Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Geskenke: Gee vanjaar iets met betekenis
26 November 2020


Die jaar 2020 was voorwaar een wat ’n mens opnuut laat besef het wie en wat belangrik is in jou lewe. Dit is ook ’n jaar wat mense laat stock vat het van presies waar hulle staan met hul medemens.

Met net ’n maand oor voor Kersfees is dit ook weer tyd om te besluit vir wie jy ’n geskenkie gaan gee en hierdie jaar, meer as ooit tevore, is dit belangrik om iets betekenisvol te gee.

Daar is ’n gesegde wat lui “time is the most valuable thing a man can spend”, en dié jaar is dit duidelik dat presence (teenwoordigheid) belangriker is as presents (geskenke). Met soveel mense wat hul werk weens die pandemie verloor het, is dit amper onmoontlik om vir almal in jou lewe iets te gee, maar waar daar ’n wil is, is daar ’n weg. Daarom het Kuier met kenners gaan gesels om te hoor hoe jy vanjaar geskenke kan kies.

Shané Barnard, aanlyn redakteur by die tydskrif Tuis, sê wanneer dit by geskenke kom, glo sy altyd minder is meer. “Gee liewer een gehalte-geskenk as ’n klomp kleintjies.

Vra familie en vriende om almal ’n klein bydrae te maak en verras iemand met iets wat hulle regtig graag wil hê. Dit help ook om die ontvanger van die geskenk goed te ken. Doen byvoorbeeld navorsing oor wat op hul wenslysie is. Jy kan ook vir vriende of familie vir voorstelle vra.”

Hou dit local

Local is lekker en Shané stel voor mense moet vanjaar alle geskenke plaaslik koop. “Daar is soveel fantastiese plaaslike produkte beskikbaar – probeer waar jy kan plaaslik koop. Op dié manier ondersteun jy die plaaslike ekonomie en hou klein besighede aan die gang. Hou ook die omgewing in gedagte wanneer jy geskenke koop.

Onnodige plastiekverpakking gaan net in die asblik en uiteindelik in ons reeds oorvol vullisterreine beland.” En wat is haar raad vir mense wat hul werk weens die pandemie verloor het en nie kan bekostig om vir iemand iets spesiaal te gee nie? “Persoonlik dink ek dié jaar het vir ons almal geleer hoe kosbaar dit is om gehaltetyd saam met geliefdes deur te bring. Pleks van ’n fisiese geskenk, skryf vir hulle ’n mooi kaartjie en bied aan om te betaal as julle saam gaan koffie drink of hul motor te was.

Vorige jare het ’n mens uitgesien na die geskenke, maar dié jaar is heeltemal anders.

Geskenke wat uit die hart kom, hoef glad nie baie te kos nie.” Hoewel dit altyd lekker is om ’n geskenk oor die feestyd te ontvang, is dit belangrik om te onthou waaroor die seisoen eintlik gaan – die samesyn van familie. Dit is ook hoe Jenine Bezuidenhout (43) van Blackheath in die noordelike voorstede van Kaapstad voel.

“Vorige jare het ’n mens uitgesien na die geskenke wat jy van familie en vriende gaan ontvang, maar dié jaar is heeltemal anders. Ons het soveel mense aan die dood afgestaan en die pandemie het ’n mens laat besef hoe kort die lewe regtig is.” Sy sê sy sien hierdie jaar meer uit na die samesyn met familie as geskenke.

“Die feit dat jou geliefdes aan tafel gaan sit en dit deur die jaar gemaak het, is die grootste geskenk nóg. Ons is so gewoond daaraan om ’n ophef te maak oor goed wat nie regtig saak maak nie. Ek gaan ook nie iemand dwing om nog met hul laaste sentjies vir my ’n geskenk te koop nie. Nooit! Ons het net te veel verloor – te veel tyd en nog boonop ons werke ook!”

