Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Gesonde gees: Pasop as winter blues jou bekruip
22 Julie 2021


Het ons sowaar in ’n donkerwolk-nasie ontaard? Ongelukkig voel dít soos die beste beskrywing denkbaar vir die huidige stand van sake – amper asof ons nooit weer die reënboog sal sien nie. Sommige Suid-Afrikaners praat selfs van die aanloop tot die oordeelsdag . . .

En net wanneer jy dink die sonstrale breek deur, kom daai donderwolke maar net weer terug om ons siele opnuut te kom vertroebel. Dit voel asof die wêreld chaoties geword het en jy weet werklik nie watter kant toe nie. Jy kan dit net nie ontsnap nie, selfs al wil jy. Dis ook nie asof ons skielik doemprofete of ongelowige Tomasse geword het nie.

Maar dit is geen oordrywing dat dit vir baie van ons voel hierdie winter se reën drup regdeur tot in ons siele nie. En dít is glad nie ’n lekker gevoel nie. Die gevreesde derde vlaag is hier en ons is alweer terug by level 4.

Dis sowaar ons tweede winter tydens die voortslepende pandemie en ’n mens weet nie wanneer beurtkrag weer gaan toeslaan nie. Jy voel skuldig en paranoïes as jy saam met jou mense kuier en daarby is jy te bang om jou bejaarde ouers te soengroet of druk – sê nou jy is asimptomaties en maak jou geliefdes siek? Oral hoor jy gissinge oor presies dieselfde goed – die onsekere tye, die entstof-roll-out, oor diegene wat weier om dit te neem en dat dit nie gou genoeg gebeur nie. Jy lus nie eens meer vir nuus kyk nie en van die storie-aandraers en beterweteriges wil ’n mens nie eens praat nie.

Hanteer stres

Ons land se mense gaan sedert die begin van die pandemie gebuk onder ellende en jy het al lankal opgehou tel hoeveel besighede in hierdie vreemde tyd gesneuwel het, hoeveel mense gesterf het. Die wolke trek na dese só dig oor ons en dit lyk byna pikdonker. En, dieselfde gedagtes maal oor en oor deur jou kop: hóé het ons hier gekom? En hóé gaan ons hier uitkom?

Maar, voel dit bloot nou erger omdat ons dalk winter blues beleef? Of het die pandemie-uitputting ons almal in ons tjops? Oral waar jy kom, hoor jy dieselfde ding wanneer jy oor mense se welstand uitvra. Moeg en keelvol, dís die algehele gevoel.

Elke liewe een is in die ons-sal-maar- moet-kyk-en-sien-fase. Almal sê “ons moet maar hoop en bid dit raak beter”. Niemand is meer seker van enigiets nie. En bowenal het g’n mens dié ding sien kom nie. Dit voel sowaar asof jy ’n movie kyk, want dit wat ons nou beleef, is nie iets wat ons ooit kon raai, ons sou tref nie. En ja, dit maak ’n mens skoon bad luck, soos die oumense sou sê. En dis nie net jy wat só voel nie.

Dis jy, die wêreld én sy maat. Dr. Henk Gous, berader en predikant van Roodepoort in Gauteng, slaan die spyker op die kop wanneer hy na hierdie algehele gevoel onder mense verwys as die too-much-too-long blues. Dit was inderdaad te veel en te lank. Die langste movie ter wêreld. “Winter speel eintlik maar deesdae ’n baie klein rol,” sê Henk. “Die stres en swaarkry is steeds die gewone swaarkry in sy volle verskeidenheid. Die langdurige inperking en finansiële druk is beslis bykomende faktore. Maar, kumulatiewe stres moet ook in ag geneem word.

My boek Breekpunt fokus juis hierop. Enkelstresfaktore se impak word enorm vergroot deur die kumulatiewe impak van ’n verskeidenheid van ander stressors.”

Hoofsaak vir Henk is: Identifiseer jou stres, sien dit raak. En dan vra jy jouself: hoe gaan ek dit hanteer sodat dit my nie knak nie? Henk sê Breekpunt fokus op lewenskrisisse wat hy glo ons almal op een of ander tyd sal tref.

“Die vraag is: Wat gaan ek doen dat dit nie my na ’n breekpunt toe vat nie, maar liewer ’n groeipunt? Hoe gaan ek wysheid kry sodat dit my sterker maak? Want verkeerde hantering van lewenskrisisse breek jou en dan verdwyn jou lewensvreugde.”

