Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Entrepreneur: Nurse nou suksesvolle sakevrou
29 Oktober 2020

Dit is nooit te laat om jou drome na te jaag nie en Lynette January (49) van Eersterivier in die noordelike voorstede van Kaapstad is ’n bewys daarvan. Toe die lewe dié antie katswink slaan, het sy besluit om op te staan, haarself af te stof en voluit te lewe.

En vandag is sy aan die stuur van haar eie maatskappy, LynMarMatt Distributors. Binne die bestek van vier jaar het LynMarmatt Distributors so gegroei dat sy nie net haarself en haar familie kan onderhou nie, maar ook werk skep vir ander. Die maatskappy is ’n vervaardiger en verskaffer van sport- en skooldrag, die branding vir maatskappye en ook die druk van alle customised produkte soos T-hemde, bekers, maskers en nog vele meer.

En in Lynette se woorde: “There’s no stopping now. Ek is nou in die fleur van my lewe en meer gemotiveerd as ooit!” Lynette, ’n gekwalifiseerde verpleegster, vertel gemaklik dat sy eintlik ’n plattelandse meisie is. “Ek is oorspronklik van Suurbraak, ’n klein Bolandse dorpie. My oupa en my ouma het my grootgemaak. Dit was ’n lekker en sorgelose tyd. Ons het wel nie baie van alles gehad nie, maar liefde was daar in oorvoed, altyd.”

Staan op en probeer

Toe Lynette se oupa ’n werk in die Kaap kry, moes die gesin noodgedwonge hul plattelandse skoentjies vir dié van die Kaap verruil. Lynette vertel oop en eerlik dat die familie swaargekry het.

“My grootouers kon nie altyd in al my skoolbehoeftes voorsien nie, maar wat hulle kon gee, het hulle, en ek in ruil het weer seker gemaak dat ek goed doen op skool om vir ons ’n beter lewe te skep. My ouma het ook seker gemaak dat ons nooit honger gaan slaap het nie.”

Só Lynette ken van swaarkry, maar van opgee, ken sy min. Sy lag lekker voor sy erken dat die skuif na Elsiesrivier op die Kaapse Vlakte ontnugterend en ’n lekker culture shock was. “Bendegeweld was aan die orde van die dag en waar ons gewoonlik op die plaas die krieke kon hoor, moes ons nou gun-shots hoor. Vir my grootouers was dit egter belangrik dat ons veilig en geborge voel en hulle het dit hul missie gemaak om ons te weerhou van alles wat om ons aangaan.”

Lynette het haar skoolloopbaan in Elsies voortgesit en in haar matriekjaar het sy geleer elke aksie het nagevolge. “Dit is in die jaar dat ek swanger geraak het en ek moes die skool los om die grootmenslewe te betree en na my kind om te sien.” Sy het ná die geboorte van haar dogter by verskeie plekke gewerk en moes haar vingers stompies werk om seker te maak daar was elke dag melk en kiembies. “Was dit maklik? Nee, maar ek moes die gevolge van my aksies vol in die gesig staar.”

In 1989 het Lynette besef dat sy haar matriek moet voltooi en het teruggegaan skool toe. “Dit was moeilik omdat dit gevoel het asof ek ’n agterstand het, maar ek het my einddoel in sig gehou – ’n beter lewe. Ek het my matriek voltooi en het besluit om verpleging te gaan doen.” Lynette het vir 10 jaar by Tygerberg-hospitaal gewerk. “Verpleging is my roeping, dis in my bloed.”

Haar huwelik het in 2004 verbrokkel en sy moes noodgedwonge die stukke optel. “Ek onthou ek het my werk gelos omdat ek my huwelik wou red. My kinders, wat in die huwelik gebore was, was so jonk en ons het elke dag net-net oorleef. Ek het besluit om terug te gaan na die plek wat my die beste ken – ’n hospitaal.”

