Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Geslags-gelykheid: Die manne lug hul opinie
19 Augustus 2021


In ons reënboogland se Grondwet is dit op wit en swart dat vroue en mans gelyke regte het so afgesaagde gesegdes soos “die man dra die broek in die huis” hoort mos lankal in die snippermandjie!

Maar of sommige mans se siening werklik verander het, is ’n ope vraag veral gegewe die hoë voorkoms van geslagsgeweld, ma’s wat sukkel met kinderonderhoud, diskriminasie in die werksplek en ook nog die hordes afwesige pa’s. Baie mans klou egter ook steeds vas aan die geloof dat hý die hoof van die huis is en dus gehoorsaam moet word.

Sommige sukkel ook steeds om vroue as hul gelykes in die werkplek te aanvaar, veral as hulle daagliks daarmee gekonfronteer word, want vroue bestuur deesdae taxi’s, is CEO’s van maatskappye en blaas tot fluitjie in rugbywedstryde. Pleks van aanvaarding van hierdie nuwe realiteit, klou baie mans verbete aan hul “historiese mag” en dat hulle kwansuis (fisies) die sterker geslag is.

Maar, krag lê mos nie net in spiere nie, want wat van vroue se emosionele intelligensie en veerkragtigheid (resilience)? Kuier het met ’n paar mans gaan gesels om vanuit ’n manlike perspektief hul insigte oor die veranderende verhouding tussen die geslagte te kry.

Vooroordele kelder

Prof. Nico Koopman, vise-rektor vir sosiale impak, transformasie en personeel aan die Universiteit Stellenbosch, sê daar bestaan nog bewustelik en onbewustelik diskriminerende vooroordele teen vroue.

Mans sien vroue soms nog as minderwaardig ten opsigte van intellek, emosies, leier-skappotensiaal, moraal en spiritualiteit. Vir hom is dit onverskoonbaar en speel dié vooroordele dan ’n rol as (manlike) beleidmakers beleide formuleer en implementeer en dit as “normaal” sien in die verspreiding van lewensmiddele en mag. Prof. Koopman sê vroue se nuwe gelykwaardigheid en unieke vermoëns beteken dat alle lewensterreine hulle só baie nodig het.

Dis ’n onreg teenoor vroue en die samelewing om hulle steeds te wil inperk op grond van historiese vooroordele teen vroue. ’n Gebrom om steeds Mister Macho te wil wees, het gewis nie plek binne hierdie dag en eeu nie. Netso is die aandrang op seks sonder toestemming (verkragting) – ook binne die huwelik – verraad teen die visie van menswaardigheid, heling, geregtigheid, vryheid en gelykheid van alle mense.

Dié verraad vind juis dikwels in intieme ruimtes soos die huwelik plaas. “Komaan, mans, ons moet in persoonlike, professionele en openbare verbande vennootskappe met vroue vorm om die menseregte-visie van gelyke menswaardigheid in vervulling te laat gaan. Mans moet dat vroue ons hierin lei en opstaan vir gender-geregtigheid en gelykheid. Dieselfde geld vir die huis en mans moet vroue aanvaar en respekteer vir wie en wat hulle is, dat hulle daar is op meriete,” sê prof. Koopman.

Op sy beurt sê dr. Charles Flaendorp, ’n huweliksberader en VGK predikant, ’n man leef nog in die steentydperk as hy steeds glo dat vroue net in die kombuis hoort. Volgens hom is vroue nou ten volle deel van die arbeidsmag, deur selfbemagtiging en omdat die man se salaris nie meer alleen die huishouding kan dra nie. Dít terwyl die vrou steeds kinders moet baar, hulle opvoed, die liefdesvuurtjie stook en optree binne die gesin en die samelewing waar mans nog die trom (wil) slaan.

Volgens dr. Flaendorp móét die man in sulke ongelyke verhoudings ’n kopskuif maak, want soms lyk dit asof hy nie sy Bybel reg lees oor die konsep “verhoudings” nie. “Genesis 2:18 sê duidelik: ‘Verder het die Here God gesê dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat by hom pas, sy gelyke.” Hy gaan voort: “Nêrens staan dit dat die vrou onderdanig moet wees en die man ’n reg tot groter sê in die verhouding het nie.

As die Nuwe Testament sê dat die man die hoof is van die huis, beteken dit nie dat hy meer reg of mag as die vrou het nie.” Volgens hom is daar baie vroue wat oor ontsaglike potensiaal beskik, maar verkies om ’n lewe van afhanklikheidsindroom te lei – ’n situasie waar hulle verkies om van mans afhanklik te wees. Indien die man dan sou wegval, ly hulle aan ’n selfopgelegde bevriesing (paralysis).

“Vroue het die vermoë om hulleself te kan bemagtig. Hulle het nie mans nodig nie,” meen dr. Flaendorp. Volgens Basil Kivedo, ouddosent in sosiologie aan die Universiteit van Wes-Kaapland en voormalige lid van die Wes-Kaapse Wetgewer, het die Covid-19-pandemie verder die kwesbaarheid van vroue uitgewys.