En net jy kan daai keuse maak, want elke dag gaan een of ander tyd sy moeilikheid bring, en dit verg dan ’n gepaste reaksie, sê Henk in sy boek. “Die gepaste reaksie is ’n reaksie wat in verhouding is met hoe groot die moeilikheid is, nie te veel nie, nie te min nie. Môre se stres of bekommernis is nodig vir môre, en moet nie al vandag wakker gemaak word nie. Fokus op vandag se situasies.”

Hy sê stres, as jy dit net eers raaksien, laat jou dan besef jy moet gaaf wees met jouself. “Ek moet myself deernis gee sonder verskonings. Ek dra die pyn, ek is nie sonder rede moeg of moedeloos nie, maar hoe dra ek my pyn?” Net jy sal ’n kopswaai moet maak, voeg Henk by. “Jy sal maniere moet vind om kop bo water te hou, want dis nie die omstandighede wat jou stresvlak bepaal nie, maar die feit dat jy magteloos en buite beheer voel wat jou stresvlakke verhoog.”

Sy hou gewoonlik van winter, sê die entrepreneur en eienaar van Suzie’s Coffee Shop, Suzie Mathys (69) van Kuilsrivier in die Kaap. En nee, sy dink nie ons beleef noodwendig winter blues nie. “Dis die Covid-storie wat ’n mens depressed en angstig maak, en ook die stories rondom die entstof. Dan is daar ook daai groepe op WhatsApp wat al die negatiewe nuus versprei en mense laat vrees. En jy hoor deesdae oral van die of daai wat siek is of gesterf het.” Om positief te bly, is jou eie besluit, sê Suzie.

“Ek gaan stap met my skoonsus of man om ten minste oefening te kry en ek drink elke dag wille als om my immuunstelsel op te bou. En daar is sosiale media wat help dat ons in kontak met ander bly.” Haar bekommernis is hoe level 4 haar sakebedrywighede by die koffiewinkel gaan raak. “Maar ten minste weet ek dat ek op my naaldwerkvaardighede kan terugval om kop bo water te hou, indien dinge erger raak. Dit is ’n tawwe tyd om te survive, maar ek as gelowige mag en wil nie moed opgee nie.”

Angs oor baie goed

Anton de Wee* (30) van Pretoria werk in die geestesgesondheidsveld. Hy praat onder ’n skuilnaam omdat sy werk nie toelaat dat hy met die media praat nie. Maar hy deel tog sy gevoelens: “Vergaderings met kollegas word via Teams gedoen en dus is ’n mens glad nie meer in direkte kontak met ander mense nie, behalwe dalk net jou eie familie. Die moderne mens benodig die daaglikse kontak met ander mense. Ons was nie gemaak om in isolasie te lewe nie. “Elkeen van ons het ’n doel nodig – die inperking laat ons toe om by die huis te bly en in pyjamas te werk en heeldag net te sit en vet te raak. Ons kan nie vir mekaar gaan kuier of ’n koffie gaan drink nie. Die impak van alles maak dat baie mense om ons net nie kan cope nie. Party mense raak depressief en verloor hoop. Veral die mense wie se inkomste van hulle af weggevat is. Ek is dankbaar dat ek elke dag ’n rede het om op te staan en kan aangaan met my werk.”

Volgens Anton leef ons ook in konstante angs in die land. “Dis nie net die angs van die pandemie nie, maar angs vir jou veiligheid. Angs vir jou lewe. Angs vir jou stabiliteit, jou inkomste. Angs of jy krag gaan hê. Angs oor ’n tekort aan basiese behoeftes. Ons is ’n land wat in ’n konstante trauma lewe. Dit hou net nie op nie. Die mense van Suid-Afrika is moeg gesukkel, moeg gestres.

Maar op ’n ligter noot vind ek dat die inperking ons ook ’n kans gee om weer daai ou boeke en CD’s uit te haal en weer daarna te luister of te lees – dis goeie medisyne vir die siel. Ons moet net gewoond raak aan ons nuwe normaal en dit aanvaar. Môre lyk dit dalk anders.” Danie van Wyk, uitvoerende voorsitter van die DAK Netwerk in Kaapstad, sê die pandemie gaan nie sommer maklik lê nie.

Jy sal maniere moet vind om kop bo water te hou, want dis nie die omstandighede wat jou stresvlak bepaal nie, maar die feit dat jy magteloos en buite beheer voel wat jou stresvlakke verhoog.

