Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Geldsake: Kry insig in jou finansies en spaar rande
22 Julie 2021

Dit was ’n rowwe jaar en sodra dit net lyk asof dinge beter gaan, slaan nóg ’n vlaag van corona-chaos die wêreld wat elke keer ons sakke ruk. Suid-Afrikaners raak al hoe armer soos die ekonomie sukkel om die mas op te kom. Volgens Statistieke Suid-Afrika word ongeveer die helfte van Suid-Afrikaanse gesinne as arm geag, terwyl sowat 30% in die middelklas val.

Volgens ’n Pew Research Center-studie verdien die Suid-Afrikaanse “middelklas” tussen R147 en R294 per dag terwyl die werklike “arm” of “lae” inkomsteklas op minder as R29 per dag oorleef. Studies dui egter daarop dat 34% (meer as ’n derde) van Suid-Afrikaanse huishoudings uit die middelklas gaan sak en skuld is ’n groot faktor – met ’n toename van ’n skokkende en kommerwekkende R33 biljoen skuldrande net in 2020. En met die petrol-, elektrisiteit én kospryse wat net aanhou styg en styg, lyk die toekoms maar redelik donker . . .

Lei tot angs

Al kan geld nie geluk koop nie, speel jou finansiële gesondheid en gewoontes ’n groot rol in jou geestelike welstand. As jy bekommerd is oor jou finansies en skuld, kan dit ’n groot las op jou skouers en gemoedstoestand wees en selfs lei tot angs, paniek en depressie. ’n Onlangse studie deur die Suid Afrikaanse depressie-en-angs-groep (Sadag) het bevind ongeveer die helfte van die 1 214 respondente voel die finansiële spanning en druk is een van die grootste uitdagings tydens die Covid-19-pandemie.

Masutane Modjadji van South African Federation for Mental Health (SAFMH), verduidelik verder mense is bekommerd oor verskeie goed op dieselfde tyd. “Vir dié wat sukkel om kos op die tafel te kry, is dit ’n prioriteit en is hulle bereid om hul veiligheid daarvoor op te offer. In my ervaring voel die meeste pasiënte spanning en angs as gevolg van issues soos kos, geld en om ’n werk te kry of behou.”

Dit is belangrik dat jy voortdurend probeer ‘beheer’ neem oor dit wat jy kan – jou eie/persoonlike geldsituasie.

Beide Babette Nelson (38) en haar man, Jansen (41), van Bellville in die Kaap, moes die laaste paar maande elke sent omdraai. “Ons moes albei ’n major pay cut vat om ons werke te kon behou en daar is nou letterlik te veel maand aan die einde van ons pay-pakkies. Ons was altyd redelik gemaklik, maar deesdae is daar nie genoeg om al die rekeninge te dek nie. Nie net dit nie, maar alles raak net duurder en duurder. Daar is tye wat ons pasta sonder sous moet eet net om darem iets in te kry. Ek moes ook al die kinders se extramurals kanselleer. Jy ken daai grappie, nè? Ek het so sterk geraak, want ek kan nou R1 500 se groceries op een slag dra,” lag sy, maar erken dan ernstig: “Ons praat nie eintlik daaroor nie, maar ons is baie gespanne op die oomblik oor geld en weet nie wat ons kan doen om die las ligter te maak nie.”

Aan die ander kant van die muntstuk, is Salley de Villiers (45) van Eersterivier, ook in die Kaap. “Ek weet nie waaroor almal so kla nie. Ja, die pandemie is rof, maar ek is net bly ek het nog ’n werk. Ek het nog nooit baie geld gehad nie en sal ook seker nooit nie, maar dit het my geleer om nie bo my means te lewe nie. Ek koop net wat ek nodig het en make do met wat ek het,” sê sy.

Sebastien Alexanderson, uitvoerende direkteur van National Debt Advisors (NDA), verduidelik: “As jy R6 000 per maand verdien het voor lockdown en jou uitgawes het nie veel vermeerder nie, sou niks vir jou verander het nie. Aan die ander kant, as jy R40 000 per maand verdien het, en jou maandelikse uitgawes en skuldbetalings sowat R35 000 was, maar jou inkomste nou gekrimp het tot R25 000, is jy waarskynlik nou in die moeilikheid.”

Hy verduidelik dit gaan nie eintlik soveel oor hoeveel jy verdien nie. “Hoeveel jy verdien, is net belangrik in terme van hoeveel jy spandeer en as jou uitgawes gereeld meer is as jou inkomste, moet jy dalk professionele hulp oorweeg voor dit te laat is om goeie oplossings te vind.”