“Dit is daarom sleg dat gemeenskappe gesinsgeweld en spesifiek geweld teenoor vroue al as ’normaal’ beskou, terwyl dit ons mans eintlik slapelose nagte behoort te gee. Soms lyk dit ook asof mans eerder baie nutteloos voel oor hul verlies aan aansien in die huishoudelike hiërargie, veral as hulle nie meer kan versorg nie, weens werkloosheid, onder meer. Dan word daardie opgekropte frustrasie op die meer weerlose teiken, die vrou, gemik,” sê Basil.

Volgens hom is sulke mans arm aan vaardighede om konflik sinvol op te los, en is geweld volgens hulle die enigste antwoord. “Die ongelykheid tussen mans en vroue is histories vasgelê en mans is al te gewoond om vroue altyd as hul minderwaardige te beskou. Binne ryker gesinne word wel probeer om ’n gelykheid te bring, terwyl in die heel armste vlakke van die gemeenskap die vrou nog as ’n verheerlikte slaaf (glorified slave) beskou word,” sê Basil.

In die slaapkamer gaan dit net só woes, meen hy. Volgens hom is daar baie gevalle waar vroue gedwing word om intiem te verkeer (geforseerde seks) wat eintlik op verkragting neerkom”. Volgens hom word die bevryding van vroue, feminisme en die sogenaamde “Women’s Liberation” deur baie mans gevrees en is daar ’n mate van afguns en jaloesie.

“Vroue wat ook nog meer as hul mans verdien, plaas hul mans onbewustelik in ’n minderwaardige posisie as voorsiener van die gesin. Geld en mag is baiekeer sinoniem. Baie mans beskou dit as vernedering as hul vroue hulle byvoorbeeld sakgeld en petrolgeld moet gee,” verduidelik Basil.

Bemagtig vroue

Volgens Quinton Adams (The Schackbuilder), opvoedkundige sielkundige, behoort daar in ’n beskaafde land nooit veldtogte te wees om geweld teen vroue en kinders aan te spreek nie. “Die vlak van ’n land se beskaafdheid word immers gemeet aan die manier hoe hy sy vroue en kinders (die kwesbares) behandel.”

Wessel van den Berg, navorser in geslagsgeregtigheid en transformasie by Sonke Gender Justice, sê wêreldwyd doen vroue die meeste huishoudelike werk en kindersorg. Nie veel het dus verander nie. Geld kan ook gebruik word as ’n vorm van geweld om ander wat afhanklik is van jou af te knou of af te pers. Dis hoekom ekonomiese bemagtiging van vroue ’n belangrike deel is van geweldsvoorkoming, benadruk Wessel.

“Ons woon in ’n samelewing waar mans nie verantwoordbaar gehou word vir ouerskap nie. Die regering kan baie beter doen om afhank-like enkelma’s te ondersteun, want tans word dit van die ma verwag om ’n hofsaak te loods en te dryf, sonder enige geldelike ondersteuning,” sê Wessel.

Vir Jody Hendricks, ’n RSG-aanbieder, is die uitdagings wat vroue in die gesig staar onveiligheid en ekonomiese afhanklikheid. Volgens hom weet baie vroue nie waar om hulp te kry as hulle onveilig voel nie. Hy het ’n selfoon-app genaamd Safe- havenSA ontwikkel sodat vroue wat onveilig voel, maklik plekke van veiligheid kan vind.

“Die polisie en die regsprosesse ondersteun nie altyd mishandelde vroue ten volle nie. Mans én vroue moet geslags-geweld aan die groot klok hang en die slagoffer ondersteun,” sê Jody. Hy het grootgeword in ’n gemeenskap waar geslagsgeweld ’n realiteit vir baie vroue was. “Mense het geweet wie is die vroue wat deur hul mans geslaan word, maar baie min is gedoen om dit te stop. Die land het mans se stemme nodig wat teen hul vriende sal opstaan wat hulle aan geslagsgeweld skuldig maak. Ons benodig gemeenskappe wat vroueslagoffers ondersteun en nie stigmatiseer nie,” sê Jody.

In sy navorsing vir sy app het Jody juis gevind dat van die redes hoekom vroue in abusive relationships bly, is omdat hulle ekonomies afhanklik van die man is, van hul gesinne vervreemd is, en dus meer abuse word. “As sy haar eie geld gehad het, sou dit dalk makliker gewees het om die verhouding te verlaat,” sê Jody.

Maar met al die uitdagings wat vroue in die gesig staar, is daar tog lig op die horison. Volgens dr. Flaendorp het die Wet op Mediasie (bemiddeling) in 2020 in werking getree. So, in plaas van hof toe gaan, kan die pa en die ma van die kind(ers) by die hof aansoek doen vir mediasie sodat hulle direk met mekaar kan onderhandel oor die onderhoud. Dis ’n vinniger, kostebesparende opsie en ’n meer mensliker benadering en hulle bly gebind aan wetlike vereistes en bepalings van onderhoud.

Die Grondwet het ook reeds vir vroue daardie regverdiger geleenthede geskep en vroue moet self vir hulle regverdiger geleenthede toe-eien. Dis die vertrekpunt. Indien dit van hulle ontneem word deur mans, is daar vroueregte-organisasies en bepaalde wette wat aan hulle kant is. Maar duidelik lê daar nog baie harde werk voor – vir vroue én mans . . . *Julian Jansen is ’n joernalis by Rapport en skrywer van die boek Seuns Sonder Pa’s.

Foto: Gallo Images/Getty Images

Meer oor:  Verhoudings  |  Kuier  |  Geslagsgelykheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.