Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Entrepreneur: Vrou bou besigheid met krale
26 November 2020
Carin Rhoode


Die spreekwoord lui: “ ’n Mens is nooit te goed om sleg te word nie en nooit te sleg om goed te word nie,” en dít is presies wat die juweliersontwerper Carin Rhoode (50) meen wanneer sy praat oor die draaie en swaaie waarlangs die lewe haar al gevat het.

Carin, oorspronklik van Athlone op die Kaapse Vlakte, is ’n bewys dat God die ergste battles vir Sy sterkste soldate gee. Sy moes vir agt jaar op straat bly, maar dit is haar aanhouer-wen-houding wat so bewonderenswaardig is. Sy verklaar self trots: “Van ’n homeless mens tot ’n jewellery designer – posh, nè!”

Vandag is Carin die trotse eienaar van haar eie besigheid en ook die ontvanger van R150 000 wat deur Sunlight aan haar toegeken is om haar besigheid te ondersteun. Dié vrou is nog lank nie waar sy in die lewe wil wees nie, maar sy is beslis nie meer waar sy was nie. Dit is moeilik om te glo dat sy vir so lank op die straat moes oorleef.

Toe Carin se man in 2011 oorlede is, het haar hele lewe uitmekaargeval. Sy het in ’n diep gat van depressie verval en alles verloor – haar vriende, die lewe hoe sy dit geken het en ook haar huis. Sy moes noodgedwonge op die straat gaan bly. Maar, meen sy, dit is juis haar journey op die straat wat haar laat besef het dat ’n mens nooit iemand moet oordeel net omdat hulle haweloos is nie.

Beland op straat

Sy vertel saggies presies hoe sy in 2011 op straat beland het. “Net ’n paar maande voor my man se dood, het ek my werk gelos en besluit om ’n huisvrou te wees.” Carin was ’n haarstilis en nadat haar enkels probleme begin gee het, het sy besluit om te bedank. “Dit was lekker om vir ’n slag by die huis wees en toe sterf my man.”

Haar man het ’n beroerte gehad wat hom breindood gelaat het. Sy sug diep voor sy daardie tyd in haar lewe herroep. “Ek was ewe skielik alleen en het nie geweet hoe en watter kant toe nie. Alles was net deurmekaar.” Sy het dae omgelê en haar lewe het vinnig agteruitgegaan. “Ek het dit nie eens besef nie. Daar is so baie van daai tyd wat ek nie eens onthou nie.”

Carin Rhoode
Só lyk van haar produkte.

Twee jaar ná haar man se dood het sy ook haar pa aan die dood afgestaan. “Ek was so broos daai tyd. So swak en gebroke. Om albei my steunpilare te verloor, was een te veel vir my. ’n Mens sê altyd dat jy die tipe goed kan oorleef – tot dit jou tref. Depressie is ’n duiwel. Jy verloor jouself en alles waarvoor jy staan.”

En dit is ook terwyl sy so swak was dat sy letterlik haar huis verloor het. “My man was voorheen getroud en sy dogter uit daardie huwelik het eendag papiere vir my gebring om te teken. Ek was nog altyd ’n mens wat mense vertrou het en het geteken sonder om te lees. ’n Maand later was ek haweloos.”

Carin en haar man het nie kinders saam gehad nie. Nadat sy haar huis verloor het, het sy by haar suster gaan bly. “Ek het so min moontlik by my familie gevra en hier was ek nou afhanklik van hulle. Ek het ook altyd gevoel dat my suster haar eie gesin het en dat ek nie vir haar ’n las wou wees nie.” Sy het besluit om vir haar elders ’n blyplek te loop soek.

“Ook daar het dit gevoel asof ek nie hoort nie.” Carin se depressie het vererger en sy het angsaanvalle begin kry. Sy vertel dat sy eendag weer ’n angsaanval gekry het en toe haarself by Groote Schuur-hospitaal laat opneem het. “Toe ek ontslaan word uit die hospitaal, het ek nie geweet waarheen om te gaan nie, vir wie om te bel nie. Iets binne in my het my net laat besef dat ek nie terug kan gaan na waar ek gebly het nie.”

