Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Entrepreneur: Maak geld met tweedehandse goed
10 Junie 2021


Hulle is die pop-up-entrepreneurs wat nuwe lewe blaas in sogenaamde pre-loved goed en jy sal moet bykom as jy nou nog nie weet wat ’n spaarsamigheidswinkel, oftewel thrift store, is nie. Seriously! Thrift stores is nou die in-ding. Eintlik al lankal.

Dis aanlyn of pop-up-snuffelwinkels waar jy goedversorgde tweedehandse items teen ’n appel en ’n ei kan opraap. Dié entrepreneurs sit nie in spogkantore nie, nee, hulle bedryf meestal hul sake vanuit hul eie garages of sitkamers. Die Covid-19-pandemie het haar letterlik gedwing om entrepreneur te word, vertel Danya Goosen (29) van Elsiesrivier op die Kaapse Vlakte.

Sy het nie in sak en as gaan sit toe 2020 haar met al sy ellende begin meesleur nie. Beide haar ouers is in dié donker jaar oorlede – ma Freda aan breinkanker en pa Daniel, ’n konstruksiewerker, aan Covid-19. Aan die einde van die pikdonker tonnel was daar op die ou end tog lig.

Dié self-erkende modemeisie het haar liefde vir mooi klere omskep in ’n winsgewende besigheid genaamd Lotus St. Boutique. En selfs haar nie-winsgewende organisasie, Lotus Street Foundation, wat in 2019 gestig is, het as’t ware begin blom.

“Ek en Marvin Levendal is die stigters (van die Foundation). Ons doen tiener- gesondheidsprogramme in skole, deel kospakkies uit, werk by klinieke en organiseer sopkombuise,” vertel sy geesdriftig. “My ouers het altyd hul beste gedoen om vir ons als te gee, maar ons het swaar grootgeword. Elke Krismis het my ma ons na vlooimarkte geneem. Dan kry jy geld om te shop till you drop – en dit was maar meestal tweedehandse klere. Dis waar my liefde vir vintage eintlik begin het.”

Gee jou beste

Vanaf 2019 tot 2020 het haar Lotus Street Foundation R600 000 ingesamel en 30 000 mense gehelp. Van Januarie tot Mei vanjaar is ’n verdere R450 000 ingesamel en nou is sy druk besig met ’n kosprogram vir behoeftiges.

Ongeveer 40% kleredonasies gaan aan nagskuilings en die res verkoop sy op haar Instablad @lotusstboutique. Sy doen ook eenmalig maandelikse pop-up-winkels in Elsies by haar ma se huis. “Die community kom koop dan daar en die res van my kliënte koop almal online.” Verlede April het sy haar heeltydse werk gelos toe haar ma gediagnoseer is met breinkanker.

“Maar my thrift store was klaar daar, ek moes dit hervestig, beter bemark en meer voorraad en donasies kry, want dit was nou my hoofinkomste. Dis scary om ’n entrepreneur te word. Jy moet jóú geld gebruik, jóú tyd, jóú petrol. Dis 24/7 – want jy klok nêrens uit nie.”

Danya gaan gereeld na ander soortgelyke winkels of vlooimarkte in Seepunt, Vishoek, Stellenbosch en Franschhoek waar sy rondsnuffel vir voorraad, hier en daar kry sy ook donasies van klereontwerpers. “Ek doen ook closet clean-outs vir mense en plaas die klere dan in drie bokse: keep, maybe, donate. Ons neem ook van die skenkings na nagskuilings oral in die Wes-Kaap en stal dit uit soos jy dit in ’n winkel sou besigtig.”

Ná haar ma se sterfte in September het Danya éérs begin woel met die thrift-ding en toe al begin wins maak. “Daar was skielik meer tyd om aanlyn te bemark, meer tyd vir aankope. En soms deliver ek self, want ek hou van die interaksie met kliënte.”

Nooit het dié enkelma van Ethia (13) gedink haar passie sou brood op die tafel sit nie. “My dogter help met packaging en my sosiale plasings, nou kry sy eerstehandse ervaring van wat dit verg om ’n entrepreneur te wees. En dís hoe dit mos moet wees.” Sy is dankbaar dat haar ouers nog geleef het om dié dinge te sien gebeur. “Hulle het nog altyd gespog oor my. Hulle kan nou rus, want húlle het my geleer hoe om my eie voete te vind.”

Een van die pakkies wat deur Lotus Street Foundation geskenk is.
Van die meubels wat deur Velvet & Home verkoop word.

