigtig daarmee om en waak oor dit, selfs op sosiale media,” sluit hy af.

Die hele gesin sit hand by by Roelse Events – Courtney, Shantal en Cassidy.

The Skilled Craftsman

Mark Williams (34) van The Skilled Craftsman is ’n boorling van St. Helenabaai wat deesdae op Malmesbury buite Kaapstad woon. Hy was nog altyd ’n man van vele talente, wat kreatief is op baie gebiede soos die sweiswerk van hekke, fotografie, skryfwerk en videografie. “Ek het op ’n dag met God gepraat toe kry ek die skrif Eksodus 31:3. Dis waar ek aan die ‘skilled crafstman’ gekom het en dit het basies daaroor gegaan dat ek is wie ek is en wat ek doen kom uit Hom uit.”

Sy alles-in-een-besigheid het eers regtig in 2019 begin blom – die twee jaar vantevore het hy hier gevat en daar gelos om alles saam te maak werk. Hy het aanvanklik sweiswerk by die Weskus Kollege in Vredenburg studeer, maar sy kantwerk was fotografie wat die afneem van troues, matriekafskeide en verlowings behels het. Hy het op Facebook en sosiale media geadverteer en was volgeboek vir fotosessies op Malmesbury en Stellenbosch en in die Paarl.

Hy sweis ’n hek.

Tussendeur het hy verskeie fotografiekursusse by Shaw Academy en deur ander aanlyn kursusse gedoen. In 2019 voltooi hy die sweiswerkkursus en verskyn sy boek, Vehicle of Love, wat oor verhoudings en liefde gaan, sommer ook op die rakke. “Ek het werk begin soek, maar is toe tydens die harde inperkings vasgevang by my liefde in Malmesbury.

Toe trou hy met sy geliefde Lenithe en die fotografie blom ook. Dit het regtig goed gegaan.” Op ’n dag voel ek toe skielik moeg en oorweldig, want ek doen so baie dinge en ek kry nie die balans nie.” Mark het geweet hy moet prioritiseer.

Hy het sy besigheid begin en dit het hom gehelp om alles doelgerig en stapsgewys te benader. “Ek is hoofsaaklik ’n mensefotograaf wat gek is om portraits te neem. Maar ek kan ook hekke, diefwering, glyhekke en braaistaanders op wiele maak.

“Soms is ek besig om vrouemodelle op my rekenaar te redigeer, soms skryf ek kortstories met ’n boodskap oor mishandeling soos in die ‘Diepe Seer’ of ‘Die Digter’ wat oor my lewe gaan en verfilm dit self. En soms sweis ek.” Volgens hom móét jy leer hoe om dinge te skei en goed uiteen te sit. Vra jouself af: Wat is belangrik? Wat is nóú belangrik? Wat moet nóú afgehandel word en wat kan wag?

Volgens Mark glo hy in die ding van tiendes gee. Dis ’n binnekamerding met God se seën oor my lewe. “As die funksies stil is, dan stroom die aanvraag na staalhekke in. As dit weer stil is, verkoop die sonhoedjies met die logo, The Skilled Craftsman, weer soos soetkoek,” sê hy.

Indien jy die vermoë het om tussen jou werk, stokperdjies, talente en passies te navigeer en ’n goeie lewe daaruit te maak, is jy besonder gelukkig en beter daaraan toe. Klou vas aan elke grashalm van werk en bekwaamheid, want die lewe daarbuite is rof en ongenaakbaar.

BESIGHEIDSWENKE:

• Maak besluite en hou daarby.

• Jy hoef nie net by een ding te bly nie, die opsies is eindeloos. Skep ’n portefeuljeloopbaan, waar jy op ’n verantwoordelike wyse jou pad navigeer tussen dinge wat reg is vir jou en wat jou gelukkig maak.

• Begin by die begin. Begin by dinge waarmee jy goed is en vind jou pad. Skryf neer wat jy wil hê en wat jou gelukkig maak, dan sal jy manier vind om daarby uit te kom.

* Foto’s: verskaf

* Bron: https://theundercoverrecruiter.com/how-you-can-be-jack-all-trades-and-master-all/

Meer oor:  Kuier  |  Entrepreneur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.