“Die effek daarvan word internasionaal ervaar en het sommige ekonomieë so erg aangetas dat dit swaar sal wees om daarvan te herstel. Die onsekerheid wat met die pandemie gepaard gaan, veroorsaak groot spanning en depressie. Jou kanse op ekonomiese herstel nadat jy jou werk verloor het asook die verlies aan inkomste het ’n vernietigende effek op mense se bestaan.”

Danie meen dit als lei tot ’n toename in selfdood, want mense sien geen uitkomkans nie. “Hierdie ramp wat ons in die oë staar, is iets nuuts. Samesweringsteorië dat entstowwe nie werk nie en van die bose is, dra grootliks by tot hierdie toestand onder baie mense. Ek het my laat inent, want dit is die verantwoordelike en regte ding om te doen. Die entstowwe kan nie die pandemie genees nie, maar die oordrag daarvan vertraag. Waarom die vrees as jy ingeënt is teen masels, pokkies, pampoentjies, tuberkulose en polio?

Die Covid-19-inenting maak dit nie anders nie. Daar rus ’n plig op elkeen van ons om ons te laat inent. Oor die algemeen voel ons so morbied oor daardie onsekerheid wat met die pandemie gepaard gaan. Mense se oorlewing is op die spel. Ook die feit dat ons nie mekaar fisies kan besoek nie. Die mens is ’n sosiale wese. Dit maak dit so erg.”


Effek op jou liggaam

Maar moenie die winter blues heeltemal weggooi nie, sê die Johannesburgse lewensafrigter Heidi Mollentze. Dit het ook ’n uitwerking op hoe ons liggame reageer. “Dit word algemeen aanvaar dat winter blues, ook bekend as seisoenale depressie, veroorsaak word deur korter dae en minder daglig. Mense se sirkadiese ritmes word gevolglik omvergewerp. Hoewel ons in Suid-Afrika steeds relatief baie son in die winter kry, blyk die bietjie minder sonlig tog ’n negatiewe effek op mense te hê. Daarmee saam, is ons geneig om minder aktief te wees in die winter, so ons liggame stel minder ‘happy hormones’ soos endorfiene en dopamien vry. Ons is ook geneig om tydens die wintermaande te ooreet, wat ons traag en lui maak en skuldig en nutteloos laat voel.”

Maar winter blues tesame met die Covid-19-pandemie, kan erg aftakelend wees, sê Heidi.

Ons is ’n land wat in ’n konstante trauma lewe. Dit hou net nie op nie. Die mense van Suid-Afrika is moeg gesukkel, moeg gestres.

Sy meen die pandemie is iets nuuts vir ons almal en ons is bang vir wat die toekoms kan inhou. “Daar is soveel stories oor die entstowwe, en mense weet nie of hulle moet inent of nie. Mense deur die bank is omring deur vriende en familie wat al Covid-19 opgedoen het, of hulle het self die virus onder lede. Gauteng se hospitale is oorvol, en dit voel asof almal so baie op Covid-19 fokus, dat mense met ander siektes soos byvoorbeeld diabetes, of kanker net verlore en vergete geraak het binne die draaikolk van die pandemie.

Boonop was ons regering se planne met die verkryging en verspreiding van die entstowwe, betreurenswaardig. As ’n mens na die sameloop van al hierdie omstandighede kyk, is dit geen verrassing dat so baie van ons Suid-Afrikaners hierdie jaar aan erge winter blues ly nie.”

Dus kan ’n mens die ding só sien: as ons nie ná dese meer van onsself geleer het nie, sal ons nooit nie. En ja, dit maak sin dat ons moet belê in self-liefde, maar nie op ’n Jannie Jammergat-manier nie.

Dis juis nou tyd dat ons na mekaar en onsself moet omsien, mekaar moet koester en waardeer. Dis ook waar dat ons deur die bank fragile is, dalk selfs oorsensitief. Ons wip ons alte gou vir kleinighede van die lewe, maar dis seker omdat almal tot ’n mate gefrustreerd en onseker is. En, dis ’n feit soos ’n koei dat almal bang is, soos nog nooit tevore nie.

Dalk is dit nou die tyd dat ons almal sal saamstaan in die hoop dat die onweerswolke wat oor ons hang, eendag ook weer sal verdwyn – sodat ons weer eendag letterlik sal kan saamstaan, weer sal kan handevat. Dat ons weer mekaar kan drukkies gee – lang drukkies, lekker drukkies, omgee-drukkies. Want, in ’n tyd soos nou, is dit juis dít waarna ons siele die meeste hunker.