Swerf

Sy het ’n koerantjie opgetel waarop die CCID (Cape Town Central City Improvement District) se nommer agterop gedruk was. “Ek het die nommer geskakel. Iemand het my kom optel en na ’n shelter in Groenpunt geneem. “Ek het vir ’n rukkie daar gebly, maar die supervisor by die shelter het van die vroue sexually harass. Ek was een van daai vroue en ek het besef dat ek bitter vinnig daar moes wegkom.”

Die shelter het ’n paar positiewe punte ook gehad, want dis hier waar haar journey met die ontwerp van juweliersware begin het. “By die shelter het ek vir Edgar ontmoet. Hy was ’n baie goeie vriend en het vir my baie geleer oor hoe om in shelters en op die straat te oorleef. Dit is ook hy wat my aangespoor het om met beads te begin werk en juwele te maak om ’n ekstra inkomste te verdien.”

Nadat Carin die shelter verlaat het, het sy by verskeie ander shelters en ook op straat gebly. Sy het egter nooit opgehou soek na werk nie en het selfs in 2018 weer as stilis begin werk by ’n haarsalon in Woodstock. “As stilis moet jy ten alle tye op jou beste lyk. Mense verwag jy moet mooi lyk om vir hulle mooi te maak, en glo my, dit is nie maklik wanneer jy op straat woon nie.”

Carin Rhoode
Carin en haar lewensmaat, Rameez Kemp.

Mense reik uit

Ten spyte van die feit dat sy op straat gebly het, het Carin altyd gesorg dat sy op haar beste lyk. “Ek het daai tyd in ’n tent in die Company Gardens gewoon, so ons klere was darem altyd skoon en ons het toegang tot water gehad.” Die salon het egter gesluit en toe is Carin weer sonder ’n inkomste, maar sy het weer haar krale gemaak.

“Ek het Greenmarket Square platgeloop en my krale verkoop op straat. Dit is ook hoe Sunlight my drie maande gelede opgespoor het.” Een van Carin se kliënte het vir The Hardy Boys van haar pragtige kostuumjuweliersware en besigheid vertel. Sunlight is een van The Hardy Boys se kliënte.

Sunlight het R150 000 aan haar toegeken om haar besigheid te ondersteun. Carin se suster, Michelle, en The Women of Hope-organisasie koop van haar juwele aan en herverkoop dit. “So het die besigheid stelselmatig gegroei en dit is ook deur die verkoop van die juwele dat ek in kontak gekom het met die mense by YMCA Cape Flats Rotary Camp waar ek huisvesting gevind het.”

Haar juweliersware word tans op Facebook se Marketplace verkoop terwyl Sunlight na ’n spasie soek waaruit sy haar besigheid kan bedryf. “Die maak van juwele en Sunlight het vir my ’n kans gegee op ’n nuwe lewe. Ek kan nou werk sodat ek nooit weer op die straat hoef te beland nie. Dis nie vir my net geld nie, dis ’n geleentheid wat my lewe gaan verbeter.”

Carin gaan in verwondering voort: “Drome word waar. Om te dink dat dit die maak van krale is wat my lewe gered het – iets waarin ek nooit eens belanggestel het nie. As jy my twee jaar gelede sou sê dat ek in 2020 ’n besigheidsvrou gaan wees, sou ek my klaar gelag het!” En wat is die leuse, wat haar ook op straat deur die ergste tye gedra het? “In elke negatiewe situasie, is ’n positief. Jy moet net hard en lank genoeg kyk om dit te sien. As ek nie op straat beland het nie, sou ek nooit juweliersware begin maak het nie. Hou vas aan die beginsels wat jy by jou ouers geleer het – die mense op straat kry swaar, maar baie van ons het harte van goud!”

Meer oor:  Kuier  |  Entrepreneur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.