Kry insig in jou sake

Gelukkig is dit moontlik om nog jou sake reg te ruk, maar dit gaan dalk ’n kopskuif van jou vereis. Volgens Carla Oberholzer, ’n skuldadviseur by DebtSafe, gee ’n begroting jou die nodige insig om jou finansiële storms te beveg. “Dit is belangrik dat jy voortdurend probeer ‘beheer’ neem oor dit wat jy kan – jou eie/persoonlike geldsituasie – en die sleutel-instrument is ’n begroting. Dit sal jou help om jou skuld en finansies in die regte rigting in te stuur en te keer dat dit hand uitruk.”

Sy verduidelik jy moet aan jou begroting dink as ’n boek oor jou finansies wat jou help om jou spesifieke finansiële situasie te verstaan om om te weet waar jy finansieel staan. “Hoe meer jy jou begroting hersien, hoe meer mag het jy om jou persoonlike finansiële besluite en uitkomste te verbeter,” meen sy. Carla sê daar is vyf wenke wat jou kan help om jou persoonlike begroting aan die gang te kry en dit ’n deurlopende, finan-siële roetine en prioriteit te maak:

• Begin met jou begroting se struktuur (jou behoeftes en leefstyl). Weet wat jou netto inkomste is (ná aftrekkings soos mediese fonds), jou uitgawes (aftrekkings soos jou kredietooreenkomste, diensooreenkomste, debiet-transaksies). Kyk of die totaal ’n minus of surplus is. Jy kan jou begroting op ’n stuk papier skryf en dit op die yskas plak, ’n app gebruik om jou te help, of jy kan ’n aanlyn template gebruik om jou begroting se besonderhede in te vul.

• Monitor jou inkomstes en uitgawes vir die volgende paar maande – jy sal kan sien hoe die begrotingstoespraak (byvoorbeeld sondebelasting of brandstofheffings) jou kontantvloei as ’n verbruiker raak.

• Soos wat jy ’n ogie op jou kontantvloei hou, voeg oplossings by hoe jy jou inkomste kan verhoog of meer kan spaar.

• Sny luukshede uit, verlaag jou uitgawes of maak jou skuld minder.

• Identifiseer en vind oplossings om ongesonde finansiële gedrag en gewoontes te verander. Kyk ook na oplossings of diegene rondom jou wat veroorsaak dat jy geld verloor of mors. Die belangrikste ding om te doen, is om by jou begroting te bly.

“Vier jou begrotingsmylpale (byvoorbeeld om ’n skuldrekening klaar te betaal, jou inkomste te verhoog, suksesvol jou onnodige spandering en kostes te sny). Dit kan sorg dat jou begroting deel word van jou alledaagse finansiële gewoontes. Belonings kan wissel van iets soos ’n R100-bederf op enigiets wat jy wil, tot ’n uiteet-bederf saam met jou geliefde. Raak kreatief (dog realisties) met wat jy byvoeg,” is Carla se raad.

Hersien jou begroting elke maand of elke tweede maand om te sien waar jy veranderings moet aanbring soos wat jou lewe en leefstyl draaie neem. “Jy sal kan agterkom of jy met te veel skuld sit en voeg dan addisionele skuldbestuuroplossings by jou begrotingsdoelwitte. Onthou, daar is niks verkeerd om ekstra hulp in te kry om jou te help om jou begroting-/finan-siële doelwitte te kan bereik nie,” meen sy.

Die sleutel lê ook daarin om klein te begin, want elke druppel in die emmer help. Probeer om toestelle wat swaar is op elektrisiteit, net een keer per week aan te sit. Moenie onnodige goed koop nie. Kyk uit vir bargains en vergelyk pryse van noodsaaklike items. Dit help om ’n lysie te maak en daarby te bly, no matter what. Om soos ’n volstruis met jou kop in die sand vir jou finansies weg te kruip, gaan jou net nog dieper in die gat in delf. Maak sommer vandag al ’n plan om ’n plan te maak om jou stappie vir stappie uit die finansiële verknorsing te grawe.

* Illustrasies: Ryan Carolisen

* Bykomende bronne: www.iol.co.za/personal-finance/guides/34-of-sa-households-will-fall-into-a-poorer-income-bracket-4b9a0028-4df1-42a2-aef9-2d7e49c34cce; businesstech.co.za/news/finance/477404/heres-how-much-you-need-to-earn-to-be-part-of-the-global-middle-class/

Meer oor:  Kuier  |  Pandemie  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.