*Skuilnaam Haidee Muller-Isaacs is ’n RSG-omroeper en -regisseur.


Raad van ’n lewensafrigter

• Kry genoeg slaap. Sewe tot nege uur per nag. Gaan slaap so vroeg voor middernag (00:00) as wat jy kan. Sodoende kry jy slaap van beter gehalte.

• Maak seker jy kry elke dag die son op jou vel. Gaan stap buite sodat jy jou vitamien D direk van die son kry. Aanvullings vir vitamien D is eenvoudig nie goed genoeg nie. Dit werk die beste as jy dit direk van die bron kry. Vitamien D gee jou immuunstelsel ’n hupstoot, hou jou energievlakke hoog en verbeter jou gemoedstoestand.

• Eet gesond. Veral hierdie winter. Kry genoeg gesonde vette, proteïen en baie groen groente in. Vermy stysels soos aartappels, brood, rys en pasta. Stysels word in sommige inrigtings gebruik om die pasiënte te kalmeer of te beheer omdat dit jou lui en traag laat voel as jy dit geëet het.

• Doen aktiwiteite waar jy beweeg. Dis ononderhandelbaar. Beweeg jou liggaam soveel as wat jy kan. Jy hoef nie noodwendig by ’n gym aan te sluit nie. Doen eenvoudige goed soos stap om die blok. Parkeer ver van die winkel se ingang af sodat jy ’n entjie verder moet loop om jou inkopies te doen. Speel buite met jou hond, doen tuinwerk of maak die huis skoon.

• Moenie jouself geheel en al isoleer nie. As jy nie by vriende of familie kan uitkom nie, maak ’n video-oproep of selfs net ’n gewone oproep. Die interaksie (al is dit deesdae anders) met mense wat jou verstaan en vir jou omgee, is ongelooflik belangrik.


Raad van ’n psigiater

Die pandemie het ons almal hard getref – die langdurigheid daarvan en veral die impak op ons lewensomstandighede (inperkings, isolasie, verlies van lewens, finansies, werk, verhoudings) asook die direkte impak van die virus op die individu se algehele gesondheid (fisies en psigies) het verseker sy tol geëis, sê die Kaapse psigiater, dr. Charnotte Gabriels.

“Met hierdie derde vlaag is die impak merkwaardig, veral op ons geestesgesondheid – nie net vir die wye publiek nie, maar ook vir diegene wat aan die voorgrond van die pandemie is,” meen dr. Gabriels.

“Depressie en angssteurings was reeds voor die pandemie algemene psigiatriese toestande wat baie mense se funksionering en kwaliteit van lewe negatief geaffekteer het. En nou, meer as ooit tevore, affekteer depressie, angs en stres baie mense se lewens en dit is belangrik om te weet wanneer die stres wat jy ervaar nadelig is vir jou gesondheid, waarvoor jy op die uitkyk moet wees en hoe om dit te hanteer.” Reik uit na jou geliefdes waar jy kan, want jy is nie alleen nie, sê dr. Gabriels.

“Praat met iemand oor hoe jy voel, maak kontak met professionele mense/kenners (huisdokter, geestelike leier, berader, klinieksuster, sielkundiges, psigiaters) vir verdere hulp.

“Dit is belangrik dat jy deurlopend jou algehele gesondheid beskerm, nie net deur streng Covid-19-regulasies toe te pas nie, maar ook om beskermend te wees teenoor jou geestesgesondheid – bewus te wees van jou gedagtes en emosies oor jouself en die wêreld om jou en hoe jy daarop reageer.”

Haar raad is om balans toe te pas in terme van jou gesondheid (slaappatroon, eetgewoontes, ontspanningsaktiwiteite) – ook wat werk, familie en verhoudings aanbetref. “Die hoop is dat die pandemie eendag sal eindig en dat ons almal vanweë dié swaarkry wat ons tans ervaar ook ons veerkragtigheid (resilience) sal opbou.

Dit is hoekom ons dit ons prioriteit moet maak om te leer hoe om deur hierdie swaarkry te kom en nie dit te probeer omseil of ignoreer nie,” voeg dr. Gabriels by. Vir hulp en ondersteuning kontak die Suid Afrikaanse depressie-en-angs-groep by sadag.org; 076 882 2775 (WhatsApp); of bel 0800 456 789.

* Foto’s: Gallo Images/ Getty Images

Meer oor:  Kuier  |  Winter  |  Covid-19  |  Geestesgesondheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.