’n Glimlag pluk aan Jenine se se mondhoeke voor sy laggend verklaar: “Al wat my familie en vriende uit my gaan kry, is lekker gammon, tong en skaapboud en natuurlik my gewilde trifle. En as hulle nie bang is vir drukkies nie, kan hulle sommer ’n klomp van dit ook kry. Dis verniet en vol liefde!”

Cheryl Mitchell (39) van Brackenfell in die Kaap, meen weer dat dit juis vanjaar belangrik is om vir die mense in jou lewe ’n geskenkie te gee, al is dit hoe klein. “Dié jaar was een wat ons almal se lewens op een of ander manier omvergegooi het. Of jy jou werk verloor het, ’n geliefde verloor het, ’n verhouding verbrokkel het en selfs jou huis verloor het – ons almal is regtig deur die meeste en verdien ’n bietjie lig en geluk.” Sy vertel sy is reeds besig om klein geskenkies aan te koop om aan haar geliefdes te gee.

“Ek het sokkies, sjokolade, juweliersware, kaartjies en plaaslike produkte gekoop. Alles was spotgoedkoop, maar ek glo dat dit die ontvanger se hartjie bly gaan maak. ’n Mens kyk immers nie ’n gegewe perd in die bek nie en ek glo elke geskenkie tel – maak nie saak hoe klein of groot dit is nie.”

Bianca Schrader, eienaar van die Gift Lady, ’n aanlyn geskenkwinkel met kantore in Port Elizabeth, voel ’n betekenisvolle geskenk hoef nie duur te wees nie. “Ons bied ’n wye verskeidenheid geskenke en hampers aan wat ideaal is vir spesiale geleenthede soos verjaardae, herdenkings, nuwe babas en ook Kersfees. Daar is ietsie vir almal teen bekostigbare pryse.”

Sy sê deur self ’n hamper vir iemand spesiaal te skep, kan daai “persoonlike touch” gee. “Wanneer jy iets vir iemand kies, moet jy ’n boodskap aan die persoon wat die geskenk ontvang, oordra om die liefde en sorg waarmee dit bedoel is, te toon.” Bianca sê voorts om jou eie hamper te skep, kan ook ’n meer bekostigbare opsie wees vir mense wat dit dalk vanjaar nie so breed het nie. Op hierdie manier beheer jy wat jy kan bekostig en wat nie. Die beste geskenk om aan iemand te gee, is een wat met die persoon resoneer. “Dit is dus belangrik om iets te kies wat vir die ontvanger belangrik is of iets wat hy of sy sal waardeer.”

Idees vir geliefdes

Vir die naaste mense in jou lewe, stel Bianca opsies soos wyn en bier voor vir mans en vroue; bederfprodukte vir ma’s, eetgoed en snacks vir pa, prettige geskenke soos sokkies en tydskrifte vir kinders en tieners, en funky kledingstukke vir babas. Bianca meen ’n mens moet nooit die impak van ’n geskenk, hetsy groot of klein, onderskat nie.

“Die gevoel wat iemand ervaar wanneer hulle ’n geskenk ontvang, veral wanneer dit onverwags is, is baie spesiaal. ’n Mens moenie die krag daarvan onderskat nie. Dit kan ’n dag ophelder, ’n lewe vier of ’n hart vertroos en genesing bring.”

En onthou, as iemand vir jou ’n geskenk gee, ontvang dit met ’n positiewe en dankbare gesindheid. Al is dit iets wat nie juis in jou smaak val of jy ooit vir jouself sal koop nie, die persoon het moeite gedoen en geld uitgegee om vir jou ’n geseënde tyd te gee. Dit kon hul laaste sent gewees het, so sê met ’n glimlag dankie. Of jy besluit het om die jaar vir iemand ’n geskenk te gee of nie, dit is meer belangrik om te onthou om die mense om jou te vier en die belangrikheid van die seisoen te onthou. Dit gaan immers nie oor die geskenk nie, maar oor die hart waarmee dit gegee is!

Meer oor:  Kuier  |  Geskenke  |  Kersfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.