Lynette moes dubbelskofte werk om seker te maak dat die ligte aanbly en haar kroos se magies vol bly. Sewe jaar later het sy het haar tweede man, Mark, ontmoet en dit is waar haar liefde vir materiaal en die maak van garments begin het. “Hy het in ’n fabriek gewerk waar sokkies gemaak word. Die manier hoe hy oor sokkies kon praat en die materiaal waarvan dit gemaak is, het my gefassineer. Ek wou meer weet, meer doen.”

Toe haar man in 2015 in ’n motorongeluk oorlede is, het sy besluit om hul droom voort te sit en haar eie fabriek te begin. Mark was 42 ten tyde van sy afsterwe. Haar reis as besigheidsvrou het toe begin en sy het besluit om verpleging vaarwel te roep. “Ek het ’n printing besigheid begin wat geflop het. Ek het toe op die internet begin kyk na verskillende materiale en patrone en dis toe ek besluit het om vir korporatiewe besighede hul werksuniforms te maak.”

Van die skoolklere wat Lynette se maatskappy vir skole in Kaapstad maak.

Vat ’n kans

Sy het ’n sprong van geloof geneem en het RCS genader. “God willing het hulle my kwotasie aanvaar en dit was die begin van LynMarmatt Distributors. Die kontrak het my op die map gesit. Toe begin ek te hustle – as ek net gehoor het van ’n kontrak, dan was ek daar. Ek het my trots diep in my sak gesteek en almal genader wat ek kon. Dit is die enigste manier hoe ek LynMarmatt Distributors se toekoms kon verseker.” Ná die RCS-kontrak het verskeie ander besighede haar genader.

“Toe ek in 2017 sien dat daar ’n skool in my area oopgemaak het, het ek hulle genader om vir hulle skoolklere te verskaf. Ek het daarvoor getender sonder dat ek eers geweet het waar ek die beste materiaal sou kry. Maar ek het geleer you fake it, till you make it. Ek was elke dag op die pad op soek na die beste verskaffers van materiaal.”

Dié betrokke skool se kontrak was gevolg deur nog ander skole s’n. “Ek voorsien nou vier ander skole, insluitend Apex Primêre Skool en Apex Hoërskool, Spurwing Primêre Skool, Forest Village Leadership Academy, ook van hul uniforms en hulle is baie gelukkig met die produkte wat ons lewer. En dit is my missie om ’n kwaliteitproduk wat bekostigbaar is, te lewer. As ek sien hoe ’n kind verby my loop in die skoolklere wat ons gemaak het, kan ek nie anders as om te glimlag nie. Dit maak my hart bly en dit is ’n bewys dat harde werk vrugte afwerp.”

Daar is tans sewe permanente werkers, insluitend Lynette, by LynMarmatt Distributors. “Ons het genoeg kontrakte om ons elkeen te voorsien van ’n salaris en met dié dat die wêreld nou weer terugkeer na normaal, maak ons ons reg vir ’n influx van bestellings en ons is opgewonde en slaggereed.”

Sy sê praktiese entrepreneurslesse wat sy gedurende die stigting van haar besigheid geleer het, is om altyd goed voorbereid te wees en dat beplanning baie belangrik is. “Moet nooit stagneer nie, bly aan die beweeg. Elke ervaring is ’n leerervaring. Onthou elke produk wat jy uitsit, is jou besigheid se brand en dit moet die beste produk wees. Vir my is dit ook belangrik om te onthou dat kwaliteit altyd sal wen bo oor kwantiteit. Moenie meer aanvat as wat jy kan hanteer nie. Elke kliënt moet voel soos jou enigste kliënt en dit kan net gebeur as jy die beste diens moontlik aan elkeen van hulle lewer.”

Lynette sê sy het geleer dat ’n mens nooit te oud is om nuwe dinge te leer en jou drome na te jaag nie. “Jaag jou drome na en as jy misluk – staan op en probeer weer. Niemand het nog gewen as hulle bly lê het nie. Die lewe slaan jou deurmekaar, maar met tyd sal jy leer hoe om daai houe te dodge. Moenie opgee nie en los daai ‘ek kannie’-gedagtes. Ek kon en jy kan ook! ”

Meer oor:  Kuier  |  Entrepreneur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.