Bly doelgerig

Nóg ’n thrift-store-entrepreneur wat haar ding doen, is Megan Maree-Basson (34) van Kaapstad. Sy was eers ’n area-verkoopsbestuurder voordat sy haar eie besigheid Velvet & Home saam met vriendin Riana Richter (33) begin het. Sy het haar werk in 2019 gelos en troubeplanner geword. “Als het só goed gegaan. Ek het in Februarie 2020 vir Riana gevra om te kom help.” Toe slaan Covid-19 hul bedryf plat.

“Ek het skuldig gevoel, want ons is toe albei werkloos. Troues is gekanselleer en ons was platsak.” Megan het toevallig in dié tyd saam met ’n vriend na ’n veiling gegaan. “Toe dog ek, maar hoekom koop ek en Riana nie ook items op veilings en herverkoop dit nie.” Haar eerste kopie was twee toilette. “Ons het een verkoop en met die volgende veiling besluit om ou meubels te koop. Ek het daai dag teruggekom met ’n kabinet, ons het dit skoongevee en uit die hand uit verkoop. En dis toe ek en Riana Velvet & Home begin.’’ Later het hulle die meubels begin mooi maak.

“Ons het video’s gekyk en die regte gereedskap gekoop, ’n Facebook-blad begin en dit het net aanhou groei.” In April het dié twee die troubeplanningswerk gelos en heeltyds vintage meubels begin verkoop uit Riana se garage. “Ons side hustle is nou ons hoofinkomste. Ons is nou sterker as ooit en vul mekaar goed aan. Sy fokus op die finansies en ek hanteer die kliënte en bemarking.” Net God se genade het hulle in 2020 bo gehou, sê Megan.

“Laat ek jou vertel, geen droom is te groot nie. Bly net doelgerig, want die son sál weer skyn. Harde werk dra altyd vrugte.” *Haidee is ’n RSG-omroeper en -regisseur

DANYA SE RAAD:

Google is your best friend – soek op as jy nie weet nie. Die beste tyd om die Instagram-plasings te maak, is tussen 12:00 en 15:00. Dis wanneer mense etenstyd neem en dan kom loer hulle op die blad.

• As jou produk nie ordentlik uitgestal en stileer is nie, wie gaan dit koop? Presentation en die regte beligting is belangrik.

• Doen navorsing oor jou kliëntebasis, weet wie by jou koop en waarvan hulle hou.

• As ek nie ’n ding aan myself kan verkoop nie, gaan ek dit nie aan iemand anders kan verkoop nie.

• Moenie belaglike pryse vir tweedehandse goed vra nie. Ek het ’n scorecard wat ek uitwerk na aanleiding van die produk se kwaliteit – byvoorbeeld: hoeveel keer die persoon dit aangehad het, die brand se naam, die kwaliteit. Daarvolgens maak ek pryse. Ek reken packaging koste ook in die prys, want ek verpak als netjies.

• Mense gaan jou soms in die middel van die nag boodskappe stuur –moenie hul boodskappe ignoreer nie. Onthou, jou werk is nie ’n 9 to 5 nie.

• Al is jy familie of ’n vriend, jy betaal nes al die ander. Dis ’n besigheid.

• Hou by jou eie reëls. As jy ’n 24 uur reserve policy het, hou jy nie items langer as dit nie. As jy uitsonderings vir een maak, sal jy dit vir almal moet doen.

• Glo in jou eie droom en leef vir jou brand. Glo in dit wat jy doen.

Riana Richter en Megan Maree-Basson van Velvet & Home.


Megan se raad:

• Besluit vooraf wat jy by ’n veiling wil aankoop en wat jy bereid is om te betaal.

• You win some, you lose some. Soms gaan jy nie die item kry waarop jy bie nie.

• Ken jou pryse en maak seker jy kyk die items goed deur sodat jy nie ’n kat in die sak koop nie.

• Foto’s kan misleidend wees. Gaan kyk self na die produk voordat jy koop.

• Selfdissipline is uiters belangrik. Moenie jou aankoopgeld gebruik nie, laat dit aanhou groei.

• Ken die waarde van jou aankope. Ons het al ’n antieke kas vir next to nothing verkoop omdat ons nie die waarde daarvan besef het nie.

• Dink buite die boks. Ons het al stukkende strykplanke in opvoutafels omskep.

• Maak seker mense betaal jou eers voordat jy ’n item laat gaan.

• Bou goeie verhoudings met jou kliënte. Word of mouth is die beste advertensie nóg.

Meer oor:  Kuier  |  Entrepreneur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.